17 JANUARIE
January 17, 2016
19 JANUARIE
January 19, 2016

Gebeure

1807 – Nuwe goewerneur

Sir David Baird, Kaapse goewerneur word uit sy pos ontslaan en vervang met luitenant-generaal HG Grey.

1838 – Pretorius kom in Graaff-Reinet aan

Andries Pretorius kom in Graaff-Reinet aan na ’n uitgebreide besoek aan die Voortrekkers in Natal. Pretorius het dadelik begin met voorbereidings om hom by die  Voortrekkers in Natal aan te sluit.

1848 – Die Montagupas geopen

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Acton Homes, Bo-Tugela

1900 – Anglo-Boereoorlog: Kruger verwerp die teregstelling van beeste

Tydens die beleg van Mafeking (tans bekend as Mafikeng) in die Anglo-Boereoorlog, is twee swart veekuddes gevang en summier deur burgers naby Mafeking doodgemaak, in ooreenstemming met ’n oorlogsbesluit oor veediewe. President Paul Kruger het hierdie besluit onmiddellik weerlê en beveel dat hierdie praktyk onmiddellik ophou.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Ventersburg

1902 – Anglo-Boereoorlog: Kommandant Gideon Scheepers tereggestel

Kommandant Gideon Scheepers, Boere-verkenner en bevelvoerder tydens die Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse Oorlog) is tereggestel deur ’n vuurpeloton langs ’n oop graf in die veld naby Graaff-Reinet. Hy is in Oktober 1901 deur ’n Britse kolom gevange geneem en deur ’n Britse militêre hof skuldig bevind op aanklagte van moord, brandstigting en sloping van treine. Scheepers het tydens sy verhoor erken dat hy brandstigting gepleeg het, maar beweer dat hy te alle tye op bevel van sy superieure offisiere opgetree het. Hy is begrawe op die plek van die teregstelling. Dieselfde nag is sy liggaam egter blykbaar deur Britse troepe opgegrawe en op ’n onbekende plek herbegrawe uit vrees dat sy kommando sou probeer om dit te herstel. Pogings om sy graf op te spoor en benaderings na die Britse owerhede om die ligging te openbaar, was onsuksesvol. Sy teregstelling het ’n protes in Suid-Afrika en in die buiteland veroorsaak. Betogings is in die Britse parlement en die Verenigde State van Amerika gemaak, aangesien hy nie volgens die Geneefse Konvensie behandel is nie. Daar was ook ’n ernstige twyfel of ’n Britse militêre hof bevoeg was om ’n doodsvonnis aan ’n krygsgevangene te verleen terwyl die oorlog nog gewoed het. Sy prestasies in die oorlog was voldoende om te verseker dat sy nagedagtenis sou voortduur, maar die manier waarop hy dood is, het hom ’n martelaar gemaak.

1902 – Anglo-Boereoorlog

Sowat 27 Burgers word by Spitskop, ongeveer 40 km van Ermelo gevang.

1902 – Anglo-Boereoorlog

Generaal Bouwer bevind hom met sy kommando by Doornbaai.

1985 – Bouwerk begin aan die Hugenotetonnel

1991 – Uitspraak van Lothar Neethling-saak

Uitspraak word gelewer in die saak van lt.genl. Lothar Neethling teen die Vrye Weekblad en die Weekly Mail, en daar word bevind dat polisie moordbendes bestaan en dat Neethling gif aan Dirk Nel verskaf en die hof en die Harms-kommissie mislei het.

 

Geboortes

1838 – Daniël Petrus (Daantjie) van den Heever, kampvegter vir Hollands en voorstander van Afrikaans († 4 September 1903)

