18 MAART
November 1, 2016
20 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1932 – Die Afrikaanse Pers, ’n uitgewersmaatskappy, in Pretoria gestig

 

Geboortes

1916 – Theodor JA (Theo) Gerdener, afgetrede joernalis, skrywer, Natalse administrateur, adjunkminister, senator, minister van binnelandse sake en later leier van die Demokratiese Party († 21 November 2013)

 

Sterftes

1919 – Jack Hindon, Boereverkenner tydens die ABO en die man na wie die SA medalje vir uitstaande diens vernoem is (* 20 April 1874)

Oliver John (Jack) Hindon is in Skotland gebore waar hy in diens van die Britse leër getree het. Hy kom op jeugdige leeftyd na Suid-Afrika om in Zoeloeland diens te doen, maar dros weens swak behandeling. Baie gou het hy hom met die boere in die ZAR vereenselwig en verkry volle burgerreg deur sy vrywillige deelname aan die veldtog teen Jameson (1895). Hy tree daarna in diens van die ZAR-polisie en neem sodoende deel aan talle veldslae tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy onverskrokkenheid het onmiddellik opgeval en in Junie 1900 word hy lid van Danie Theron se verkennerskorps. Na sy bevordering tot hoof van sy eie Veg- en Verkennerskorps wat belas was met die ontwrigting van die vyandelike verbindingsweë, ingesluit van hul spoorweglinies, het hy en sy manskappe ’n verskrikking vir die Britte langs die Ooster-spoorlyn geword. Hulle het ook talle suksesvolle klopjagte uitgevoer op Bantoes wat Boeregesinne aangeval het. Sy vernuf en vreeslose meelewing in die Afrikaner se stryd het aan hom ’n ereplek in die volk se heldegalery besorg. Met die aanvang van die vredeskonferensie in April 1902, het hy op advies van lede van die Regering om hom met die vyand te versoen ten einde Britse onderdane in sy korps van vervolging onthef te kry, na die Engelse oorgeloop wat aan sy eise toegee en hom bowendien ’n loon van 12 sjielings (ongeveer R1,20) per dag betaal het. Die Boere het hy nogtans geen kwaad berokken nie. In 1970 word die beroemde Boereverkenner vereer met die instelling van die Jack Hindon-medalje vir buitengewoon ywerige en voortreflike diens in vredes- en oorlogstyd deur manskappe van kommando’s van die SA Weermag. Op die voorkant van die medalje is daar ’n reliëfafbeelding van Hindon en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur tydens die slag by Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde wapen van die RSA in reliëf. Na die Anglo-Boereoorlog vestig hy hom as bou-aannemer in die VSA, maar keer later terug na die Republiek waar hy op 19 Maart 1919 in Pretoria sterf.

1953 – Luit.-kol. Hermanus Christiaan (Manie) Bredell, lyfwag en private sekretaris van Paul Kruger terwyl lg. in Switserland was (* 12 Oktober 1865)

Hermanus Christian (Manie) Bredell is op hierdie datum bykans onopgemerk op sy plaas Zonneheuvel, distrik Marquard, oorlede. Voor sy aftrede op 31 Desember 1926 was hy Sekretaris en Hoof-adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie. Manie Bredell sal egter veral onthou word vir die noue verbintenis waarin hy met pres. Kruger gestaan het tydens laasgenoemde se laaste lewensjare in Europa. Tydens die bykans vier jaar het Bredell feitlik onafgebroke by Paul Kruger gebly en hom op sy verskillende reise vergesel – eers as lyfwag en na Oktober 1901 ook as private sekretaris. Soms het Bredell se eie persoonlike ambisie, sy frustrasie en die begeerte om na Suid-Afrika terug te keer en daadwerklik aan die wapenstryd deel te neem, hom byna te magtig geword, tog het hy sy pligte ten opsigte van pres. Kruger tot op die laaste met sy kenmerkende bekwame pligsgetrouheid nagekom. Uit hierdie tyd dateer sy dagboek (gepubliseer deur die RGN in 1972) waarin hy insiggewende besonderhede vermeld van die huishouding van die President, sy laaste lewensdae, en veral ten opsigte van die persone wat die naaste aan Paul Kruger in die jare van sy ballingskap gestaan het. Saam met PGW Grobler was Bredell ook verantwoordelik vir die teboekstelling van die Gedenkskriften van Paul Kruger wat in 1902 gepubliseer en in verskeie tale vertaal is.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/