17 OKTOBER
October 17, 2015
19 OKTOBER
October 19, 2015

Gebeure

1686 – Edik van Nantes herroep

Na ’n reeks godsdiensoorloë in Frankryk in die 16de eeu het koning Hendrik IV in 1598 die Edik van Nantes uitgevaardig. Hiervolgens het die Franse Protestante, bekend as Hugenote, ’n groot mate van geloofsvryheid verkry. Toe Lodewyk XIV in 1685 die edik herroep was daar vir diegene wat hulle protestantse geloofsoortuiging wou uitleef, nie meer plek in die Rooms-Katolieke georiënteerde Frankryk nie. Al uitweg was om te vlug. Ofskoon talle doodgeskiet of gevang en in gevangeneskap geplaas is, het duisende ontvlug, ook na Nederland. Van daar het 150 Hugenote in 1688 in die Kaap aangekom. Hulle het aanvanklik probeer om hul identiteit te behou, maar het eindelik volkome opgegaan in die Hollandse gemeenskap aan die Kaap. Hoewel hulle klein in getal was, het hulle ’n groot bydrae gelewer tot die vorming van die Afrikaner.

1687 – Eerste kerkgebou op Stellenbosch ingewy

As stigter van die dorp Stellenbosch het goew. Simon van der Stel ’n besondere belangstelling in sy “Kolonie” geopenbaar. Ooreenkomstig die beleid van die VOC, besluit hy om ’n kerkgebou en drosdy hier te laat oprig. Hy het ywerig reëlings getref vir die bouery en persoonlik die vordering dopgehou. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie kerkie die eerste volwaardige kerkgebou in Suid-Afrika was – ’n sigbare teken van die Calvinistiese godsdiens wat uit Nederland aan die Kaap oorgeplant is. Op Van der Stel se uitdruklike wens is ’n klein kloktorinkie op die nok van die dak aangebring, duidelik sigbaar op ’n tekening van Stellenbosch deur Stade uit die jaar 1710. Die inwyding van die kerkgebou het onder groot belangstelling met Simon van der Stel se tradisionele verjaarsdagbesoek aan Stellenbosch van 13 tot 20 Oktober 1687 plaasgevind. Die diens is gehou deur ds. Johannes van Andel. Sy teksvers was die bekende seënbede uit Numeri 6:23-27: “De Heere Zegene u, ende behoede u …”

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Philippolis wat tot 24 Oktober 1900 sou duur

1961 – Eerste verkiesing in die RSA

Op 5 Oktober 1960 het die volkstemming oor republiekwording plaasgevind. Die persentasie stemme uitgebring was 90,5. Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n Republiek geword – buite die Britse Statebond. In Junie 1961 het die eerste Republikeinse parlement geopen, maar die lede is in April 1958 onder premier Strijdom verkies. Die eed van trou deur Parlementslede uitgespreek, is nietemin voortaan teenoor die RSA en sy Staatspresident uitgespreek. In politieke kringe het verdere afskeidings en hergroeperings en grondwetlike voorstelle bekend geword. Die Senaat is in 1960 drasties verklein. Die gevolg was dat dr. Verwoerd as premier die nuwe politieke gesteldheid wou toets. Daarom het hy tot ’n algemene verkiesing besluit – 18 maande voor die eintlike datum. Hy wou veral die rassefederasieplan van die Verenigde Party verwerp sien, omdat hierdie politieke samewerking tussen die volksgroepe op politieke magsdeling neergekom het. Die getroue Afrikaner het dit as gevaarlik vir die republikeinse blanke toekoms beskou. Die eerste algemene verkiesing in ’n republikeinse bedeling het toe op 18 Oktober 1961 plaasgevind. Die Nasionale Party het 105 van die 160 setels verower. Vir die eerste keer sedert 1948 is twee Engelstaliges, t.w. AE Trollip en F Waring in die Kabinet opgeneem. Dr. HF Verwoerd, premier van die RSA, het dit beskou as ’n simbool van die einde van die politieke verdeling volgens taalgrense wat deur die republiekwording – ’n Afrikanerdroom – meegebring is.

