1 JANUARIE
January 1, 2016
3 JANUARIE
January 3, 2016

Gebeure

1666 – Die vier hoekstene van die Kasteel van Goeie Hoop gelê

Die Kaap was vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie eerstens ’n verversingspos, maar tegelyk ook vir Nederland ’n basis van militêre waarde teenoor Europese vyande in die wedloop om die handel met die Ooste. Daarom is kleiner wagposte selfs in die binneland as beskerming teen Hottentot-aanvalle opgerig. Vandaar die ywer geopenbaar om ’n nuwe, sterk Kasteel De Goede Hoop te bou toe die eerste poging van hout en klei minder doeltreffend geword het. Ná vyf maande se voorbereidingswerk deur 300 man kon die eerste hoekstene in die naam van die Here XVII gelê word – die eerste deur kommandeur Wagenaar, toe ds. Van Arckel, en onderkoopman Gabbema, en die vierde deur fiskaal Lacus.

’n Amptelike feesmaal van twee beeste, ses skape, agt vate bier en honderd brode is vir almal aangebied. Elke ambagsman het ook ’n geringe geldstukkie ontvang. ’n Geleentheidsgedig is geskryf en voorgedra. Die bedoeling met alles was veral om die trae werkers aan te spoor en hulle ’n gewilliger gesindheid te laat openbaar. Ná die kermisjolyt is dan ook dadelik weer hard gewerk.

1837 – Andries Henrik Potgieter en Gerrit Maritz

Voortrekkerleiers Andries Hendrik Potgieter en Gerrit (Gert) Maritz, elk met sy eie manskappe, verlaat Wes-Transvaal om Mzilikazi te straf vir die Ndebele-aanval op die Voortrekkers by Vechtkop (Vegkop).

1896 – Oorgawe van Jameson

Op 29 Desember 1895 het dr. Leander Starr Jameson die Transvaalse Republiek sonder provokasie uit Betsjoeanaland (Botswana) binnegeval en na Johannesburg opgeruk, voorsien van ’n skriftelike uitnodiging van die Uitlanderleiers om die “vrouens en kinders aldaar teen die Boere te beskerm”. Dit was ’n dag ná die datum wat oorspronklik beplan was vir die uitbreek van ’n Uitlanderopstand in Johannesburg, wat deur Engeland aangegryp sou word vir die anneksasie van die Republiek, maar wat ter elfder ure uitgestel is. Aangesien Johannesburg toe nog nie in opstand was nie moes selfs die Britse Regering hierdie troepe, wat volgens beplanning die Regering met die anneksasie moes steun, as vrybuiters veroordeel. Die kommando’s Potchefstroom, Krugersdorp en Rustenburg, het die invallers op 2 Januarie 1896 na enkele skermutselings digby Krugersdorp gedwing om die wit vlag te hys. Die aanstigters van die beplande rebellie in Johannesburg, wat op 1 Januarie tot opstand oorgegaan en ’n “provisionele” regering gestig het, moes ’n week later kapituleer.

1968 – Tweede hartoorplanting

Dr. Chris Barnard doen die tweede hartoorplanting by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Die ontvanger, dr. Philip Blaiberg, oorleef die oorplanting ’n jaar en sewe maande.

 

Geboortes

1905 – Dr. JJ van Tonder, historikus

Johannes Jacob van Tonder is ’n historikus wat hom met ywer daarop toegelê het om die geskiedenis op so ’n interessante wyse aan te bied dat jong mense en leerlinge dit sal lees. Hy het ’n omvattende studie van monumente gedoen, en nadat hy in 1970 afgetree het, het hy verskeie publikasies sonder vergoeding daarvoor uitgegee. Tientalle artikels van historiese aard het uit sy pen verskyn in tydskrifte soos Handhaaf, Mylpaal, Taalgenoot en Uexus. Dr. Van Tonder is op Venterstad in Kaapland gebore en het hom vir die onderwys bekwaam met die grade BA, MA, MEd en DPhil. Ná verskeie hoofposte, was hy van 1953 inspekteur van onderwys in Transvaal tot met sy aftrede. Dr. Van Tonder was ’n stigterslid van die FAK en het van 1964 tot 1974 in die Geskiedeniskomitee van die FAK gedien.

 

Sterftes

1966 – Christiaan Andries van Niekerk, kommandant in die ABO en oudsenator (* 26 Augustus 1876).

Op die historiese plaas Vegkop, in die distrik Heilbron, word die seuntjie Christiaan Andries van Niekerk gebore, wat in die loop van sy lang lewe as “Oom Chris” so ‘n geliefde openbare figuur sou word. In die Engelse Oorlog word hy vanweë sy onverskrokkenheid en bekwame leiding kommandant, en op Vereeniging stem hy saam met vyf ander afgevaardigdes teen die besluit om wapens neer te lê. Van 1907 tot 1960 speel hy as lid eers van die Vrystaatse Wetgewende Vergadering, toe van die Unie-Volksraad en later van die Senaat – waarvan hy jare lank ook die waardige President was – ‘n vername rol. Deurgaans vind die materiële en morele opheffing van sy volk op alle gebiede, en die goeie reg van die Afrikaanse taal, in hom ‘n kragtige kampvegter. Deur sy besielende gehegtheid en trou aan ons hoogste beginsels, sal hy altyd as ‘n ware Boere-aristokraat en ‘n sieraad van die Afrikanervolk onthou word, wat die FAK onder meer in aanmerking geneem het toe hy op 30 Mei 1963 die eksklusiewe goue Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken het. Hy is op 2 Januarie 1966 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za