18 JANUARIE
January 18, 2016
20 JANUARIE
January 20, 2016

Gebeure

1563 – Die Heidelbergse Kategismus verskyn

Op hierdie datum verskyn die eerste uitgawe van die Heidelbergse Kategismus. Die Kategismus het sy amptelike vorm gekry toe dit in die Kerkorde vir die Palts, wat die Keurvors op 15 November 1563 uitgevaardig het, opgeneem is. Die vrae wat daarin voorkom, is die eerste keer in die Latynse vertaling, wat reeds voor 3 April 1563 verskyn het, genommer. ’n Kort begrip is met die oog op die skoolkinders in 1576 uitgegee. Die Heidelbergse Kategismus vorm saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid wat nog altyd die belydenisskrifte van die vernaamste Afrikaanse Protestantse kerke in Suid-Afrika is. In sommige van hierdie kerke speel die Kategismus ’n belangrike rol en word van predikante verwag om ’n voorgeskrewe getal preke in volgorde daaroor te lewer. Op hierdie wyse het hierdie belydenisskrif tot op die huidige dag nie alleen vir die kategese nie, maar ook vir die hele gemeente as formulering van sy geloof van groot betekenis gebly.

1806 – Die Kaap word vir die tweede keer Britse grondgebied, wanneer die voorwaardes van oorgawe in Blaauberg (11 dae voorheen) bevestig word.

1874 – Opening van die Hugenote-seminarie in die Wagenmakersvallei

Ds. Andrew Murray, wat in 1871 predikant van Wellington geword het, het ’n besondere belangstelling in die onderwys van die jeug geopenbaar. Deur sy toedoen het die Hugenote-seminarie in die dorp verrys wat op 19 Januarie 1874 formeel geopen is met plek vir 40 koshuisgangers. Hy het as voorbeeld ’n Amerikaanse meisieskool, die Mount Holyoke Seminary, geneem en ook twee dames van die Verenigde State laat kom om in die skool behulpsaam te wees. Jong meisies uit verskillende dele van Suid-Afrika het na die skool gegaan, wat volslae Engels georiënteerd was. Dit is te begryp dat die vestiging van hierdie skool in die onmiddellike nabyheid van die kwaaiste voorstanders van Afrikaans spoedig venynige kritiek uitgelok het. Kwaai aanvalle verskyn onder meer in De Zuid-Afrikaan. Só skryf ’n briefskrywer in dié koerant: “Wellington moet geangliseerd worden. Ziedaar het ontstaan van een Hugenoten School zonder Hugenotentaal of geest. Bestuurd door Amerikanen! De gemeente moet geld geven om hare eigene taal te vertrappen.” Dit verbaas dus nie dat daar spoedig die wekroep gehoor is “Komt Broeders! Laat ons de handen ineenslaan eer het te laat is. Laat ons tegenover het zoogenaamde Hugenoten Instituut te Wellington eene Gereformeerde Hollandsche Meisjesschool oprigten waar die wanklankige Engelse brabbeltaal voor goed uitgeslote zal worden.”

1900 – Long Cecil afgevuur

By die Beleg van Kimberley is die kanon, Long Cecil, wat deur die Amerikaner George Labram ontwerp en in De Beers se werkswinkels gebou is, die eerste keer met ’n proefskoot afgevuur.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Rietfontein, Lichtenburg/Marico

1916 – Die Onderwyserskollege Oudtshoorn, Wes-Kaap, word onafhanklik

Die Onderwyserskollege Oudtshoorn het gegroei uit ’n afdeling vir die opleiding van kwekelingonderwyseresse aan die plaaslike Hoër Meisieskool. Op 19 Januarie 1916 het dit ’n onafhanklike inrigting geword met mej. Colquhoun as eerste permanente hoof. Dit was die beskeie begin van ’n onafhanklike opleidingskool wat in die loop van meer as 60 jaar tot ’n groot onderwyserskollege gegroei het. Gedurende die eerste tydperk was die voertaal van die inrigting nog Engels, hoewel die meeste van die studente se huistaal Afrikaans was. Die Onderwyserskollege Oudtshoorn, met Afrikaans as voertaal, was ongetwyfeld ’n kulturele brandpunt in en van Suid-Kaapland. Musiek, sang, drama en die beeldende kunste het lewendige aandag geniet, terwyl die geestelike organisasies sterk invloed uitgeoefen het. Die Onderwyserskollege Oudtshoorn het deurentyd ’n sterk Christelik-nasionale boodskap uitgedra.

