18 AUGUSTUS
Augustus 18, 2015
20 AUGUSTUS
Augustus 20, 2015

1888: Theo Jandrell gebore

Theodore Walter Jandrell is op Richmond, Kaapland gebore, matrikuleer aan die Jongenshoërskool, Wellington, en studeer aan die Victoria-Kollege, Stellenbosch. Hy word onderwyser in die distrik Wakkerstroom, Transvaal, hoof van die Pionierskool, Volksrust, en inspekteur van onderwys (1940). Jandrell vereenselwig hom met die gees van die jeug en die skoonheid van die moedertaal. In sy digbundels Die Ou Murasie en Moeder se Kind (albei 1924) het hy die leemte in die Afrikaanse kinderlektuur aangevul. Verdere sukses word behaal in die samestelling van die leesboekies Jong Suid-Afrika en daarna, in samewerking met dr. Hugo Gutsche, die reeks Daeraad-Liederbundels (1932). Vir laasgenoemde skryf hy 59 gedigte. Sy 27 gedigte wat in die FAK-Liederbundel verskyn, soos Ou Karooland, Bolandse nooientjie, Die son verrys, Met dapper en stapper en Dis heerlike lente, weerspieël liefde en leed, vaderlandsliefde en die natuurskoon. Op ’n intieme, beskeie maar doeltreffende wyse het hy die jeug aangemoedig om Afrikaans te lees en te sing.

1930: Stigting van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging – ATKV (SAS & H)

Die dertigerjare van die vorige eeu het die Afrikanervolk op feitlik alle lewensterreine met kultuurproduksie en lewenstyle wat vreemd is aan die tradisionele lewenstyl van die volk, gekonfronteer.  Hierdie toedrag van sake is sterk in die hand gewerk deur die feit dat die Engelse taal en kultuur op feitlik alle lewensvlakke voorkeur geniet het (feitlik soos nou in 2011 weer. Toe was dit ’n erfenis uit die tyd van Rhodes, Milner, Smuts en Botha. Van die staatsdepartemente destyds was die Spoorweë seker een van die belangrikste erfgename van hierdie toedrag van sake. Die ou Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatchappij, wat tydens die Britse militêre bewind deur die Imperial Military Railways van Milner oorgeneem is het ‘n heenkome gebied vir ‘n groot aantal Engelse soldate, met die gevolg dat veral die Spoorweë op feitlik alle vlakke tot oorlopens toe gevul is met eentalige Engelssprekende amptenare en personeel. Ook in al drie die ander provinsies was die voertaal van die Spoorweë vóór Uniewording in 1910 deurgaans Engels. Juis in hierdie tydperk tree die armblanke vraagstuk besonder sterk na vore en was die Spoorweë naas ander staatsdepartemente die instansie wat ‘n heenkome gebied het vir die talle ongeskoolde blanke Afrikaanssprekendes, destyds sogenaamde armlastiges genoem wat hulle toevlug na die stede geneem het. As gevolg van hierdie toedrag van sake het die Afrikaanse taal en kultuur by die Spoorweë reeds by voorbaat ’n geweldige agterstand gehad om in te haal. Dit is ook vererger deur die feit dat die meeste senior administratiewe en tegniese betrekkings deur eentalige Engelssprekende amptenare gevul is terwyl die Afrikaanssprekende werknemer hoofsaaklik ongeskoolde arbeid in die laer range van die Spoorwegdiens verrig het. Juis omdat die Spoorweë onvoldoende omgesien het na die taal- en kultuurbelange van die Afrikaanssprekende werknemer, het die behoefte aan die totstandkoming van ’n kultuurvereniging ontwikkel. Op 19 Augustus 1930 kom die ATKV (SAS & H) onder voorsitterskap van mnr SJ vd Spuy, later superintendent van Handel en Personeel van die Kaapse Oostelike Afdeling van die Spoorweë, in die Raadsaal van die Spoorweghoofkantoorgebou in Kaapstad tot stand. ’n Handjievol geesdriftiges was by hierdie geleentheid teenwoordig. Die nuutgestigte vereniging sou as spreekbuis van die Afrikaners in diens van die SA Spoorweë dien om die taalregte van die Afrikaners in die Spoorweë te beskerm en te bestendig. As een van die vernaamste doeleindes van die Vereniging word gestel: “… om ’n wakende oog … oor die Afrikaanse taalbelange te hou.” Die doel en strewe van die Vereniging word in die eerste eksemplaar van die Vereniging se maandblad, Die Taalgenoot, kernagtig geformuleer in die leuse van die Vereniging: “Handhaaf en bou”, en “Praat, lees en skryf Afrikaans”. Die volledige oorspronklike doelstellings van die Vereniging luis soos volg:

  1. Om die gebruik van Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens te bevorder en ’n lewendige belangstelling in Afrikaanse kuns en kultuur aan te kweek.
  2. Die bevordering van die intellektuele en kulture welsyn van sy lede.

Die grondslag van die Vereniging is in 1934 soos volg geformuleer: “Die Vereniging staan op Christelik-historiese grondslag.” Die Vereniging het homself gesien as die draer van die gedagte waarin die denkbeeld dat die Afrikanervolk ’n geroepe volk is, sentraal staan. Hierdie roeping het dan ook onder meer ingehou die handhawing en uitbou van die tradisionele geestesgoedere van die Afrikanervolk.