Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1Fak_logo1
  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis
    • FAK-Fotoversameling
    • Tydvakke
    • Kultuurorganisasies
    • Klankargief
    • Afrikanergeskiedenis algemeen
    • Geskiedenisdagboek
    • Afrikaanse Kultuuralmanak
    • Kultuurkroniek
  • Word ‘n vriend
  • Besoek die FAK
  • Soek ons
  •           
✕

19 APRIL

  • Tuis
  • Afrikaanse Kultuuralmanak April
  • 19 APRIL
18 APRIL
November 1, 2016
20 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1762 – Koop grond van die Khoi-Khoi

Kommissaris Van Overbeek koop die gebied tussen Houtbaai en Saldanabaai van die Khoi-Khoi.

1975 – Dr. Nic Diederichs word ingesweer as Suid-Afrika se derde staatspresident

 

Geboortes

1876 – Erich Mayer, Duits-gebore Suid-Afrikaanse skilder († 10 Augustus 1960)

Ernst Karl Erich Mayer is in Karlsruhe, Duitsland, gebore. Hy ontvang sy eerste skoolonderrig in sy tuisdorp, en na matriek bestudeer hy argitektuur met tekene en skilderkuns as byvakke. As gevolg van ’n longaandoening, wat ’n siekbed van twee jaar meebring, word hy deur sy geneeshere aangeraai om na die droër klimaat van Suid-Afrika te verhuis. Hy vestig hom op Vrede in die OVS, waar hy diens aanvaar as assistent-landmeter. Mayer se noue kontak met die Afrikaner hier laat hom ’n besondere toegeneentheid teenoor hulle verkry, wat hom lewenslank bybly. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom vrywillig by die Boeremagte aan. Die buitelewe doen sy gesondheid goed, soseer dat sy wonderlike herstel in mediese vaktydskrifte vermeld word. Mayer se skildertalent kom hom op kommando goed te pas, waar hy sketse maak wat van groot waarde word.


In 1900 word hy krygsgevange geneem en na St. Helena gestuur. Hy maak ook hier van die geleentheid gebruik om sy skilderkuns te beoefen. Na die vredesluiting deurreis hy Suid-Afrika, maar skilder hoofsaaklik in die OVS en Transvaalse Laeveld, waar hy hom toespits op die mooi klein waterverfskilderytjies, waarvoor hy later so bekend sou word. Tydens die Eerste Wêreldoorlog word hy geïnterneer en in Fort Napier, naby Pietermaritzburg, aangehou. Hier gebruik hy die tyd om sy kuns verder te ontwikkel.

In 1928 trou hy met Margaretha Gutter, wat self baie kunssinnig is, en saam deurreis hulle SWA drie jaar lank voordat hulle hulle in Pretoria vestig. Sy vrou open ’n spin- en weefskool, en Mayer teken baie van die ontwerpe wat in die skool gebruik word. Hy word nou voltyds kunsskilder, en onder beskerming van die Universiteit van Pretoria hou hy ’n uitstalling van sy werke, wat talle sketse en skilderye uit die tyd van die kommandodae en St. Helena insluit.

Hy het ’n plek in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis verwerf met sy Nagmaaltonele by Nylstroom en die uitbeelding van die Boere op kommando. Een van sy geliefkoosde onderwerpe was die kremetartboom. Tot sy amptelike opdragte behoort die muurversierings in die personeelrestourant van die Johannesburgse poskantoor, by die Johannesburgse Onderwyskollege en by die Hoërskool Monument, Krugersdorp. Die betekenis van Mayer se kuns lê daarin dat hy gesoek het na ’n ware Suid-Afrikaanse kunsvorm, en dat hy bygedra het tot die ontwikkeling van kunswaardering in Suid-Afrika deur uitstallings op die platteland en deur gesprekke met die mense wat sy uitstallings bygewoon het, te voer. Erich Mayer was ’n Duitser van geboorte, maar het hom volkome met die Afrikaanse kultuur vereenselwig. Hy en sy vrou was albei teenwoordig by die stigting van die FAK. Sy kunstalent getuig van sy liefde vir die mense en alle fasette van sy aangenome land. Hy bring sy laaste dae in ’n huis vir bejaardes in Pretoria deur, waar hy op 10 Augustus 1960 sterf.

