16 SEPTEMBER
September 16, 2015
18 SEPTEMBER
September 18, 2015

Gebeure

1901 – Anglo-Boereoorlog: Elandsrivier op die plaas Modderfontein – Genl. Smuts val ’n buitepos, beman deur die 17th Lancer, aan

1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bloedrivierpoort, Natal

Genl. Louis Botha oorrompel die Mounted Infantry onder beheer van lt.kol. H de la P Gough.

1910 – Die Uniewapen word goedgekeur

 

Geboortes

1819 – Marthinus Wessel (MW) Pretorius, eerste president van die ZAR († 19 Mei 1901)

Marthinus Wessel Pretorius is op Pretoriuskloof, distrik Graaff-Reinet, as die oudste seun van AWJ (Andries) Pretorius gebore. As Voortrekker vergesel hy sy vader na Natal en neem hy ook aan die Slag by Bloedrivier deel. In 1848 vestig hy hom in die Magaliesberg, en in 1853 volg hy sy vader op as kommandant-generaal vir Potchefstroom en Rustenburg. Hoewel hy nie oor die leierseienskappe van sy vader beskik nie, speel hy ’n belangrike rol in die vroeë geskiedenis van Transvaal. Deur sy toedoen is ’n grondwet in 1856 opgestel, maar na vele onenigheid is hy eers in 1860 as Staatspresident van die ZAR beëdig. Intussen het hy op ondiplomatieke wyse die OVS by die ZAR probeer inlyf en byna burgeroorlog veroorsaak. In 1859 word hy ook tot Staatspresident van die OVS verkies, maar hy word verplig om sy Transvaalse amp neer te lê. Na vier jaar keer hy terug na die ZAR en word tot Staatspresident herkies.

In die Transvaal moes hy aan vele interne vraagstukke aandag gee, maar as gevolg van sy swak hantering van die Transvaalse aanspraak op die Diamantvelde en die verlies van die gebied, word hy in 1871 verplig om te bedank. Enkele jare het MW Pretorius uit die politieke gedrang verdwyn, maar met die Britse anneksasie van die ZAR in 1877 het hy as volksleier, onder ander met Paul Kruger en Piet Joubert, as lid van die Driemanskap, weer sterk na vore getree. Na die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880 tot 1881) het hy sy aandag aan sy boerdery op Potchefstroom gewy. Die laaste jare van die ZAR se bestaan word hy, waarskynlik ter erkenning vir sy diens aan die Republiek, tot waarnemende geskiedskrywer benoem. Daarvoor ontvang hy £300 (R600) per jaar. Hy het daarin geslaag om heelwat waardevolle stukke te versamel, maar vanweë die Engelse Oorlog het weinig daarvan bewaar gebly. Op ’n koue nag in Mei 1901 word hy deur twee Britse soldate uit sy slaap gewek en op die stoep van die woning ondervra. Hierdie twee uur lange ondervraging in die koue was vir die gestel van die 81-jarige oud-president te veel en nadat hy reeds die volgende dag siek geword het, sterf hy op 19 Mei 1901 op Potchefstroom.

1888 – Samuel Bonnin (S.B.) Hobson, Afrikaanse skrywer van dierestories († 7 Augustus 1965)

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/