17 MAART
November 1, 2016
19 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1852 – Sandrivierkonvensie onderteken

Die Sandrivierkonvensie, wat die onafhanklikheid van emigrantboere noord van die Vaalrivier erken, word deur die Volksraad van die Transvaalse Republiek bekragtig. Verteenwoordigers van die Boere en die Britse regering het dit twee maande gelede onderteken.

1862 – Die spoorlyn van Kaapstad af bereik Stellenbosch

1880 – Kleinfontein-byeenkoms

Ongeveer 5 000 Burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) kom op Kleinfontein bymekaar uit protes teen die anneksering van die ZAR deur Brittanje. Sir Bartle Frere het met sy aankoms ’n koue skouer ontvang, en was in geen onduidelike terme die versekering gegee dat die meerderheid inwoners nie ten gunste van anneksering van die ZAR was nie. Die Kleinfontein-byeenkoms was opgevolg deur die Wonderfontein-byeenkoms.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die begin van die sogenaamde eerste fase van die guerilla-oorlog

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kapt. Danie Theron vernietig die spoorwegbrug naby Glen by Bloemfontein

1922 – Die staking van mynwerkers op die Witwatersrand tot ’n einde

1950 – Stigting van die Universiteit van Oranje-Vrystaat

Reeds in 1896 het pres. MT Steyn die ideaal van ’n selfstandige universiteit vir die Vrystaat gekoester. In 1899 besluit die Volksraad om in samewerking met die ZAR ’n eie republikeinse inrigting vir hoër onderwys tot stand te bring. Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sou die verwesenliking van hierdie ideaal egter verhinder. Intussen het dr. Johannes Brill, rektor van die Greykollege, verskeie van sy matrikulante vir die Intermediêre Eksamen van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop opgelei, wat die grondslag gevorm het vir die stigting van die Grey-Universiteitskollege in 1904 deur die Oranjerivier-Kroonkolonieregering. Byna ’n halwe eeu sou die GUK ’n klein en versmaaide inrigting bly, omdat die Vrystaters verkies het om hul seuns en dogters na ander inrigtings te stuur en ook vanweë die feit dat die GUK se beleid en voertaal nie deur en deur Afrikaans was nie. Om die inrigting ’n sterker Vrystaatse karakter te gee, is die naam van die inrigting in 1935 in die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat verander. Sedert 1918 het die inrigting ’n samestellende kollege van die Universiteit van Suid-Afrika uitgemaak, wat na die Tweede Wêreldoorlog die meeste van sy kolleges as selfstandige universiteite moes afstaan. Na die oorlog is die langdurige stryd om die inrigting ’n suiwer Afrikaner- en Christelik-nasionale karakter te gee, gewen. Die studentetal het snel begin groei, en op grond van die gehalte van doseerwerk en navorsing aan die inrigting, het ’n Gekose Komitee in 1949 by die Volksraad aanbeveel dat die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat ’n volwaardige en selfstandige universiteit moet word. ’n Jaar later, nl. op 18 Maart 1950, het die Universiteit van die Oranje-Vrystaat formeel tot stand gekom en sedertdien van krag tot krag gegroei.

1976 – Die Suid-Afrikaanse Vloot neem sy eerste duikboot, die SAS Maria van Riebeeck, in gebruik.

1988 – Hugenotetonnel open

Die Hugenotetonnel op die N1-hoofweg tussen die Paarl en Worcester (Wes-Kaap, Suid-Afrika) word amptelik geopen.

Geboortes

1834 – Maria (Marie) Koopman-De Wet, ’n kampvegter vir Afrikanerregte, kultuurleidster, patriotiese weldoener en beskermvrou van die kunste († 2 Augustus 1906)

Maria Margaretha Koopmans-De Wet is in Kaapstad gebore uit een van die vooraanstaande Kaapse families. As jong dogter is sy aangegryp deur die lotgevalle van die Voortrekkers, die totstandkoming van die twee Boererepublieke en die Anti-Bandietebeweging – almal gebeurtenisse wat bygedra het om ’n vurige patriotisme te ontwikkel. Haar woning in Strandstraat 23 het die bymekaarkomplek geword van vooraanstaande Kaapse persone en selfs Boerepresidente. Sy het daarna gestreef om die Kaaps-Hollandse tradisies en leefwyse in ere te hou deur haar te beywer vir die bewaring van die volkseie, beskerming van die inheemse flora en die bewaring van die Kasteel. Sy lewer ook ’n wesenlike bydrae tot die uitbouing van die Hollandse taal, maar dit was veral tydens die Anglo-Boereoorlog dat haar volksdiens tot ’n hoogtepunt uitgevoer is. Haar woning het terselfdertyd die versamelplek geword van goedere wat vir Boerekrygsgevangenes en die Konsentrasiekampe bestem was. Sy is op 2 Augustus 1906 oorlede.

1883 – Prof. Thomas Hugo le Roux, akademikus, taalkundige en fonetikus († 17 November 1970)

Sterftes

Geen

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/