18 NOVEMBER
November 18, 2015
20 NOVEMBER
November 20, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Balmoral- en Wilgerivierstasies, Tvl.

1926 – Balfourverslag deur Rykskonferensie aanvaar

Die aanvaarding van die Balfourverslag deur die Britse Rykskonferensie van 1926 is ’n baken in die staats- en volkeregtelike onafhanklikwording van Suid-Afrika. Generaal JBM Hertzog het as premier na Londen gegaan met die doel om enige sprake van Suid-Afrika se onderhorigheid aan Brittanje uit die weg te ruim. Nadat hy die saak aangeroer het, is dit na ’n komitee verwys wat op 27 Oktober onder voorsitterskap van lord Balfour met die werk begin het. Hertzog se pleidooi om die uitreiking van ’n gesaghebbende verklaring oor die vryheid en onafhanklikheid van die Britse dominiums, is dadelik teengestaan. LS Amery, Britse minister van besitreg, het gemeen die Rykskonferensie was nie bevoeg nie om ’n “deklarasie van regte” uit te reik. Hy het met betrekking tot die verhouding van Brittanje en die heerskappye aangedring op die erkenning van ’n “’gemeenskaplike burgerskap van die Britse Ryk” en wedersydse pligte en steun. Daarvan wou generaal Hertzog niks weet nie en Kanada en Ierland het hom gesteun. Balfour en Amery wou die woord “Ryk” (Empire) in alle statusomskrywing van die dominiums hê, maar met die steun van lord Birkenhead, Britse minister vir Indië, is die woord “Gemenebes” (Commonwealth), soos deur Hertzog voorgestel, aanvaar. Eenstemmigheid is bereik en die status van die heerskappye is só omskryf: “Hulle is outonome gemeenskappe binne die Britse Ryk, gelyk in status en, op geen wyse in enige afdeling van hul binne- of buitelandse sake die een ondergeskik aan die ander nie, hoewel verbonde deur hul gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik as lede van die Britse Gemenebes van Nasies verenig.” Dié statusformule is op 19 November eenparig deur die Rykskonferensie aanvaar en dit was, in die woorde van doktor Malan (Die Burger, 24 November 1926), “verreweg die belangrikste politieke gebeurtenis in die wordingsgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse nasie”.

 

Geboortes

1846 – Genl. Lucas Johannes (Lucas) Meyer, soldaat, politikus en medestigter van die Nieuwe Republiek († 8 Augustus 1902)

Lukas (Lucas) Johannes Meyer (Meijer) is by Sandrivier in die Oranje-Vrystaat gebore. Hy vestig hom as jong man in Natal en word in 1882 landdros van Utrecht. As kommandant help hy Dinizulu in dié se opvolgingstryd teen sy broer Zibhebhu. Hy was een van die medestigters van die Nieuwe Republiek op die grondgebied wat Dinizulu aan die Boere geskenk het as erkenning vir hulle militêre hulp. Hy word ook tot die president van die Nieuwe Republiek verkies. In 1893 word hy eerste Volksraadlid vir Utrecht, en in 1899 voorsitter van die Raad. In die Anglo-Boereoorlog speel hy as generaal in Natal ’n rol en verower hy onder meer Dundee. Hy was ook een van die ondertekenaars van die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902) en bepleit vrede tot elke prys. Hy is op 8 Augustus 1902 in Brussel oorlede en is in die begraafplaas op Vryheid te ruste gelê.

1911 – Anton Ackermann, leier en regisseur van ’n reisende Suid-Afrikaanse toneelgeselskap († 3 Januarie 1971)

Anton Ackermann was ’n Afrikaanse akteur en die leier en regisseur van ’n reisende Suid-Afrikaanse toneelgeselskap. Ackermann sluit hom in die vroeë jare dertig by die toneelgeselskap van Wena Naudé en Willem van Zyl aan. Hy het later saam met Pikkie Uys ’n eie geselskap gestig. Hulle het as ’n gewilde toneel-egpaar in die laat jare dertig en vroeë jare veertig bekend geraak met stukke soos WittebroodsdaeDie hand van die gereg (deur S. Ignatius Mocke) en Koop my blomme (’n verwerking van Pygmalion deur George Bernard Shaw en vertaal deur CIC Uys).

1930 – Elizabeth (Elize) Botha, skrywer, akademikus en kanselier van die Stellenbosch Universiteit († 16 November 2007)

Professor Elize Botha was ’n gerespekteerde Suid-Afrikaanse akademikus en literêre kritikus. Sy was onder meer hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywerskring en redakteur van die Afrikaanse Tydskrif vir letterkunde. In 1982 is die Gustav Preller-medalje vir Literatuurwetenskap en Kritiek (die eerste keer aan ’n vrou) aan haar toegeken, en in 1989 ontvang sy die Orde vir Voortreflike Diens (silwer). Sy was die eerste vrou in die direksie van die mediareus Naspers (1988), die eerste vrouekanselier van die Universiteit Stellenbosch (1998) en die eerste vrouevoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1989). In 2001 ontvang sy die ATKV se Prestigetoekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse prosa, prosateorie en vir haar rol in die bewaring en instandhouding van die Afrikaanse kultuurskat. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar in 2004 ’n erelid gemaak. Die Afrikaanse skrywer en akademikus Marlene van Niekerk het haar die “Die Elwekoningin van die Afrikaanse Letterkunde” genoem.

 

Sterftes

1922 – Reinhold Gregorowski, regter en staatsprokureur (* 12 April 1856)

1986 – Esther Mentz, operasangeres en aktrise (* 8 Januarie 1911)

Esther Mentz was ’n operasangeres en aktrise wat haar debuut as aktrise in die rolprent Donker spore gemaak het. Sy was getroud met die voormalige direkteur-generaal van die SAUK en stigter van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie dr. Gideon Roos, wat sy ontmoet het toe hulle saam aan ’n eidsteddfod deelgeneem het. Sy is op 19 November 1986 in die ouderdom van 75 jaar oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/