1 MEI
January 10, 2017
3 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1957 – “Die Stem van Suid-Afrika”, word die amptelike volkslied

Op 30 en 31 Mei 1918 het CJ Langenhoven in sy woning, Arbeidsgenot op Oudtshoorn, die woorde van die eerste drie verse van “Die Stem van Suid-Afrika” gedig en terselfdertyd ’n melodie vir die woorde gekomponeer. Albei is kort hierna uitgegee, en het ook in Die Burger verskyn onder die skuilnaam KRN. Allerweë is die woorde geprys en het die musiek kritiek uitgelok. 
Langenhoven besluit nou om ’n ope wedstryd aan te kondig om ’n geskikte melodie te verkry vir die gedig, wat intussen ’n vierde vers bygekry het. Talle komponiste, onder andere Emiel Hullebroeck, Gideon Fagan, Stephen Eyssen, Walter Spiethoff, Victor Potgieter en andere het in die loop van die volgende tien jaar hul pogings aan Langenhoven voorgelê; elkeen het in ’n beperkte kring ’n mate van bekendheid verwerf, maar nie een het werklik by die volk as geheel ingang gevind nie. 


Na ’n vroeë poging in 1919 wat nie geslaag het nie, het ds. ML de Villiers in 1921 in sy pastorie op Simonstad die toonsetting voltooi wat, afgesien van ’n paar klein veranderinge, dieselfde is as wat vandag nog gesing word. Langenhoven gee hiervoor verlof tot publikasie, en ML spring dadelik aan die werk om dit so spoedig moontlik aan die Afrikanervolk bekend te stel. 
Veral na die publieke uitvoering van die werk in die Groote Kerk, Kaapstad, in 1924, die gebruik van die melodie by die afsluiting van die daaglikse radioprogramme en die Regering se keuse van hierdie toonsetting om by die eerste vlaghysing van die nuwe Unievlag in Kaapstad op 31 Mei 1928 gesing te word, het die Afrikaner dit as iets van sy eie begin aanvaar en het dit ’n nasionale simbool begin word. 
Stukrag is aan die saak van ’n verkryging van ’n volkslied gegee deur die FAK, wat in 1931 ’n wedstryd uitgeskryf het en die inisiatief geneem het vir die belê van twee “Volkslied”-vergaderings en die aankondiging van ’n verdere wedstryd. Oor die ingestuurde gedigte het die keurkomitee eenparig Langenhoven se “Die Stem” aanbeveel, en toe die 40 toonsettings vir die gedig beoordeel moes word, het die komitee van vyf, wat twee Engelssprekendes ingesluit het, in 1937 eenparig tot ML de Villiers s’n besluit en die hoop uitgespreek dat die verdere stappe (Engelse vertaling, ens.) spoedig gedoen sal kan word om vir hierdie lied amptelike erkenning te kry as die volkslied van die Unie van Suid-Afrika. 
Met die opening van die Parlement in 1938, het genl. Hertzog hierdie toonsetting van “Die Stem” tesame met “God save the King” laat speel. In Julie 1938 besluit die Volksraad dat “… by alle formele geleenthede onder toesig van die Regering waar ‘God save the King’ of ‘Die Stem van Suid-Afrika’ gespeel word, albei gespeel sal word”. 
Na ’n mislukte poging deur dr. DF Malan in 1939 om “Die Stem” as die enigste Volkslied aanvaar te kry, breek die Tweede Wêreldoorlog uit en word die Volksliedvraagstuk op die lange baan geskuif. Dit het egter nuwe lewe gekry toe die huidige Engelse vertaling deur die Regering aanvaar is en op 5 April 1952 as deel van die Van Riebeeck-vierings in Kaapstad vir die eerste keer gesing is. (Hierdie vertaling was ’n gesamentlike poging van ’n komitee uit die 200 vertalings wat hulle onder oë gekry het.) 
In 1956 stel die Eerste Minister, adv. JG Strijdom, in die Volksraad voor “ … dat die verkryging van een vlag en volkslied as nasionale simbole ’n stap voorwaarts (sal wees) na die bereiking van die begeerde volkseenheid”. 
Op 2 Mei 1957 vervolg hy, weer in die Volksraad, dat “ … hierdie lied, ‘Die Stem van Suid-Afrika’, by Afrikaanssprekendes sowel as Engelssprekendes so diep ingewortel is dat ’n mens vandag sonder die minste teenspraak kan sê dat hierdie lied deur die volk van Suid-Afrika aanvaar is as hul Volkslied”. 
Hierdie verklaring is deur ’n voorstel opgevolg wat eenparig deur die Parlement goedgekeur is, en die land het uiteindelik sy eie amptelike Volkslied gehad. 

 

Geboortes

1891 – Sir Hesperus Andrias (Pierre) van Ryneveld, Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder en vlieënier († 2 Desember 1972)

Generaal Sir Pierre van Ryneveld was ’n militêre bevelvoerder en vlieënier. Hy was die stigtersbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

1939 – Prof. Johan Combrink, taalkundige († 25 Julie 1999)

 

Sterftes

1902 – Jan Stephanus de Villiers (Jan Orrelis), komponis  (* 15 Maart 1827)

Jan Stephanus (Jan Orrelis) de Villiers wat as die eerste Afrikaanse komponis van belang beskou word, is in die Paarl gebore. Sy eerste musiekonderwyser was die Stellenbosse (en later Paarlse) orrelis, Pieter Hugo. Vanaf 1840 het hy in Kaapstad lesse in klavier, viool, harp en orrel ontvang, waarskynlik van die bekende Kaapse orrelis Frederick Logier. In 1847 begin hy dan in die Paarl met sy werksaamhede as musiekonderwyser, komponis en, as opvolger van Pieter Hugo, orrelis van die Strooidakkerk. As uiters deeglike musiekonderwyser het hy ’n groot bydrae gelewer tot die opvoeding van die jeug, eers deur private lesse, later aan die Paarlse Gimnasium en vanaf 1872 in sy eie “Ladies Seminary”, die voorloper van die Hoër Meisieskool La Rochelle. As ywerige koorleier en orrelis (vanaf 1875 aan die afgestigte gemeente Noorder-Paarl), het hy weliswaar sterk onder invloed van die negentiende-eeuse Engelse geestelike lied, in samewerking met sy neef Rocco de Villiers, in opdrag van die Sinode gewerk aan die verbetering van die kerksang, en oratoriums (o.m. Epiphanie), orrelwerke en Psalmmelodieë gekomponeer. Sy musiek by die reeks toesprake van ds. SJ du Toit oor die Onvervulde Profesieë (1878) kan as die begin van die geestelike kantate in die NG Kerk beskou word. Verder komponeer hy ’n groot aantal geleentheidskomposisies vir verskillende vokale en instrumentale besetting n.a.v. gebeurtenisse van nasionale en internasionale belang. Aan die GRA het hy daadwerklike steun verleen en o.m. melodieë geskryf vir ’n Ieder nasie het sy land en vir Die Vierkleur. Hy was getroud met Johanna Maria Wilhelmina van der Lingen. Hulle twee dogters, Nancy de Villiers en Elizabeth (Von Willich), was in 1905 medestigters van die Konservatorium op Stellenbosch. Jan Orrelis is op 2 Mei 1902 in die Paarl oorlede. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/