1958 – Hannes la Grange is die eerste Suid-Afrikaner wat die Suidpool bereik

1977 – Die Verenigde Party skors ses Volksraadslede, wat die Onafhanklike Verenigde Party (later die Suid-Afrikaanse Party) stig

1984 – Die Standerbende beroof drie banke

Die Stander-bende was ’n groep van drie mans onder leiding van Andre Stander, ’n voormalige speurder van die polisie. Terwyl hy nog ’n speurder was, het Stander banke beroof op sy afdae en selfs tydens sy etenstyd. Hy het verskeie banke in Durban beroof voordat hy betrap is. Hy is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis waar hy bevriend geraak het met twee gevangenes, Allan Heyl en Lee McCall. Die drie het uit die gevangenis ontsnap en banke begin beroof. Die media het hulle die “Standerbende” begin noem.

Die bende het op 19 Januarie 1984 binne minder as ’n uur drie banke in die Johannesburgse middestad beroof. McCall is op 30 Januarie 1984 dood na ’n klopjag op die bende se wegkruipplek in Houghton. Heyl het oorsee gevlug en is later in Engeland betrap. Hy is gearresteer en later na Suid-Afrika uitgelewer. Hy is drie-en-dertig jaar gevonnis, maar is in 2005 op parool vrygelaat. Stander, wat in die VSA weggekruip het, is geskiet terwyl hy met ’n polisiebeampte slaags geraak het. Hy het op die toneel doodgebloei.

 

Geboortes

1866 – Joseph James Cheere Emmett, generaal in ABO en politikus (†16 Augustus 1933)

Generaal Joseph James Cheere Emmett op hierdie dag in die Swellendam-distrik gebore. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 was hy veldkornet van Wyk II in die Vryheid-distrik. Hy neem deel aan die Natalse offensief en gedra hom uitstekend. Daarna veg hy in Oos-Transvaal waar hy bevorder word na kommandant. Hy word in Desember 1900 bevorder na die rang van veggeneraal. Op 13 Maart 1902 word hy met 20 van sy burgers by die Ngotiheuwels gevang en as krygsgevangenes weggestuur. Na die oorlog het hy onder meer weer begin boer, was hy ook skaapinspekteur en voorsitter van die Transvaalse Landraad. Later het hy ook volksraadslid vir Vryheid geword. Hy is oorlede op 16 Augustus 1933.

1905 – Barend Johannes (Ben) Schoeman, politikus en minister († 2 April 1986)

Ben Schoeman was ’n politikus, ’n lid van die parlement (LP) vir die Verenigde Party en later ook die Nasionale Party. Hy het van 1948 tot 1954 as die minister van arbeid en van 1954 tot 1974 as die minister van vervoer gedien.

1940 – Barend Jacobus du Plessis, politikus en minister

Barend du Plessis is ’n voormalige minister van finansies wat in die kabinette van die laaste twee presidente in die Nasionale Party-regering gedien het.

1943 – Stanley John (Bertie) Reed, seiljagvaarder († 18 Desember 2006)

Stanley John (Bertie) Reed was nie net ’n seiljagvaarder wat drie keer alleen om die wêreld gevaar het nie; hy het ook die hoogste toekenning vir dapperheid verwerf nadat hy John Martin se lewe op see gered het.

Sterftes

2013 – Pieter Willem Grobbelaar, navorser en skrywer van volksverhale en kinderboeke (* 25 Desember 1930)

Pieter Willem Grobbelaar was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Hy verwerf meestal bekendheid vir sy kinder- en jeugverhale, maar lewer ook werke vir volwassenes.

1901 – Johannes Jacobus Morgendaal, vredesgesant

Op 19 Januarie 1901 sterf die vredesgesant Johannes Jacobus Morgendaal nadat hy tien dae tevore (op 9 Januarie 1901) dodelik gewond is deur genl. Stoffel Froneman. Morgendaal was voor die Anglo-Boereoorlog ’n vooraanstaande persoon in die Kroonstad-omgewing, maar het teen die middel van 1900 die wapen neergelê en die eed van getrouheid aan Brittanje afgelê. Op 28 Desember 1900 vertrek Morgendaal en Andries Bernardus Wessels na genl. CR de Wet se laer om hom tot vrede te probeer oorhaal. Hulle word egter gevange geneem en verskyn op 6 Januarie 1901 voor ’n krygshof (o.l.v. Froneman). Uitspraak is voorbehou en op 9 Januarie ontvang die laer foutiewe inligting dat ’n Britse mag op pad is. In die geskarrel om op te saal, het Morgendaal die proses blykbaar probeer vertraag, waarna Froneman hom met ’n sambok geslaan het om hom aan te jaag. De Wet het die gebeure gesien en Froneman opdrag gegee om Morgendaal te skiet. Hy (Morgendaal) is daarna ernstig in die skouer gewond deur Froneman. Hoewel hy mediese versorging ontvang het, het Morgendaal tien dae later aan sy wond beswyk.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/