1 MAART
November 1, 2016
3 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1653 – Eerste retoervloot om vars voorraad in te laai

Jan van Riebeeck se koms na die Kaap was primêr om ’n verversingspos te stig om skepe van vleis en groente te voorsien. Op Sondag 2 Maart 1653 kry Van Riebeeck berig dat daar skepe buite die ingang van Tafelbaai lê, onder meer ’t Hoff van Zeelant en die Walvis van die retoervloot. Enkele dae nadat hulle skaap- en beesvleis en onder meer kool en wortels ingeneem het, het hulle na Nederland vertrek.

1866 – Die Universiteit van Stellenbosch gestig

Die geskiedenis van die Universiteit van Stellenbosch strek terug tot in die jaar 1866 toe die openbare skool op die dorp volgens die Onderwyswet van 1865 as die Stellenbossche Gymnasium gereorganiseer is. Die aanvoorwerk vir die totstandkoming van die Gymnasium is gedoen deur proff. J Murray en NJ Hoffmeyr van die Teologiese Seminarium in samewerking met die plaaslike predikant, ds. JH Neethling. Die drie manne is dan ook as die stigters van die Universiteit van Stellenbosch bekend. Die Gymnasium het in 1881 die Stellenbosch College geword. In 1887, die jaar van die 50-jarige Jubileum van die regering van koningin Victoria van Brittanje, is die naam verander in die Victorie-Kollege van Stellenbosch. Dr. DF Malan, wat later Suid-Afrika se vierde premier sou word, het ’n groot aandeel gehad in die vervanging van die Victoria-Kollege deur die Universiteit van Stellenbosch op 2 April 1918. Hy was saam met prof. A Moorrees en mnr. JG van der Horst die mede-opsteller vir voorlegging aan die owerhede van die klassieke memorandum waarin Stellenbosch aangedui word as die plek waar die Afrikanervolk sy ideale verwesenlik kan sien en die grootste invloed op Suid-Afrika kan uitoefen. Soos in die verlede, lewer die universiteit vandag nog mense wat op alle terreine en in alle beroepe in ons land ’n belangrike rol speel. Tot 1978 het byvoorbeeld ses van Suid-Afrika se sewe eerste ministers aan die universiteit gestudeer. Bykans 50 000 studente het reeds op Stellenbosch gestudeer. Die universiteit het in 1978 11 438 studente in sy 12 fakulteite. Die fakulteite is dié van Bosbou en Krygskunde, wat die enigste in hulle soort aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit is, Lettere en Wysbegeerte, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Landbou, Regsgeleerdheid, Teologie, Handel en Administrasie, Ingenieurswese, Geneeskunde en Tandheelkunde. Op sportgebied beskik die universiteit oor die beste geriewe vir elke moontlike sport. Baie van die land se knapste sportsterre word op Stellenbosch gekweek. 

1900 – Anglo-Boereoorlog

’n Oorlogsraad in Poplar Grove, OVS, gee aan Danie Theron toestemming om verkennerkorps te vorm wat bestaan uit ongeveer 100 mans.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Lichtenburg, Transvaal

1901 – Hendrik Jacobus van Heerden tereggestel

Hendrik Jacobus van Heerden is op hierdie dag summier tereggestel tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die feit dat hy ’n Brits georiënteerde burger was, maak geensins ’n verskil aan die volgende gebeure. Hendrik was ’n gesiene boer vanuit die Middelburg distrik, en het op die plaas Sewefontein geboer.

