1 NOVEMBER
November 1, 2015
3 NOVEMBER
November 3, 2015

Gebeure

1824 – Eerste sinode in Kaapstad gevorm

In 1806 is die politieke bande tussen Nederland en die Kaap beëindig. Hierdie gebeurtenis het ’n diepgaande invloed op die Kaapse Nederduits Gereformeerde Kerk uitgeoefen, want benewens die opleiding en verkryging van predikante uit Nederland, het die Kaapse Kerk onder die toesig van die klassis van Amsterdam gestaan. Die angliseringsbeleid van die Britse owerheid het die posisie van die Kerk verder beïnvloed. Die toestand kon nie voortduur nie, en dit was met die oog op die beëindiging daarvan dat die drie leraars van die gemeente Kaapstad op 19 Junie 1824 by lord Charles Somerset, op grond van artikel 46 van JA de Mist se Kerkorde van 1804, aansoek gedoen het om “eene Synode bijeen te roepen van alle de Leeraars der Hollandsche Gereformeerde Kerk”. In hulle versoekskrif aan Somerset beklemtoon hulle die feit dat die Kerk voor die oorname van die Kaap onder die toesig van die Amsterdamse klassis gestaan het, maar sedertdien aan hulleself oorgelaat is. Toestemming is verleen, en op 2 November 1824 het die eerste Sinode vergader. Dit was ’n byeenkoms van openbare belang, en die pers het dit omvattend met beriggewing gedek. Twaalf van die veertien gemeentes was teenwoordig. Die oudste leraar, ds. Meent Borcherds, toe reeds 40 jaar in sy amp, het die openingsrede gehou na aanleiding van Handelinge 26:22. Dit was ’n keerpunt in die geskiedenis van die Kerk en volk. Die rede van die praeses, voorsitter of moderator, dui daarop. Hy het sy verkiesing aanvaar as “inboorling van dit land” en onderneem om die “beraadslagingen” te lei “belangens van de Gods Kerk in deze Volksplanting”. Een van die eerste take van die Sinode was om die Kerk behoorlik te organiseer en ondanks die feit dat selfs die kerklike bande met Nederland verbreek was, wou hulle hulle so nou moontlik aansluit by die wyse waarop die Kerk in Nederland georganiseer is. De Mist se Kerkorde, wat buite die Kerk opgestel is en nie getrou was aan skriftuurlike uitgangspunt nie, het die taak van die Sinode bemoeilik. Die Kerk sou hom egter nie van sy Gereformeerde kerkreg en die Kerkorde van Dordt (1618/19) laat vervreem nie. In sy onderlinge oorlegpleging het hy al meer en meer sy bestaansreg opgeëis, sy orde na die Skrif verantwoord en hom geïdentifiseer met die land en die lidmate wat hy bedien. ’n Knellende staatsbeheer moes afgeskud word, ’n selfbegrip aangewend word en ’n bediening eie aan Suid-Afrika gekweek word.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by End Hill; Pietersstasie, Ladysmith

1899 – Anglo-Boereoorlog: Beleg van Ladysmith, KwaZulu-Natal. Die besetting sou tot 28 Februarie 1900 duur

Die beleg van Ladysmith in die Anglo-Boereoorlog wat 118 dae geduur het, het op 2 November 1899 begin toe die Boere die dorp omsingel en die spoorverbinding na Durban beskadig het. Britse versterkings was op pad maar is in Desember verslaan in die Slag van Colenso. Op Kersdag het die Boere ’n bomdop na die dorp gevuur wat ’n Kerskoek, twee Unievlae en ’n boodskap “Compliments of the Season” bevat het. Die dop is steeds in die museum op die dorp te sien. Genl. Redvers Buller se magte het op 27 Februarie 1900 daarin geslaag om deur die Boerelinies te breek en die beleg is die volgende dag beëindig.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Welgevonden (Vanwyksvlei), Belfast, Tvl.

 

Geboortes

1879 – Genl. Edwin Alfred Conry, Boeregeneraal en politikus († 10 Februarie 1947)

Edwin Alfred Conroy is op Hanover, Kaapland, gebore. Nadat hy hom in Desember 1900 by genl. Hertzog se troepemag aangesluit en ook gedien het in die lyfwag van pres. MT Steyn, word hy deur genl. CR de Wet as kommandant van die Kaapse rebellemag by Kakamas aangestel en later as veggeneraal. Na die vredesluiting vlug hy na Duits-Suid-Wes-Afrika en besoek ook Duitsland. In 1914 neem hy aan die Rebellie deel. In 1920 word hy vir die eerste keer tot lid van die Volksraad verkies, en hy sou in sy parlementêre loopbaan wat tot in 1943 strek, onwrikbare lojaliteit teenoor genl. Hertzog betoon. Hy is op 10 Februarie 1947 op Parys, OVS, oorlede.

