Martin Luther (1483-1546)
July 26, 2018
Onderwys in die vroeë jare
July 26, 2018

Foto: Die foto wat hier afgebeeld is, is waarskynlik omstreeks 1870 in Natal geneem en toon die Nederlandse immigrantegesin Louw in gesellige luim voor hul grasdakhuis. Een van die dogters speel konsertina. Die foto was oorspronklik in die besit van mev. Emma Horn, van Kaapstad.

Verskeie faktore het, omstreeks die jare vyftig van die vorige eeu, die Nederlandse landsverhuising na ons land beïnvloed. Na die Napoleontiese tydperk het ’n langdurige ekonomiese insinking gevolg. Mislukking van die graan- en artappeloeste, skerp ekonomiese mededinging, swaar belastingdruk, oormatige grondversnippering en werkloosheid was onder dié faktore wat duisende Nederlanders laat besluit het om elders gunstiger bestaansmoontlikhede te gaan soek.

Tussen 1845 en 1854 het ruim 20 000 Nederlanders hul geboortegrond vaarwel gesê. Die meeste van hulle het hulle in Noord-Amerika gaan vestig. In 1857 is Europa weer eens deur ’n ekonomiese depressie getref, en weer het ook in Nederland die aantal emigrante toegeneem!

Tussen 1849 en 1863 het ongeveer 1 500 Nederlanders aan boord van skepe onder Nederlandse vlag na ons land vertrek. ’n Aantal van hulle het, ten spyte van moeilikhede van ’n taalkundige aard, besluit om Natal as hul nuwe vaderland te aanvaar.

Voordat die stigters van “Nieuw-Gelderland” in die Natals-Zoeloelandse grensgebied aangekom het, was daar reeds ’n klein aantal Nederlanders wat hul lief en leed met die Voortrekkers gedeel het. Onder hulle was dr. Bernardus Poortman en eerw. Erasmus Smit vermoedelik die bekendstes. In 1842 het die Nederlandse handelskip “Brazilië” in die baai van Port Natal aangekom en kort daarna het opperkoopman J.A. Smellekamp met die Volksraad onderhandel om, naby die baai, grond vir 500 Nederlandse boeregesinne te verkry. Die anneksasie van die republiek Natalia het ook hierdie planne in rook laat opgaan. Omstreeks 1850 was dr. Poortman, Johan Marinus Struben en sy gesin asmede die onderwyser J. Marquard met sy Friese gade op Pietermaritzburg woonagtig, terwyl die skrywer van “De Hollandsche Afrikanen”, Jacobus Stuart, hom later by hierdie groepie Nederlanders en oud-Nederlanders gevoeg het. In 1854 is hierdie klein Nederlandse kolonie in Natal versterk deur die koms van T.C. Colenbrander, met sy gade en vyf kinders en sy deelgenoot W. van Prehn.

Foto: Theodorus Christiaan Colenbrander, stigter van Nieuw-Gelderland. (Foto: Uit die versameling van dr. J Colenbrander, Pietermaritzburg)

Theodorus Christiaan Colenbrander, ’n verteenwoordiger van ’n ou Gelderse geslag, gebore te Doesburg op 18 September 1811, het in die toenmalige Oos-Indië (Java, Soebang) die tropiese landbou beoefen. Hy is daar met mej. Geraldine Nicoline van Groll getroud. Hierdie egpaar, wat uiteindelik met elf kinders geseën sou word, het—saam met Van Prehn en ’n groepie Javaanse plantasie-arbeiders—in September 1854 van Java na Natal vertrek. Colenbrander en Van Prehn het hulle naby Pinetown op die kweek van ’n destydse belangrike kleurstof (indigo) toegelê.