Op ’n dag het kommandant Kritzinger op die plaas aangekom, en voorrade en voer gevra. ’n Vliegkolonne onder bevel van kol. Gorringe was egter kort op hul hake, en dit was nie baie lank alvorens Kritzinger die hasepad moes kies nie. Gorringe het Van Heerden gearresteer en vir ondervraging na Middelburg geneem. Hulle was egter skaars van die plaas weg toe enkele Burgers op die Britse soldate geskiet het. Van Heerden is swaar gewond, en 2 van die soldate is net lig gewond. Die Britse magte het na die soldate omgesien terwyl Van Heerden se vrou hom met hulp op ’n kombers na die huis gedra het. Die volgende dag het ’n Britse patrollie op die plaas aangekom, en hom meegedeel dat ’n bevoegde hof hom skuldig bevind het. Hy is 8 minute tyd gegee om sy gesin te groet. Sy laaste woorde aan sy vrou was ’n versoek om op sy grafsteen te skryf dat hy onskuldig was, dat onskuldige bloed vergiet is. Hy is daarna op komberse na buite gedra en summier tereggestel. Op dieselfde kombers is hy weer die huis ingedra.

1918 – Die Universiteite van Suid-Afrika (Unisa)

1925 – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) onderneem sy eerste vlug tussen Kaapstad en Durban

1962 – Die Transvaalse Helpmekaar-studiefonds herleef

Nadat die  rebelle se skulde betaal is, het daar ’n aansienlike bedrag oorgebly. Hierdie geld is aan Helpmekaarverenigings beskikbaar gestel om studielenings aan behoeftige studente beskikbaar te stel. Ongelukkig was daar min belangstelling in Transvaal en is die beperkte leningsfunksies van die Helpmekaarvereniging in Transvaal in 1940 deur die Universiteit van Pretoria oorgeneem. As gevolg van die toenemende behoefte aan so ’n fonds is daar op 2 Maart 1962 weer ’n Transvaalse Helpmekaarvereniging gestig en het die Transvaalse Helpmekaar Studiefonds daaruit voortgevloei.

 

Geboortes

1906 – Ds. Hendrik Johannes Chistoffel Snijders, leraar († 2 November 1975)

Hendrik Johannes Christoffel Snijders is op Leeudoringstad gebore. Vanweë sy buitengewone geesdrif en groot bekwaamheid het hy spoedig na sy legitimasie belangrike ampte in die kerk begin beklee: aktuarius en moderator van die Natalse Sinode, assessor en moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. Hy het ook in sy bediening ’n lewendige belangstelling in die Afrikaner se kultuurlewe getoon en deur sy aktiewe deelname ’n belangrike rol in die uitbouing en handhawing daarvan – veral in Natal – gespeel. Hy was jare lank lid van die FAK se Hoofbestuur. Kort nadat hy op ’n gesamentlike Hervormingsdiens op Swartruggens op die kansel ineengesak het, sterf hy op 23 November 1975.

1940 − Frederik van Zyl Slabbert, politikus, akademikus en besigheidsman († 14 Mei 2010)

 

Sterftes

1984 – Petrus Philippus Benjamin (Breytie) Breytenbach, eerste hoofdirekteur van Truk (* 24 Januarie 1904)

Petrus Philippus Benjamin (Breytie) Breytenbach, die leidende figuur van die Suid-Afrikaanse Toneel, en dus ook van die Afrikaanse Toneel, van die vyftigerjare, is in die distrik Wepener gebore en op Bloemfontein as handelskoolonderwyser opgelei. In 1927 gaan hy na Krugersdorp, waar hy ’n leidende figuur word in die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera, terwyl hy ook hoof van die plaaslike Tegniese Kollege is. Sy belangstelling in die amateurtoneel, wat daartoe lei dat hy alle toneelverenigings in die land wil saamsnoer, die Afrikaanse en die Engelse, loop uit op die stigting van FATSA (die Federasie vir Amateurtoneelvereniginge in Suid-Afrika) op 14 Desember 1938 op Krugersdorp, en hy word as president daarvan verkies. Met die instelling van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) in 1947, die eerste staatsondersteunde beroepsteater in Suid-Afrika, word mnr. Breytenbach tot voorsitter gekies. In 1952 word hy direkteur. Toe die NTO in 1962 opgaan in die nuwe bedeling van streekrade vir die uitvoerende kunste, word hy die eerste direkteur van TRUK (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste), ’n posisie wat hy tot en met sy aftrede in 1967 beklee. Hy is in 1951 deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer met die Erepenning vir Toneelbevordering.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/