Daniël Petrus van den Heever is in die distrik Colesberg gebore en op 4 September 1903 op Venterstad oorlede. Hy was ’n boer en lid van die Kaapse Parlement. Hy tree op as kampvegter vir Hollands deur middel van die Boerenbekampvegter vir Hollands deur middel van die Boerebeschermingsvereniging – onder sy voorsitterskap is op 23 Augustus 1878 ’n tak gestig op Vinkelfontein. Hy stig ’n jaar later ook ’n tak van die Afrikanerbond. Deur sy bemoeiinge en petisies vir die erkenning van Hollands in die Parlement, neem die Wetgewende Vergadering die voorstel van JH Hofmeyer (Onze Jan) aan wat die gebruik van Hollands in die Parlement wettig. Op 17 Januarie 1893 onthul Van den Heever die Taalmonument op Burgersdorp. Hy word lid van die Afdelingsraad in 1880; in 1883 vrederegter; en die jaar daarop lid van die sirkel Noordoostelike Distrikte in die Wetgewende Raad. Hy bly tot sy dood LWR. Hy was ook ’n voorstander van Afrikaans en skryf artikels in Die Afrikaanse Patriot onder die skuilnaam Klein Joggem.

1869 – Ds. James Murray Louw, predikant († 21 November 1939)

James Murray (Jimmy) Louw is op hierdie dag in 1869 op Murraysburg gebore. Hy was een van die elf kinders van ds AA Louw en Jemima Murray, dogter van ds. Andrew Murray senior. Bekend is ook sy broers AA, stigter van die Masjonalandse Sending, ds. AF van Stellenbosch, en die sakeman, CR. As geagte leraar van die uitgestrekte Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Boksburg waar hy 41 jaar bly tot sy dood op 21 November 1939, help hy om aan hierdie kerkverband beslag te gee. Hy dien as moderator en neem ’n aandeel in die stigting van Vergenoeg en ander gemeentes om lidmate in Duits-Oos en Brits-Oos-Afrika te bedien. Onvermoeid tree hy vir sy volk in. Van die begin tot die einde van die Anglo-Boereoorlog is met die Boere op kommando. Ná die oorlog rig hy die eerste CNO-skool (Christelik Nasionale Onderwys) aan die Oos-Rand in Boksburg op en het hy ’n leidende aandeel in die totstandkoming later van Afrikaansmediumskole in hierdie gebied. Baie jare dien hy in die bestuur van die Abraham Kriel-Kinderhuis om weeskinders en minderbevoorregte kinders vir kerk en volk te behou. Sy bekwame vrou, Gertruide Johanna Joubert, eweneens uit ’n pastorie, beywer haar vir die sending en is ’n stigterslid van die Transvaalse Vrouevereniging in 1905.

1917 – Prof. Piet Cillié, latere redakteur van Die Burger en voorsitter van die Nasionale Pers († 20 Oktober 1999)

Piet Cillié was ’n joernalis en later redakteur van Die Burger en voorsitter van die direksie van Nasionale Pers. Hy skryf ook gereelde rubrieke vir Die Burger wat later gebundel word.

 

Sterftes

1677 – Jan van Riebeeck, stigter van die verversingspos en eerste Kommandeur aan die Kaap (* 21 April 1619)

Johan Anthoniszoon van Riebeeck is in Culemburg gebore, ’n welvarende en bedrywige stadjie aan die rivier Lek. Ook sy vader, Anthony Janszoon van Riebeeck, is hier gebore en het hom hier as chirurgyn bekwaam. Jan van Riebeeck se moeder, Elisabeth van Gaesbeeck, het uit ’n gerespekteerde en geliefde familie in Culemborg gespruit. Haar vader, Govert Anthoniszoon van Gaesbeeck, was prokureur en het in die huis De Fonteyn gewoon. Hierdie huis met sy sierlike trapgewels, is in 1970 gerestoureer en is tans bekend as Van Riebeeck-huis, hoewel Jan van Riebeeck waarskynlik nie hier gebore is nie. Na sy geboorte is Jan van Riebeeck in die St. Barbara-kerk in Culemburg gedoop. Hy was egter maar drie jaar oud toe die gesin Van Riebeeck na Schiedam verhuis het, waar sy suster, Geertruy, in 1623 gebore is. Hierdie suster, aan wie hy baie geheg was, sou later saam met haar man, die sieketrooster Pieter van der Stael, ook na die Kaap kom. Jan van Riebeeck se moeder is in 1629 oorlede in Schiedam. Jare later – in 1648 – sou hy ook sy toekomstige eggenote, Maria de la Quellerie, hier ontmoet. As jong seun het Jan van Riebeeck sy vader op sy reise as skeepschirurgyn vergesel. Moontlik het hy toe al die drang na die onbekende ondervind wat hom in 1652 na die Kaap de Goede Hoop sou bring as stigter van die Westerse beskawing in Suid-Afrika. Na sy verblyf van tien jaar aan die Kaap, waar hy die grondslag van die Christelik Westerse beskawing gelê het, vertrek hy en sy gesin op 7 Mei 1662 met die Mars na Batavia. In Batavia het hy verskeie poste beklee, maar die een wat hy hartgrondiglik begeer het, Raad-extraordinaris van Indië, is nooit aan hom toegeken nie. Hy sterf nadat hy maande bedlêend was, op 19 Januarie 1677 en word met groot eerbetoon begrawe. Die brokstukke van sy grafsteen word in 1897 ontdek en in 1913 deur bemiddeling van J. de V. Roos aan die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad geskenk. Dit is later gerestoureer en word saam met die grafsteen van sy vrou, Marie, in die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad bewaar. 