Foto: Mev. GN Colenbrander (gebore Van Groll) eggenote van Theodorus Christiaan Colenbrander. (Foto: Uit die versameling van dr. J Colenbrander, Pietermaritzburg)

’n Broer van Van Prehn, woonagtig te Brummen, prov. Gelderland, Nederland, het daar pogings aangewend om ’n vereniging in die lewe te roep om grondaankoop en ontginning in Natal te bevorder en om vervolgens landverhuisers te verkry om die grond te bevolk en te bearbei. Vermoedelik het arbeidsvraagstukke in verband met hierdie strewe gestaan. T.C. Colenbrander het in 1856 moeilikhede met sy nie-blanke werkers ondervind, aan die Natalse Sekretaris van Naturellesake dat al sy Bantoewerkers uit sy diens getree het en dat, op grond daarvan, sy onderneming naby Pinetown sou misluk. Nog in dieselfde jaar is deur hom aan die Natalse Uitvoerende Raad voorgestel om Nederlanders in te voer. Die Raad het hierdie voorstel op 14 November 1856 aanvaar en op 28 Julie 1857 is, nou deur die Natalse Koloniale Sekretaris, grond teen ’n erfpag van £31.5.0 aan Colenbrander toegeken op voorwaarde dat hy voor 29 Julie 1859 ’n twintigtal Nederlanders op die terrein, naby die Nonoti, sou vestig en ’n indigofabriek sou oprig. Op hierdie tydstip het Van Prehn reeds sy geluk met koffie in die omgewing van die Umtali gaan beproef.

Reeds voordat T.C. Colenbrander sy reeds genoemde voorstel by die Natalse Uitvoerende Raad ingedien het, het een van sy familielede, Johannes Arnoldus Colenbrander, van Doesburg, werkkragte in sy omgewing begin werf, terwyl hy en Arnold Benjamin Colenbrander, van Nijkerk, op 31 Augustus 1856 met die skip “ZaltbommeI” na Suid-Afrika afgereis het om die toestand en vooruitsigte plaaslik te bestudeer. Hierdie besoek het onder meer daartoe gelei dat ’n terrein naby die Nonoti uitgesoek is wat mettertyd in plasies van 25 tot 50 morg verdeel sou word. Daar is verder bereken dat, waar hierdie plasies deur koloniste vir eie rekening bewerk sou word, die onverdeelde grond ’n kapitaal van fl.. 150.000 (£12,500) sou vereis om behoorlik bewerk en bevolk te word. Hierdie planne en gegewens is, na sy terugkeer in Nederland, deur J.A. Colenbrander in ’n brosjure verwerk wat in Maart 1858 verskyn het. Daarna het die “Nederlandsche Land bouw-emigratie-Maatschappij” gevestig te Doesburg, op 5 November 1858 die deur die Nederlandse wet vereiste koninklike goedkeuring ontvang. As een van die deelhebbers is J.A. Colenbrander genoem wat die belange van die maatskappy in Nederland sou behartig, terwyl Theodorus Christiaan Colenbrander in Natal as direkteur sou fungeer. Die Amsterdamse reder-skeepseienaar M.C. Lapidoth sou die toekomstige koloniste na Natal vervoer.

Op 22/4/1858 het die Nederlandse skip “Estafette” (424 ton) van Texel vertrek, op 8/7/1858 in Tafelbaai geanker en vervolgens op 31/7/1858 na Port Natal vertrek om daar op 19 of 20 Augustus 1858 aan te kom. Aan boord van dié skip was o.m. Sophia Alida Colenbrander, Adriaan Colenbrander, A.J. van der Veen, met sy eggenote en drie kinders; J.H. Gielink, met eggenote en vier kinders; J.M. Gielink, A.J. Reevoort, H.W. Hoetink en H. Willemsen.

Op 9/12/1858 volg die vertrek, weer van die eiland Texel, van die “Hermanus Isaac,” ’n skip van 169 ton, wat op 13/3/1859 in Tafelbaai arriveer, op 28 Maart 1859 onder seil gaan na Port Natal en daar op 17 April 1859 aankom. Vermoedelik was daar ’n paar koloniste, met “Nieuw-Gelderland” as eindbestemming, aan boord van hierdie skip. Meer gegewens lewer die passasiers van die “Jan van Brakel” op wat op 19/3/1859 van Texel vertrek, die skip se tonnemaat was 372, en op 14/7/1859 in die baai van Port Natal aankom. Aan boord van dié skip was onder meer Jan Freriksen, met vrou en kind; die egpaar Gielink met vyf kinders, die egpaar Wassink met vier kinders, die egpaar Reuterink met twee kinders en die egpaar Wantink. Daarna het, op 6/4/1860, die “Hermanus Isaac” weer van Amsterdam na Port Natal vertrek en daar op 8/7/1860 aangekom. Onder die passasiers vir “Nieuw- Gelderland” was o.m. J.J. Hoogvorst, met sy vrou en sewe kinders.

