1 JUNIE
January 10, 2017
3 JUNIE
January 10, 2017

Gebeure

1857 – ’n Ooreenkoms tussen die Oranje-Vrystaat en Transvaal word afgesluit

1887 – Bou van die Delagoabaai-spoorlyn begin

aan te lê, en in 1875 het pres. TF Burgers na Europa gegaan om ’n lening daarvoor te bekom. Op 11 Desember 1875 is ’n protokol tussen Portugal en die ZAR onderteken, wat die wetlike grondslag vir die konstruksie van die spoorlyn sou vorm. Die swak ekonomiese posisie van die Republiek en die diplomatieke teenkanting van Brittanje het egter die bou van die spoorlyn verhinder. Nadat SJP Kruger tot president verkies is, is ’n ooreenkoms tussen Portugal en die ZAR op 17 Mei 1884 oor die beoogde spoorlyn onderteken. Die ontdekking van goud het die ekonomiese krag gelewer en op 21 Junie 1887 is die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg-maatschappij gestig. Hoewel daar op 2 Junie 1887 met die konstruksie van die Delagoabaai-spoorlyn begin is, is dit eers op 20 Oktober 1894 voltooi. Hierdie spoorlyn was ’n uiting van die ZAR se begeerte na ’n eie deurweg na die see en het ekonomiese en politieke betekenis gehad.

1967 – FAK se Taalkomitee gestig

Die Hoofbestuur van die FAK het sy Taalkomitee gestig om hom te adviseer oor die wyse waarop die FAK sy taak ten opsigte van die handhawing en bevordering van Afrikaans kan uitvoer. Die komitee het van meet af aan doelgerig aandag geskenk aan die bevordering van Afrikaans onder meer in die sakewêreld, die hotelbedryf, die staatsdiens, die vervoerwese, op alle onderwysvlakke en die naamgewing van strate en dorpsgebiede. Dit is gedoen by wyse van gereelde briefwisseling en persoonlike onderhoude. Boekuitstallings, soos die omvangryke boekefees in die Taalfeesjaar in die Paarl in 1975, is ’n gereelde projek van die komitee om die lees van die Afrikaanse boek te bevorder. Die Langenhovenfees is in 1973 gereël, die gevierde skryfster M.E.R. is met haar honderdste verjaardag vereer, en huldigingsfeeste vir Totius (1977) en AG Visser (1978) is gehou. Die publikasies Afrikaans ons Pêrel van Groot Waarde en GRA Herdenk is op inisiatief van die komitee in 1974 en 1975 uitgegee. Afrikaans was by verskeie Algemene Vergaderings die kongrestema, en gereelde artikels oor al die aspekte van taalbevordering word vir Handhaaf gelewer. 

1979 – Kallie Knoetzer verloor wêreldtitel

Suid-Afrikaanse swaargewig-bokskampioen Kallie Knoetze verloor die wêreldtitel teen die Amerikaanse John Tate in die agste rondte na ’n tegniese uitklophou.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1933 – Dr. HS Bosman, predikant medestigter van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en kampvegter van Christelike Nasionale Onderwys (CNO) skole (* 1848)

Hermanus Stephanus Bosman is op 23 Junie 1848 in die distrik Victoria-Wes gebore. Sy ouers trek na Potchefstroom, waar hy in ’n winkel werk. Onder invloed van dr. Andrew Murray besluit hy om predikant te word. Hy gaan saam met dr. Murray na Worcester waar hy sy skoolopleiding van onder af moes begin. Later studeer hy verder aan The South African College in Kaapstad. Daarna is hy na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Na ’n studiereis deur Europa word hy in 1876 predikant van die NH Kerk van Pretoria, en hy bly daar tot sy aftrede in 1926. In kerklike kringe in Transvaal het hy ‘’n belangrike rol gespeel. Hy beywer hom onder meer vir ’n kerkhereniging tussen die NH en NG Kerk. Dit vind in 1885 plaas. Die bittere stryd wat hierna volg tussen die gedeelte van die NH Kerk wat nie wou herenig nie en die NH of NG Kerk tref hom soos ’n vloed wat hom in sekere kringe ’n omstrede figuur gemaak het. Gedurende sy bediening in Pretoria en veral na die Engelse Oorlog het die kerk vinnig uitgebrei en is daar tot sy aftrede agt gemeentes afgestig. Hy dien van die begin af in die moderatuur van die NH of NG Kerk en van 1903 tot 1912 moderator. Hy het hom ook sterk beywer vir die hereniging van die verskillende NG Kerke. So het hy medestigter geword van die Raad van Kerke, waarvan hy by twee geleenthede voorsitter was. Na die Anglo-Boereoorlog het hy ’n voorstander van CNO-skole geword en in Pretoria die skool Eendracht gestig. Na die Uniewording in 1910 het hy sterk na vore getree as kampvegter vir die gelyk beregtiging van die twee landstale en veral gevra dat die Afrikaner se taal in die onderwys tot sy reg moet kom. Hoewel ’n omstrede figuur, het hy tog op ’n kritieke stadium vir die Afrikaner en sy regte in die bres getree.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/