1700 – SJ Botma, Vryburger aan die Kaap (*1618)

Steven Jansz Bothma, wat in 1618 in Wageningen in Nederland gebore is, is een van die eerste Vryburgers aan die Kaap en speel so ’n leidende rol in die Vryburgergemeenskap dat hy in 1657 as die eerste burgerraad aangestel word. Hy is op Stellenbosch oorlede.

1799 – Abraham Josias Sluysken, kommandeur aan die Kaap (* 3 Desember 1736)

Hy word onthou as een van die heel eerste Vryburgers aan die Kaap en het ’n leidende rol in die Vryburger-gemeenskap gespeel.

1902 – Gideon Jacobus Scheepers, Boere-militêre leier en heliografis (* 4 April 1878)

1917 – Dr. Andrew Murray, predikant, kerkleier en skrywer (* 9 Mei 1828)

Dr. Andrew Murray was moontlik die voorste godsdienstige skrywer wat Suid-Afrika tot dusver opgelewer het, ’n predikant en leier in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, ’n opwekkingsprediker en die stigter van talle opvoedkundige instellings.

Dr. Murray was ’n seun van ds. Andrew Murray sr., een van die vroegste Skotse predikante wat deur lord Charles Somerset na Suid-Afrika gebring is om dié goewerneur se verengelsingsbeleid te help invoer en die tekort aan predikant in die NG Kerk aan te vul. Saam met sy oudste broer, John, is hy op vroeë leeftyd na Skotland om in die teologie te studeer. Hy ontvang in 1845 op 17-jarige leeftyd sy graad van die Universiteit van Aberdeen, keer ná verdere studie terug na Suid-Afrika, en word in 1849 die eerste predikant van die NG gemeente Bloemfontein, die sogenaamde Tweetoringkerk. Hy was lank feitlik die enigste predikant van die Hollandse kerke in die Vrystaat, maar bou doeltreffende kerkorganisasie op om die hele Republiek te dek, selfs ook tot in die latere Transvaal.

1993 – Andries Cornelius, radio-omroeper en skrywer (* 18 November 1935)

1994 – Louise Behrens, vroue-joernalis en skryfster (* 4 Mei 1903)

Louise Behrens, ’n Vrystater van geboorte, is een van die eerste Afrikaanse vroue-joernaliste. Sy het verskeie redaksionele betrekkings by Die Volkstem, Die Vaderland en The Pretoria News beklee. Sy is ook die skryfster van verskeie romans, o.m. Die verwaaide vlam en Die verminkte jare.

2006 – Anton Rupert, entrepreneur, sakeleier en omgewingsbewaarder (* 4 Oktober 1916)

Anthony Edward Rupert was ’n Afrikaanse entrepreneur van Suid-Afrika, sakeman en omgewingsbewaarder. Hy is gebore en het grootgeword op die dorp Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Hy studeer in Pretoria en trek later na Stellenbosch, waar die Rembrandt Groep gestig is en steeds sy hoofkwartier het. Hy sterf in sy slaap in sy huis in Thibaultstraat, Stellenbosch, in die ouderdom van 89, en word oorleef deur sy seun, Johann, dogter, Hanneli, en ses kleinkinders. In 2004, is hy vereer met die 28ste plek onder die Voorste 100 Groot Suid-Afrikaners.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/