1 OKTOBER
October 1, 2015
3 OKTOBER
October 3, 2015

Gebeure

1925 – Eerste uitgawe van Die Volksblad, as dagblad, verskyn

Die Volksblad is die oudste onder ons Afrikaanse koerante. Sy geskiedenis strek terug tot 18 November 1904 toe ’n weekblad Het Westen op Potchefstroom verskyn het. Die eienaar en stigter was ’n banneling van St Helena, Hendrik de Graaff. Hy het daarna gestreef om ’n verarmde en ontredderde volk tot “politieke aktiwiteite en nasionale bewussyn” aan te spoor. In 1909 word dit ’n halfweeklikse koerant. Met die Rebellie en die stigting van die Nasionale Party was die koerant al so gewortel in die volkshart dat dit op 26 Maart 1915 Het Volksblad geword het. Op aandrang van genl. De Wet en genl. Hertzog is dit van Maart 1916 in Bloemfontein uitgegee. In 1917 koop die Nasionale Pers die koerant. As amptelike spreekbuis ondersteun die blad die Nasionale Party in sy stryd teen die ou SA Party, voer ’n kwaai verkiesingstryd en beleef ’n bloeityd onder mnr. AJ Werth van 1922 tot 1925 as redakteur. Genl. Hertzog neem in 1924 die bewind oor – en die ideaal van 1920 om dit ’n dagblad te maak, word in 1925 verwesenlik, met dr. AJR van Rhijn as redakteur. Dit is weer Die Volksblad genoem en het soggens verskyn tot 29 Julie 1933 toe dit ’n middagkoerant geword het.

1934 – Volkskongres oor Armblankevraagstuk

 

Geboortes

1857 – Marthinus Theunis (MT) Steyn, sesde en laaste president van die Vrystaat († 28 November 1916)

