17 MEI
January 10, 2017
19 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1774 – Joachim van Plettenberg as Goewerneur van die Kaap beëdig

Joachim Ammema van Plettenberg is op 8 Maart 1739 gebore. In 1767 word hy aan die Kaap as fiskaal aangestel, en na die dood van Tulbagh word hy goewerneur aan die Kaap. Op 18 Mei 1774 is hy as goewerneur beëdig. Na ’n versoek van die Oosgrensboere dat ’n magistraatskantoor en ’n kerk aan die oosgrens opgerig word, vertrek goew. Van Plettenberg op ’n uitgebreide reis noord- en ooswaarts om die versoek te oorweeg. Op 6 November 1778 bereik hy ’n baai digby die plaas Melkhoutkraal. Hierdie baai het voorheen verskeie name gehad. ’n Klippilaar wat in Kaapstad gemaak is met die wapens van die Verenigde Provinsies, die monogram van die VOC, die wapen van die goewerneur en ’n bypassende inskripsie, is deur goew. Van Plettenberg opgerig. Die baai is amptelik Plettenbergbaai gedoop, soos dit steeds heet. Hy is op 18 Augustus 1793 op Windesheim by Zwolle oorlede.

1899 – Jan van Riebeeck-standbeeld onthul

Op 18 Mei 1899 word ‘ n standbeeld van Jan van Riebeeck onthul. Die standbeeld staan in Heerengrachtstraat in Kaapstad. Dit is in brons gebeeldhou deur John Tweed en aan die stad Kaapstad geskenk deur Cecil John Rhodes, ’n politikus en finansierder van die laat 19de eeu.

1938 – Algemene Verkiesing

Die algemene verkiesing van 1938 op hierdie dag het om beginsels gegaan. In 1933 nog was ekonomiese omstandighede deurslaggewend. Daarna in 1934 het Hertzog en Smuts, as leier van die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party onderskeidelik, polities saamgesmelt. Dr. Malan het as getroue Afrikaner eenkant gestaan. Vir hom was dit belangriker om volksideale te handhaaf as om ’n verkiesing te wen. Dr. Malan wou naamlik propaganda vir ’n republiek maak, die land van Brittanje en die Britse Ryk afskei soos die Afrikaanse volk dit begeer het, en hy wou, in geval van ’n Europese oorlog, neutraal staan. Die Arbeidersparty het drie setels op hierdie stemdag verower, die Britsgesinde Dominion Party agt, die Nasionale Party 111. Hertzog het dus premier gebly, Smuts was sy adjunk en dr. Malan Leier van die Opposisie. Maar die Eeufeesjaar het ’n besielende oplewing van Afrikanernasionalisme na vore laat kom. Die Afrikaner was weliswaar ekonomies swak en polities verslaan, maar kultureel trots. Presies hieruit het ook in Mei 1948 politieke triomf vir dr. Malan gevolg. Immers, toe Hertzog in September 1939 deur Smuts van sy premierstoga beroof is deur Suid-Afrika met Engeland in ’n wêreldoorlog te dompel, het juis dr. Malan vir Hertzog as Afrikanerpatriarg en volksleier en taalgenoot terugverwelkom. Hieruit is, sonder Hertzog, die Afrikanerparty in 1941 gebore. Malan self het met sy Herenigde Nasionale Party of Volksparty die Afrikanermens polities, kultureel, ekonomies en Christelik-nasionaal gehuisves. Hieruit is ook die politieke roem van Mei 1948 gebore, want ’n getroue volk is magtiger as enige politieke party.

 

Geboortes

1818 – Willem Cornelis Janse van Rensburg, president van die ZAR († 13 Augustus 1865)

Willem Cornelis Janse van Rensburg was van 1862 tot 1864 eers waarnemende, toe die verkose tweede president van die ZAR. Hy is op 13 Augustus 1865 oorlede. Op 17 Augustus 1974 word hy in die Pretoriase Heldeakker herbegrawe. 

 

Sterftes

1964 – Harm Oost, joernalis, skrywer en politikus (* 21 Julie 1877)

Harm Oost was een van die kleurrykste persoonlikhede in die wordingsgeskiedenis van die Afrikanervolk. Hy is in 1877 in Oostwald, Groningen, Nederland gebore. In die laat negentigerjare het hy na Suid-Afrika geëmigreer, hom in Transvaal gevestig en hom dadelik met die Boerevolk en sy Republikeinse staatsvorm vereenselwig. In die Anglo-Boereoorlog is hy gevange geneem nadat hy gehelp het om die Modderrivier-brug op te blaas – ’n daad wat hom amper voor die vuurpeloton laat beland het. 
Na die oorlog het hy hom saam met Gustav Preller beywer vir die opheffing van Afrikaans as kultuurtaal en daarmee die Tweede Taalbeweging begin. Sy toneelstuk, Ou Daniel, die eerste Afrikaanse drama wat in Transvaal geskryf is, is dikwels opgevoer. Hy was ’n knap joernalis en het van 1907 tot 1911 in die redaksie van De Volkstem (redakteur DJ Engelenburg) gedien. As gevolg van politieke oorwegings het hy ’n eie koerantjie, Die Week, begin, wat later deur Die Volk opgevolg is. Die koerante het die beleid van genl. Hertzog verkondig. Later, met die stigting van Ons Vaderland het Harm Oost daarvan redakteur geword, ’n pos wat hy neergelê het toe hy tot die Volksraad verkies is. Tydens die Rebellie het hy hom aan die kant van die rebelle geskaar as sekretaris en hoof van genl. De Wet se lyfwag. Hy is gevang en het 18 maande gevangenisstraf, waarvan vier maande in eensame opsluiting was, uitgedien. In 1912 het hy saam met ses ander, die onder voorsitterskap van Tielman Roos, ’n organisasie gestig om Hertzog se beleid te propageer – voorloper van die Nasionale Party. In die later jare sou Oost sy party se verteenwoordiger in die Volksraad in die kiesafdeling Pretoria-Wes word. In die Hertzog-monument in Bloemfontein vind die Afrikaner rede om Harm Oost te onthou, want dit was sy hartsbegeerte om ’n waardige gedenkteken vir hierdie groot Afrikanerleier te laat oprig. Tot met sy dood was hy voorsitter van die Hertzog-monument-komitee. 

1978 – Samuel Henri Pellissier, vader van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging (* 10 November 1887)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/