Die juiste aantal Nederlanders wat omstreeks 1860 op “Nieuw-Gelderland” gevestig was, was ongeveer negentig.

Een van die koloniste, W.K. Ente, “opzigter bij de kultuur” te “Nieuw-Gelderland” het in 1862 sy lesenswaardige brosjure van 40 bladsye “Natal en Nieuw-Gelderland en de vooruitzigten der kolonisatie aldaar” (Arnhem, 1862) die lig Iaat sien. Hierdie werkie is veral beskrywend van aard en voer die leser hier en daar terug na 1858, die jaar waarin Ente “de stad d’Urban, tellende tusschen 3 en 4 000 inwoners” vir die eerste keer aanskou het. Die skrywer prys Durban in velerlei opsigte maar voeg, waarskuend, aan sy lof toe: “Emigranten, welke plan hebben zich in het binnenland te vestigen, zou ik aanraden, om zoo kort mogelijk in de stad te vertoeven, want het is er zeer duur, en de kwade praktijk van vele winzuchtigen is er niet zelden op uit, om den armen emigrant uit te kleeden.”

Laat ons liewers luister na die besonderhede wat Ente oor “Nieuw-Gelderland” meedeel,—“Ongeveer drie mijlen ten noorden van de rivier de Umvoti, aan den grooten weg naar het Zoeloland, ligt het land toebehoorende aan de Nederlandsche Emigratie-Maatschappij, vormende nagenoeg een driehoek, ten noordwesten begrensd door het riviertje de Nonoti…terwijl de oppervlakte 6 500 acres of ruim 3 000 morgen beslaat; ten oosten ongeveer een uur van de zee verwijderd. Dit land, Nieuw-Gelderland genaamd, is thans bewoond door een 90 tal Europesche zielen, terwijl het getal Kaffers, die er op wonen, tusschen de 300 en 400 zal bedragen”.

In hierdie omgewing het T.C. Colenbrander se stigting, met die meeste koloniste afkomstig uit die provinsie Gelderland, met veldgewasse, bokwiet en suiker begin boer …

In 1860 het T.C. Colenbrander sy suikermeul gebou wat ongeveer twaalf jaar die grootste van Natal was. Daarna het George Stuart die meul gekoop en gemoderniseer en tot omstreeks 1955 of 1956 dié bedryf aan die gang gehou…

Die ou staatmakers van weleer het heengegaan en jare gelede het die skrywer die begraafplaas van “Nieuw-Gelderland” besoek. Daar, tussen die suikerriet, rus hulle: Hendrikus Merinus Freriksen (11/5/1852—12/4/1909), Jan Freriksen (12/9/1814—9/12/1870) en sy eggenote Aaltjen (29/6/1820—21/7/1888), Jan Getkate en sy vrou Christina wat op 6/9/1924 op 93-jarige leeftyd ontslape is, Willem Albers (Julie 1852—21/12/1876), Jan Hendrik Gielink (4/11/1821—17/2/1872), Jacob Janzoon Hoogvorst, W. Weber en sy eggenote Antjen, Dirk Jan Makkink (1/6/1846—16/5/1906), G. Wassink, Alida S. Colenbrander, J.C. Louw, H. Reuterink, om slegs ’n paar name te noem. Sommige van dié wat hier ter ruste gelê is, is elders oorlede, maar hier begrawe.

Daar is die Colenbrander-familiegraf met ’n gedenkteken ter herinnering aan Adriaan C.N. Colenbrander wat op 24- jarige leeftyd in Nederland oorlede is (7/6/1876), terwyl Jacob Hoogvorst op 10/9/1937 te Durban ontslape is …

Hulle het van ver oor die see gekom en die ongetemde Natalse aarde bewerk om hul lewe en week in dieselfde omgewing af te sluit. Van hulle en ander staatmakers van Natal het die skrywer T.V. Bulpin in sy “Natal and the Zulu Country,” (Cape Town, 1972) so treffend getuig: “All their hopes and schemes, their sacrifices and triumphs, like tears upon a child’s face, having lingered but a little while and then been lost in sleep.” (p. 442)

Mag ons hulle, ook die ou koloniste van “Nieuw-Gelderland”, as mede-bouers van die hedendaagse Natal, in dankbare herinnering onthou!

Bron: Ploeger, Jan. 1974. Lantern, Maart: 30-32.