1931 – Hendrik Jacobus (Kobie) Coetsee, prokureur, politikus en Kabinetsminister († 29 Julie 2000)

Kobie Coetzee was ’n prokureur en politikus. Hy was van 7 Oktober 1980 tot 31 Maart 1993 die Minister van Justisie. Van 1 April 1993 tot 11 Mei 1994 het hy as die Minister van Verdediging gedien. Hy het ook as onderhandelaar vir die Nasionale Party tydens die land se oorgang na ’n volledige demokrasie opgetree. Na die verkiesing van 1994 is hy tot president van die senaat verkies. Hoewel die ANC ’n gemaklike meerderheid gehad het, beklee hy hierdie posisie tot in 1997.

Sterftes

1879 – Just Friedrich Rudolph Kaufmann Höhne, politikus (* 1831)

Just Friedrich Rudolph Kaufmann Höhne, ook wel J.F.R. Kaufmann Höhne, algemeen bekend as Friedrich Kaufmann Höhne, was ’n Suid-Afrikaanse politikus, Staatsekretaris en waarnemende Staatspresident (1872) gedurende die afwesigheid van Staatspresident Brand.

1930 – Friedrich Wilhelm Jannasch, medestigter van die SA Musiekkonservatorium (* 15 Oktober 1853)

Friedrich Wilhelm Jannasch is op Mamre gebore as seun van ’n Duitse Morawiese sendeling. Hy ontvang sy skoolopleiding by Christiansfeld in die huidige Denemarke. Hy begin as vyftienjarige met orrellesse aan die Koninklike Sweedse Musiekakademie in Stockholm. Hierna studeer hy verder in Berlyn en Breslau in Duitsland. Hy was van 1872 tot 1882 onderwyser in die Morawiese gemeenskap te Gnadenfrei in Schlesien.

NJ Hofmeyr van die Stellenbosse Kweek­­skool werf Jannasch in 1883 om ’n musiekskool op Stellenbosch tot stand te bring. Saam met vier ander plaaslike en buitelandse musici, waaronder die Oos­tenryker Hans Endler, stig hy in 1905 die Zuid-Afrikaansche Conservatorium voor Muziek – tans die Departement van Musiek van die Universiteit van Stellenbosch. ’n Jaar later is ’n gebou met ’n konsertsaal in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, volgens sy planne opgerig. Hy tree in 1921 as direkteur af.

Hy was van 1887 af tot met sy dood in 1930 orrelis en koormeester van die Stel­lenbosse Moederkerk. Prof. Jannasch het ook talle koorwerke en orrelstukke gekomponeer en ’n aantal van Totius se Psalm­berymings getoonset. Sy gewilde melodieë van Ps 23, 90 en 91 word steeds gebruik. Hy het self ook heelwat oor kerkmusiek ge­skryf.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Share
0

Related posts

November 1, 2016

30 APRIL


Lees meer
November 1, 2016

29 APRIL


Lees meer
November 1, 2016

28 APRIL


Lees meer

Navigasie

  • Tuis
  • Afrikanergeskiedenis algemeen
  • Tydvakke
    • Pioniers (1652–1820)
    • Groot Trek (1820–1845)
    • Presidente (1845–1902)
    • Generaals (1902–1948)
    • Nasionaliste (1948–1976)
    • Militariste (1976–1994)
    • Afrikaners na 1994
  • Geskiedenisdagboek
  • FAK-Fotoversameling
  • Suider-Afrika Geskiedenis
  • Afrikanerkultuur
  • Kultuurorganisasies
logo
Word 'n vriend

Kontak Ons

Moerdijkhuis,
Voortrekkermonumentterrein Eeufeesweg,
Pretoria

012 301 1777
fak@fak.org.za

1m

© 2021 FAK. Kopiereg voorbehou