 

Geboortes

1653 – Abraham van Riebeeck, seun van  Jan van Riebeeck († 17 November 1713)

Jan van Riebeeck se seun, Abraham, was die tweede blanke kindjie wat in die fort De Goede Hoop gebore is. Op sewejarige ouderdom word hy en sy ouer broer, Lambertus, na Nederland gestuur waar hy hom in die regte bekwaam het. As VOC-amptenaar kom hy in 1677 in Batavia aan, waar hy hom deur sy bekwaamheid en ywer sodanig onderskei dat hy in 1708 die hoogste sport in diens van die VOC bereik, nl. goewerneur-generaal van Oos-Indië. Volgens sy tydgenote was hy wel ter tale, onbesproke van karakter en beskeie – ’n man met ’n wakker gees en wye belangstelling. Hy is op 17 November 1713 in Batavia oorlede.

1888 – Ernst Berthold Grosskopf, Afrikaanse skrywer († 15 Desember  1949)

Ernst Berthold Grosskopf het die graad BA aan die destydse Grey-Universiteitskollege, Bloemfontein, verwerf. Nadat hy in 1914 as rebel gevang is, word hy lid van die eerste redaksie van Die Burger in 1915. Sy bekendste werk is Patrys-hulle. Hy was ook redaksielid van Die Suiderstem en Die Republikein en redakteur van Die Naweek. Uit sy pen het ook verskyn Swart Slang (1930), Henri die skildknaap (1935) en Dorpenaars en ander verhale (1940). Hy is op 15 Desember 1949 in Kaapstad oorlede.

 

Sterftes

1953 – William Angus (Willie) Hofmeyr, kultuurleier en sakeman. Die WA Hofmeyr-prys is na hom vernoem (* 16 Maart 1869)

William (Willie) Angus Hofmeyr, sakeman en kultuurleier, is op Montagu gebore. In 1889 het hy sy BA-graad aan die Victoriakollege op Stellenbosch behaal, hom as prokureur in Johannesburg bekwaam en in sy eie Randse praktyk en later in ’n vennootskap in Kaapstad gepraktiseer. Na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hy in die politieke stryd van daardie jare beland, veral weens sy diepe begeerte om uiting deur middel van die pers vir die opgekropte gevoelens van menige Afrikaners te verkry. Die Nasionale Pers het in 1915 onder sy aanvoering tot stand gekom, en hy was die eerste direksievoorsitter. Tot met sy dood op 18 September 1953 op Stellenbosch was hy in verskeie ampte aan die Nasionale Pers verbonde. Op sakegebied was hy ’n baanbreker en het in 1918 die eerste voorsitterskappe van Santam en Sanlam beklee, asook later dié van African Homes Trust, Bonuskor en Voortrekkerpers. Hy het ’n aanmerklike bydrae tot die stigting van Federale Volksbeleggings en die vestiging van Saambou-Bouvereniging gelewer. By die toekenning van die eregraad DCom, deur die Universiteit van Stellenbosch in 1947, word WA Hofmeyr bestempel as aanspraakmaker op die benaming van leier van die eerste ekonomiese oplewing van die Afrikaanssprekende. Hy het van 1929 tot 1939 en weer in 1948 in die Senaat gedien. Ná sy dood stel die Nasionale Pers die W.A. Hofmeyr-prys vir letterkunde tot sy nagedagtenis in.

1959 – Casparus de Wet, gereformeerde predikant, hoogleraar in teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en skrywer (*23 Maart 1887)

Prof. dr. Casparus de Wet was van 1916 tot 1925 ’n leraar in die Gereformeerde Kerk en van daardie jaar tot 1946 ’n professor in die teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys toe hy as sowel hoogleraar dan lidmaat van die Kerk bedank het weens ’n leergeding.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/