1 JULIE
June 30, 2015
3 JULIE
July 1, 2015

Gebeure

1888 – Opening van die Volkshospitaal in Pretoria

In die tagtigerjare van die vorige eeu het dokters in Pretoria op hospitaalgeriewe begin aandring. In Februarie 1887 het ’n kommissie onder leiding van genl. P.J. Joubert met die regering oor ’n terrein onderhandel. ’n Ou huis naby die militêre kaserne langs die huidige Potgieterstraat asook twaalf aangrensende erwe is afgestaan. Onder voorsitterskap van hoofregter J.G. Kotze is ’n permanente hospitaalkomitee in die lewe geroep. In 1887 samel die vroue van Pretoria met ’n basaar £1 500 vir die oprigting van die hospitaal in. ’n Tydelike hospitaal met vyftien beddens is op die aangewese terrein opgerig. Die eerste matrone en ’n personeel van twee verpleegsters het van Kimberley gekom. Die eerste pasiënt is op 26 Junie 1888 opgeneem en op 2 Julie 1888 is die hospitaal amptelik deur hoofregter J.G. Kotze geopen. Die geboutjie het uit drie “sale” bestaan. Die Pretoriase Geneeskundige Kommissie, wat in die middel tagtigerjare gestig is, het die mediese bestuur van die hospitaal behartig. Hierdie gebou was slegs tydelik van aard en op 21 Junie 1890 het pres. Paul Kruger die hoeksteen gelê van die nuwe volkshospitaal op die terrein waar tans die militêre hoofkwartiere is. Laasgenoemde gebou sou as hospitaal dien tot die oprigting van die Algemene Hospitaal in 1932, wat in die laat sestigerjare herdoop is tot die H.F. Verwoerdhospitaal.

1909 – Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gestig

In 1908 is die vereniging Onze Taal in Bloemfontein gestig om oor die belange van Hollands in die Vrystaat te waak. Ds. Willem Postma (dr. O’Kulis) het ’n leidende rol in dié vereniging gespeel. Hy het sterk bepleit dat ’n sentrale organisasie daargestel behoort te word om samewerking tussen die twee strydende taalpartye – Hollands en Afrikaans – te bewerkstellig. ’n Taalkongres, wat later tot April 1909 uitgestel is, was noodsaaklik. Onze Taal se planne vir versoening was reeds beraam toe daar by ’n Afrikaanse Taalkongres in Desember 1908 in Kaapstad ook tussen die voorstanders van Nederlands en dié van Afrikaans toenadering gekom het. In Desember 1908 het die Nasionale Konvensie in Kaapstad byeengekom. Op aandrang van pres. MT Steyn, JH Hofmeyr en genl. JBM Hertzog is besluit om ’n konferensie te belê en almal wat in die Hollandse taal belangstel, daarheen uit te nooi. Dié konferensie is op 5 Januarie 1909 in die Hugenote-gebou in Kaapstad gehou en van die mees vooraanstaande manne was teenwoordig. Die konferensie het besluit “dat een lichaam in’t leven worden geroepen ter bevordering van de Hollandse taal en letteren in Zuid-Afrika”. ’n Komitee van twaalf afgevaardigdes moes op 29 Junie 1909 byeenkom om ’n konsep aan die algemene kongres voor te lê vir die beoogde stigting van ’n akademie. Die algemene kongres sou op 1 en 2 Julie vergader. Die komitee se aanbevelings is met enkele wysigings goedgekeur. Daar is besluit die akademie moes ’n klein uitgelese liggaam met ’n beperkte aantal lede (50) wees. Op 2 Julie 1909, na afloop van die algemene kongres, is die 30 stigterslede van die Akademie gekies.

1936 – Die Vaderland verskyn

Die Vaderland verskyn as eerste Afrikaanse dagblad in Johannesburg. Daarmee word finaal die fondament gelê vir die verrysing van die Afrikaanse Pers in Transvaal ná al die moeisame en mislukte pogings in meer as twee dekades wat dit voorafgegaan het. Dit het begin by Die Week op 23 Februarie 1912, gevolg deur Het Volk en Ons Vaderland (halfweekliks en dagblad). In Maart 1932 word ’n splinternuwe begin gemaak met die stigting van die Afrikaanse Pers Bpk. In Maart 1932 verskyn dan Die Vaderland as halfweeklikse blad met dr. Gustav S. Preller as hoofredakteur, voordat dit vier jaar later, onder hoofredaksie van mnr. Willem van Heerden, as dagblad in Johannesburg gevestig word.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Britse magte beset Utrecht nadat die verdedigende burgers die vorige dag moes terugval

 

Geboortes

1929 – Esmé Berman, outeur, lektor, navorser, uitsaaier, historikus en kunskonsultant († 4 Junie 2017)

1908 – AJB de Klerk, skrywer en provinsiale sekretaris van die Kaapprovinsie († 1993)

Andries Johannes Bester de Klerk is op Williston gebore. Hierdie staatsamptenaar – uiteindelik provinsiale sekretaris van Kaapland – en vertaler het die Afrikaanse taal gedien en verryk. Boeke van uiteenlopende aard is deur hom gelewer – speurverhale, vertalings, radiowerke en dramas.

 

Sterftes

1967 – Prof. IW van der Merwe (Boerneef), skrywer, digter, leksikograaf en akademikus (* 11 Mei 1897)

Izak Wilhelmus van der Merwe, gebore op Boplaas, Ceres, was bestem om aan die Afrikaanse taal ’n nuwe dimensie te besorg. Hy het die klankrykheid van sy taal ontgin soos geen Afrikaanse skrywer/digter voor hom nie. Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: Die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies; Sikketaarskloof, Soebatsfontein, Speserykloof. Later word hy stedeling en nog later hoogleraar in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is op 2 Julie 1967 op 70-jarige ouderdom oorlede, en die Hertzog-prys vir poësie in 1968 word postuum aan hom toegeken: ’n paslike erkenning vir hierdie beskeie digter wat ons letterkunde verryk het met sy sprankelende, plooibare, eenvoudig treffende Afrikaans.

1977 – Gert Potgieter, sanger en akteur (* 14 November 1929)

Gerhardus Petrus Potgieter of te wel Gert Potgieter was ’n uitmuntende sanger met ’n besonderse tenoorstem. As seun het Gert reeds sukses behaal en mettertyd een van die suksesvolste en beminde sangers van opera, oratorium en veral ligte Afrikaanse musiek geword. Gert Potgieter was ook lid van Groep 2 en sterf op 2 Julie 1977 in ’n motorongeluk.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/