1900 – Gerhardus Jacobus Badenhorst, Afrikaanse boer, landbou-pionier en nyweraar († 27 Desember  1969)

1922 – Jacob Albertus (Jaap) Marais, leie van die Afrikanernasionalisties gesinde Herstigte Nasionale Party († 8 Augustus 2000)

 

Sterftes

1664 – Maria van Riebeeck, vrou van Jan van Riebeeck (* 28 Oktober 1629)

1911 – Hendrik Carel Vos Leibbrandt, argivaris en bibliotekaris (* 31 Desember 1837)

Hendrik Carel Vos Leibbrandt is op 31 Desember 1837 in Kaapstad gebore en na sy skoolopleiding bekwaam hy hom aan die Universiteit van Utrecht as predikant. Aan die begin van 1860 word hy predikant van Victoria-Wes. In hierdie jare ervaar die NG Kerk die aanslag van die liberalisme fel. Leibbrandt was een van hierdie vrysinnige leraars, en in sy eie gemeente lei sy beskouinge tot ’n aanklag voor die ringsvergadering. Na ’n lang uitgerekte stryd kom hy en die gemeente tot ’n vergelyk: om ’n skeuring in die plaaslike kerklike gemeenskap te voorkom, het die gemeente hom versoek om die bediening neer te lê en bied hul hom £2 500 ter vergoeding aan. Leibbrandt vertrek op 25 Junie 1877 na Graaff-Reinet waar hy predikant van die Unitariërs word. Vanweë sy belangstelling in die geskiedenis, word hy in 1881 argivaris en bibliotekaris van die Parlementsbiblioteek. In 1901 is die twee poste geskei en hy word die eerste vaste argivaris van die Kaapkolonie. Hy lewer werk van onskatbare waarde en versamel en publiseer argivale werke soos: Rambles throug the archives of the Colony of the Cape of Good Hope, 1688-1700 en Precis of the archives of the Cape of Good Hope, 1651-1653. Sy publikasie “De Rebellie van 1815” is ’n hoofbron van inligting oor die Slagtersnekstryd.

1929 – Lydia van Niekerk, eerste Afrikaanse vrou wat ’n professor geword het op Stellenbosch (* 7 September 1884)

Sy is op Diepkloof, distrik Uitenhage, gebore. Lydia van Niekerk het op Bloemhof, Stellenbosch gematrikuleer. Sy lê haar doktorale eksamen in Nederland af, promoveer in 1916 met ’n dissertasie De Eerste Afrikaansche Taalbeweging en Letterkundige Voortbrengselen, wat nog redelik wyd gebruik word. Terug in Suid-Afrika doseer sy aan die Hugenote-Universiteitskollege , totdat ’n buitengewone professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch vir haar geskep word in 1920 – die eerste Afrikanervrou wat ’n professoraat beklee het. Haar studietydperke in Nederland het verruimend op haar literêre insigte ingewerk, sodat sy ’n waardevolle vergelykingsvermoë opgebou en gesaghebbend op letterkundige gebied opgetree het, veral as kritikus. Kennis van drama en belangstelling in toneelwerk bring mee dat sy opbouende kritiek lewer naas die boekbesprekings in koerant en tydskrif, waarin sy stimulerende oordeel uitspreek. Haar begrip van die Nederlandse lettere en volkskarakter blyk betekenisvol vir die studente se literatuurstudie. Haar Europese verblyf het haar in aanraking gebring met die emansipasiebeweging vir vroue. Sy word as vrouehoogleraar raadgeefster vir die Stellenbosse Vrouestudentebond, wat voorligting wil verstrek oor vroueaktiwiteite wêreldwyd; maar haar kennis van estetiese en kulturele aangeleenthede het haar sterkste invloed verteenwoordig. Sy is op 2 November 1929 in Kaapstad oorlede.

2016 – Jans Rautenbach, Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, filmvervaardiger en regisseur (* 22 Februarie 1936)

Jans Rautenbach was ’n bekroonde Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, filmvervaardiger en regisseur. Hy was die regisseur van rolprente soos Blink Stefaans, Eendag op ’n Reëndag, Pappa Lap en Jannie totsiens.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/