19 APRIL
November 1, 2016
21 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Wakkerstroom, Dewetsdorp; Swartkoppiesfontein, Boshof, OVS.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Moosrivier, Tvl.

 

Geboortes

1874 – Jack Hindon, Boereverkenner tydens die Anglo-Boereoorlog († 19 Maart 1919)

Oliver John (Jack) Hindon is in Skotland gebore waar hy in diens van die Britse leër getree het. Hy kom op jeugdige leeftyd na Suid-Afrika om in Zoeloeland diens te doen, maar dros weens swak behandeling. Baie gou het hy hom met die boere in die ZAR vereenselwig en verkry volle burgerreg deur sy vrywillige deelname aan die veldtog teen Jameson (1895). Hy tree daarna in diens van die ZAR-polisie en neem sodoende deel aan talle veldslae tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy onverskrokkenheid het onmiddellik opgeval en in Junie 1900 word hy lid van Danie Theron se verkennerskorps. Na sy bevordering tot hoof van sy eie Veg- en Verkennerskorps wat belas was met die ontwrigting van die vyandelike verbindingsweë, ingesluit van hul spoorweglinies, het hy en sy manskappe ’n verskrikking vir die Britte langs die Ooster-spoorlyn geword. Hulle het ook talle suksesvolle klopjagte uitgevoer op Bantoes wat Boeregesinne aangeval het. Sy vernuf en vreeslose meelewing in die Afrikaner se stryd het aan hom ’n ereplek in die volk se heldegalery besorg. Met die aanvang van die vredeskonferensie in April 1902, het hy op advies van lede van die Regering om hom met die vyand te versoen ten einde Britse onderdane in sy korps van vervolging onthef te kry, na die Engelse oorgeloop wat aan sy eise toegee en hom bowendien ’n loon van 12 sjielings (ongeveer R1,20) per dag betaal het. Die Boere het hy nogtans geen kwaad berokken nie. In 1970 word die beroemde Boereverkenner vereer met die instelling van die Jack Hindon-medalje vir buitengewoon ywerige en voortreflike diens in vredes- en oorlogstyd deur manskappe van kommando’s van die SA Weermag. Op die voorkant van die medalje is daar ’n reliëfafbeelding van Hindon en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur tydens die slag by Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde wapen van die RSA in reliëf. Na die Anglo-Boereoorlog vestig hy hom as bou-aannemer in die VSA, maar keer later terug na die Republiek waar hy op 19 Maart 1919 in Pretoria sterf.

1922 – Nicolaas Georg (Klaas) Steytler, skrywer en voormalige redakteur van Die Huisgenoot († 27 Augustus 1997)

Klaas Steytler was ’n skrywer, wat veral misdaad- en speurverhale geskryf het. Hy debuteer onder die naam NG Steytler, maar verskeie van sy werke verskyn onder die skuilnaam Jan Harmse.

1927 – Jan Christiaan (Chris) Heunis, politikus en hervormer († 27 Januarie 2006)

Chris Heunis was ’n regter, politikus, lid van die Nasionale Party en kabinetslid in die regering van John Vorster en PW Botha.

1940 – Nic Swanepoel, radio-uitsaaier en TV-nuusleser († 29 September 1998)

 

Sterftes

1973 – Dr. SPE Boshoff, ’n bekroonde Afrikaanse akademikus, skrywer en taalpatriot (* 1891)

Stephanus Petrus Erasmus Boshoff is op 14 Julie 1891 op Vaalbank, Senekal, gebore. As taalgeleerde en kultuurleier, het hy ’n lewe van diens aan die Afrikanervolk en -kultuur gewy. Die lys van prestasies wat hy behaal het, is indrukwekkend. In 1922 promoveer hy in Amsterdam met lof op ’n proefskrif Volk en Taal van Suid-Afrika. Jare lank was hy hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die universiteite van Potchefstroom en Kaapstad, Direkteur van Onderwys in Transvaal, akademiese hoof van ’n korrespondensiekollege en voorsitter of lid van tientalle rade en kommissies. Sy betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan hy voorsitter sou word, begin reeds in 1922 toe hy benoem word as lid van die Taalkommissie, ’n taak waaraan hy hom ’n halfeeu met nougesette ywer gewy het. In 1925 word hy deur die Akademie benoem as taaladviseur vir die Bybelvertaling, waarby hy jare lank pleit vir die eenvoudige, suiwere en funksionele gebruik van die Afrikaanse taal. Een van sy grootste prestasies was sy werk as direkteur van die Vaktaalburo van die Akademie. Ondertussen het daar talle artikels uit sy pen verskyn, veral in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. Sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur is by verskeie geleenthede deur die Akademie bekroon, o.m. deur ’n erepenning in 1932 vir dienste met die eerste amptelike Bybelvertaling in Afrikaans, deur die Stalsprys vir taalkundige bydraes in 1959 en weer eens in 1967 vir sy Afrikaanse Etimologieë, waarvan prof. GS Nienaber die mede-outeur is. In 1963 is die hoogste eerbewys van die Akademie aan hom toegeken, nl. Erelidmaatskap. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/