18 JUNIE
June 17, 2015
20 JUNIE
June 20, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Genl. Buller betree Volksrust, die eerste dorp in die ZAR wat in sy hande val

1912 – Louis Botha bekla sy lot omdat die kerke die politici te na kom

Die historikus en redakteur, Gustav Preller, het ’n besondere verhouding met premier Louis Botha gehad. Die twee manne het dikwels in mekaar se oor gefluister. Preller het meer keer vir Botha van geskiedkundige inligting vir toesprake voorsien, en Botha het hom gevra om deur middel van die pers die hartklop van die volk te help bepaal. In ’n brief onder hierdie datum bekla hy sy lot teenoor Preller omdat die Sinode van die Ned. Herv. of Geref. Kerk in Transvaal onder ds. HS Bosman as Moderator, die politieke voormanne bespreek het. Botha beweer dan dat sy eie Kerk hom en die leiers beledig, beskinder en beklad het. “Ander Kerke weer organiseer teen ’n mens. Dit lyk asof ek nie meer die vertroue geniet nie. Maar met vriende en met die kerk gaan ek nie baklei nie. Dan tree ek eerder uit. Ek laat my selfs van predikante nie langer trap nie,” skryf genl. Botha in die brief aan Preller.

1978 – Goudstadse Onderwyskollegeraad en -senaat gekonstitueer

Die lesings vir heeltydse studente aan die Goudstadse Onderwyskollege het op 17 Februarie 1961 begin, nadat die eerste student, Mej. MY Marais, op 3 Desember 1960 vir toelating goedgekeur en die eerste na-uurse lesings op 6 Februarie 1961 gegee is. Op 1 Desember 1960 is die naam Goudstadse Onderwyskollege aanvaar. Die kollege het tot stand gekom na ’n lang stryd om die vestiging van tersiêre onderwys vir die Afrikaner in Johannesburg, en nadat die kollege aanvanklik tydelik elders gehuisves was, het lesings op 13 Oktober 1971 in die nuwe lesinggebou begin. Intussen is ’n ooreenkoms tussen die Transvaalse Provinsiale Administrasie, namens die GOK, en die Randse Afrikaanse Universiteit aangegaan ingevolge waarvan die opleiding van primêre en pre-primêre onderwysers in noue samewerking met die RAU geskied. Die eerste kollegeraad en -senaat is op 19 Junie 1978 gekonstitueer om uitvoering aan die ooreenkoms te gee.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1890 – Kmdt.-genl. Stephanus Schoeman, kommandant-generaal en waarnemende staatspresident van die ZAR (* 15 Maart 1810)

Stephanus Schoeman, seker een van die kleurrykste figure uit die vroeë Transvaalse geskiedenis, is op 15 Maart 1810 in die Kango, naby die huidige Oudtshoorn, gebore en in Pretoria, tagtig jaar later, oorlede. As jong man het hy aan die Groot Trek deelgeneem. Vroeg in 1847 het hy hom op Potchefstroom gevestig waar hy as heemraad gekies is. Van 1851 tot 1855 was hy kommandant van Potchefstroom. Na die dood van kmdt.-genl. Piet Potgieter in 1854 is Schoeman tot kommandant-generaal van Soutpansberg verkies, ’n amp wat hy van 1855 tot 1858 beklee het. Knap na die aanvaarding van die nuwe grondwet, is MW Pretorius as president en S Schoeman as kommandant-generaal van die ZAR in stryd met die grondwet deur die Volksraad en nie deur die volk nie, verkies. Schoeman het gevolglik geweier om die amp van kommandant-generaal te aanvaar, maar na sy aanvaarding van die grondwet in 1858 word hy die eerste kommandant-generaal van die ZAR – ’n amp wat hy tot 1860 beklee. Met MW Pretorius se aanvaarding van die presidentskap van die OVS in 1860, is JH Grobler as waarnemende president van die ZAR aangewys. Dit was die begin van vier jaar van verwarring en broederstryd in Transvaal, aangesien die Schoeman-gesindes nie hiermee tevrede was nie. Nadat Grobler verjaag is, het Schoeman in 1860 waarnemende president van die ZAR geword, totdat hy in 1862 uit sy amp geskors is. Hy het egter geweier om sy skorsing te aanvaar en het hom steeds as die waarnemende president beskou, wat tot gevolg gehad het dat die Volksleër en die Staatsleër te Potchefstroom teenoor mekaar te staan gekom het, waarna Schoeman na die Vrystaat uitgewyk het. Schoeman het andermaal gepoog om die staatsmag in besit te kry, maar is deur ’n hof aan rebellie skuldig bevind en verban en sy goedere is verbeurd verklaar. Hy vlug oor die Vaalrivier, en herhaalde versoeke om sy uitlewering misluk. Na sy terugkeer na Transvaal het die geveg in Januarie 1864 by die Krokodilrivier plaasgevind, waarna die broederstryd beëindig en Schoeman se vonnis opgehef is. 

1952 – Willem (Petrus) van der Berg, romanskrywer en hoof van die Afrikaanse programme van die SAUK (* 11 April 1916)

Hy was een van Afrikaans se begaafste en veelsydigste prosaïste. Tog het hy weinig amptelike erkenning ontvang vir die magdom werk van hoë gehalte wat hy binne ’n skrale ses jaar onder die moeilikste omstandighede gelewer het. Sy eerste roman, Reisigers na nêrens (1946), is ’n hoogtepunt in die Afrikaanse romankuns. Dit was nie net ons eerste belangrike moderne stadsroman nie, maar ook waarskynlik die beginpunt van die vernuwing in ons prosa. Met sy bundels soos Solitêrspel by kerslig (1949) en Die asvaal ou Karoo (1951) het hy ook ’n nuwe dimensie aan die Afrikaanse kortverhaal en essay verleen. Daarbenewens het hy tientalle ontspanningsverhale onder verskeie skuilname geskryf. In sy beroep het hy ook snelle vordering getoon. Toe hy op 34 weens swak gesondheid moet uittree, was hy al uniale hoof van die SAUK se Afrikaanse programme. Op jeugdige ouderdom van 36 is hy na swaar lyding op 19 Junie 1952 oorlede.

1975 – Prof. Abel Coetzee, professor in Afrikaanse Taal- en Volkskunde, asook skrywer en digter (*  27 Mei 1906)

Abel Jacobus Coetzee is gebore op ’n plaas in die distrik Lichtenburg. Na sy studiejare aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Nijmegen was hy hoogleraar in Afrikaanse Taal- en Volkskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (1947–1966). As volks-, taal- en letterkundige, het hy ’n groot bydrae gelewer op kultuurgebied. Hy het die Afrikaanse volkskunde stewig op akademiese grondslag gevestig en uitgebou. Hy was dertig jaar voorsitter van die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde en redakteur van die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal (1943–1973). Hy was ook ’n stigterslid van Die Afrikaanse Skrywerskring (1934) en later redakteur van Die Handhawer. Hy het hom beywer vir die Afrikanerstrewe aan die Rand. Sy veelsydigheid as student, navorser, leermeester en skeppende kunstenaar het hom onderskei as ’n merkwaardige persoon in ons volkslewe. Hy is oorlede op 19 Junie 1975. 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/