Net drie jaar jonger as die Oranje-Vrystaat, sou Steyn saam met hierdie republiek grootword. Marthinus Theunis Steyn is op 2 Oktober 1857 by Rietfontein, digby Winburg, gebore. Soos feitlik alle Vrystaatse seuns van daardie tyd, sou hy gaan boer, maar op aandrang van regter Buchanan, ’n huisvriend van die gesiene Steyns, besluit hy om hom in Nederland en daarna in Engeland in die regte te bekwaam. Na sy terugkeer, bou hy ’n florerende praktyk as advokaat in Bloemfontein op, en met die rondgaande hof ontmoet hy vir Rachel Isabella (Tibbie) Fraser, pastorie-dogter van Philippolis, met wie hy in 1887 getroud is. In 1889 aanvaar hy die benoeming as staatsprokureur en word in dieselfde jaar as tweede strafregter en in 1892 as eerste strafregter aangestel. Toe president FW Reitz om gesondheidsredes as Staatspresident bedank, word Steyn as die Volksraad se kandidaat benoem en as ’n vurige en oortuigende republikein met ’n oorweldigende meerderheid bo JG Fraser verkies. Met ’n indrukwekkende inhuldigingsrede in die historiese Tweetoringkerk op 4 Maart 1896, gee hy ’n verreikende visie aan die Afrikaner se taak as republikein. Allereers moes die Vrystaat in alle opsigte tot ’n modelrepubliek verder uitgebou en versterk word, sodat dit in ’n groter eenheid met die ZAR nie as mindere nie maar as gelyke kon toetree. Met hierdie ideaal van ’n versterkte Boererepubliek moes daar in die toekoms in die rigting van ’n verenigde SA gewerk word, waarin Afrikaans- en Engelssprekende tot heil van Suid-Afrika moes saamwerk. Daarmee het Steyn die grondgedagte omlyn wat generaal Hertzog as Suid-Afrika eerste! sou formuleer en het hy ook die weg na die uiteindelike republiekwording van Suid-Afrika aangedui soos dit onder advokaat JG Strijdom en doktor HF Verwoerd verwesenlik is. Juis die wyse waarop hy die Vrystaat op politieke, ekonomiese, pedagogiese en kulturele vlak in sy kortstondige vredestydperk van sy staatspresidentskap versterk het, het selfs die Transvalers na hom laat opsien as die toekomstige leier van die verenigde twee republieke. Deur sy toedoen was die twee state reeds ver op weg na vereniging gevorder toe die oorlog in 1899 uitbreek en dit verhinder. Steyn het al sy kragte ingespan om die oorlog af te weer, maar toe dit blyk dat die imperialistiese nagshonger van ’n Chamberlain en ’n Milner nie te keer is nie, was dit hy wat die Vrystaters besiel het om trou aan hulle verbond en erewoord aan Transvaal te wees en hulle lot by hul broeders oorkant die Vaal in te werp. Waar die gety dikwels in die loop van die oorlog teen die Republieke gekeer het, was dit Steyn wat hulle deur daad en voorbeeld gemaan het om trou te wees. Dit was hy wat hulle die betekenis van die stryd getoon het: die stryd was ’n smeltkroes waarin die Afrikaner gelouter sou word – ’n skeiding van troues en ontroues, van hensoppers en bittereinders. As sommige burgers telkens wil moed opgee en vrede sluit, is dit Steyn wat vasstaan, en hy word in der waarheid die siel van die ganse vryheidstryd. Soos ’n gewone burger sou hy die stryd tot die einde in die veld meemaak en dikwels sy laaste korsies brood aan ander uitdeel. Toe die onvermydelike kom, was hy reeds ernstig krank en kon hy aan die vredesonderhandelinge feitlik geen deel hê nie. Deur selfs sy presidentskap neer te lê, kom hy ’n troue belofte na om nie sy hand op papier te sit wat die Oranje-Vrystaat se onafhanklikheid sou wegteken nie. Teen alle mediese advies in, neem sy eggenote hom na Europa, waar hy van ’n algehele spierverlamming sodanig herstel dat hy in 1905 weer na sy geliefde Vrystaat kon terugkeer. Op sy plaas, Onze Rust, nie ver van Bloemfontein nie, sou hy nou die mees vertroude leidsman van die Afrikaners word en onder die bekende Boom van Sameswering hulle met raad en daad bystaan om hul politieke en ekonomiese herrysenis te verseker. Op onderwysvlak steun hy die CNO-beweging en is hy die vader van die bekende Oranje-meisieskool in Bloemfontein; hy bepleit die opheffing van die armblankes; hy steun elke poging om die Afrikaner se taal en kultuur te versterk en is een van die stigters van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Aan die politieke front steun hy die stigting van die Oranje-Unie, is hy ’n hoog gewaardeerde lid van die Nasionale Konvensie en sou hy waarskynlik Suid-Afrika se eerste premier geword het as sy gesondheid dit toegelaat het. Met die politieke skeuring in 1912 steun hy generaal Hertzog, en ook tydens die Rebellie lê sy simpatie by generaal De Wet en die protesterendes, hoewel hy ernstige pogings aangewend het om die broedertwis in Afrikanergeledere te voorkom en te heel. Deur sy toedoen is die Nasionale Vrouemonument opgerig en op 16 Desember 1913 onthul. Min kon hy besef dat hy die eerste sou wees wat in die skoot sou rus van hierdie monument wat hom so na aan die hart gelê het. Terwyl hy die Oranje-Vrouevereniging in die Gedenksaal toegespreek het, het hy aan beroerte beswyk.

1910 – Hymne Weiss, vertaler en skrywer van novelles en kortverhale († 6 Oktober 2001)

Weiss word gebore in Rouxville. Haar vader het daar in sy eerste beroep gestaan. Hymne het haar naskoolse studie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, waara sy op Standerton en Graaf-Reinet onderwys gegee het en by verskeie geleenthede waargeneem het as dosente in Afrikaans-Nederlands aan die Stellenbosse Universiteit. As skryfster het sy verskeie romans, kortverhaalbundels en essays die lig laat sien. Terwyl sy ook vertalings uit Duits, Sweeds, Noorweegs, Deens en Nederlands gedoen het. Die Suid-Afrikaanse Akademie het haar in 1957 bekroon vir vertaalde werk.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/