16 JANUARIE
January 16, 2016
18 JANUARIE
January 18, 2016

Gebeure

1837 – Slag van Mosega

Ná die mislukte aanval op die Voortrekkerlaer by Vegkop het die Matebeles duisende stuks vee van die Trekkers weggevoer. Drie maande later het Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz met ’n strafekspedisie van 107 man, en gesteun deur ’n aantal Basters en Barolongs, Silkaats op ’n verrassende wyse in sy kraal by Mosega aan die Marikorivier oorval, duisend stuks vee gebuit en die Matebele verder noordwaarts verdryf. Mosega was die “hoofstad” van die Matabeles. Dit was nie een groot stad nie, maar het uit ongeveer 20 krale bestaan.

1852 – Die Sandrivierkonvensie, waarvolgens Brittanje alle aansprake op mag anderkant die Vaalrivier prysgee, geteken

Ná die Industriële Revolusie het Engeland ’n nywerheidstaat geword wat hoofsaaklik in handel belang gestel het. Die Britse regering wou van alle onnodige verantwoordelikhede ontslae raak en daar was ’n kragtige beweging ten gunste van die prysgee van koloniale gebiede in Suider-

Monument waar die ooreenkoms onderteken is.

Afrika. Gevolglik is gunstig gereageer op kmdt.-genl. AWJ Pretorius se versoek dat ’n Britse kommissie aangestel word om die betrekkinge tussen Transvaal en die Britse owerheid in Suid-Afrika te ondersoek. Die Britse assistent-kommissarisse, WS Hogge en CM Owen, het Pretorius en ’n aantal Boere-afgevaardigdes by die Sandrivier ontmoet. Ná onderhandelinge op 16 en 17 Januarie 1852 is ’n traktaat sonder veel moeite opgestel en deur albei partye onderteken. Daarvolgens het Groot-Brittanje die soewereine onafhanklikheid van Transvaal formeel erken en onder meer onderneem om geen verdrae met die inboorlingstamme ten noorde van die Vaalrivier te sluit nie. Die traktaat is in Transvaal met gemengde gevoelens ontvang, maar na ’n Volksvergadering op 16 Maart 1852 op Rustenburg het die besware mettertyd verdwyn en het die ooreenkoms die nodige goedkeuring ontvang. Die Sandrivier-konvensie het die grondslag vir die latere ZAR gelê. ’n Klipstapel met ’n bronsplaat daarop dui die plek aan waar die onderhandelinge plaasgevind het en die traktaat onderteken is.

1900 – Anglo-Boereoorlog

Kapteins Jack Hindon en Trichard “vang” 2 treine tussen Brugspruit en Balmarol.

1900 – Anglo-Boereoorlog

Kommandant Beyers neem 1700 beeste van die Britse magte af naby Johannesburg.

1900 – Anglo-Boereoorlog

Krygswet word na die Kaapkolonie in geheel uitgebrei.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Wright’s Farm, Bo-Tugela (Natal); Colesbergbrug, Colesberg

1900 – Anglo-Boereoorlog: Krygswet uitgebrei

Krygswet word na die Kaapkolonie in geheel uitgebrei.

1905 – Die Johannesburgse Meteorologiese Sterrewag open

Die sterrewag is gestig as die Transvaalse Meteorologiese Departement, en was aanvanklik bedoel om gebruik te word om weerpatrone te bekyk. Die sterrekundige Dr Robert Innes het van Kaapstad verhuis om die eerste direkteur van die sentrum te word. Dit is amptelik in 1905 geopen en die eerste teleskoop is in 1906 geïnstalleer. Die sterrewag sit op ’n heuwel in dieselfde voorstad. Die grond is deur die Bezuidenhout-familie besit voordat hulle dit aan die regering gegee het. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Bevordering van Wetenskap en Tegnologie (SAASTA) het die Johannesburgse sterrewag in 2003 aangeskaf en het sedertdien die terrein opgeknap om voorsiening te maak vir ’n veelvlakkige interaktiewe fasiliteit vir wetenskaplike bewustheid met ’n spesifieke fokus op sterrekunde en ingenieurswese. Die sterrewag is nou oop vir onderwysers, leerders en die publiek in die algemeen. Die sentrum reël ook nagtoere.

1934 – Derde grootste diamant gevind

Jacobus Jonker, ’n delwer op die plaas Elandsfontein naby Pretoria, vind die vierde grootste diamant tot nog toe (ongeslyp 726 karaat), die Jonker-diamant.

1964 – De Villiers Graaf eis ondersoek na Broederbond-aktiwiteite

Mnr. De Villiers Graaff, leier van die opposisie, eis ’n regterlike ondersoek na die aktiwiteite van die Broederbond en eis die bedanking van die eerste minister van hierdie vereniging. Dr. Verwoerd weier om te bedank.

 

Geboortes

1712 – Susanna Bosman

Die vroegste getuienis oor die invloed van piëtisme op die vrou aan die Kaap kom voor in die briewe van Susanna Bosman tussen die jare 1749 tot 1751, gerig aan ds. Theodorus van der Groe van Kralingen, Nederland. Sy geniet as dogter van die sieketrooster, Hermanus Bosman, ’n godsdienstige opvoeding. Haar briewe is in ’n geskriffie van haar suster, Elizabeth Bosman, opgeneem. Susanna het dit teen die sogenaamde dorre, verstandelike godsdiens en skryf dat daar aan die Kaap tekens van oplewing in die godsdiens is. Sy was bewus van die geestelike isolasie van die Kaapse koloniste en haar eie tekortkominge ten opsigte van geleerdheid. Haar briewe gee ’n waardevolle beeld van die geestelike stroming wat aan die Kaap geheers het in ’n tyd toe die piëtisme opgang gemaak het.

1895 – Henning Klopper, taalstryder en stigter van die ATKV († 20 November 1985)

Henning Johannes Klopper, gebore in die distrik Heilbron, het hom op 13 Maart 1911 by die Spoorweë aangesluit en tot assistent-superintendent (bedryf) in Bloemfontein gevorder. Hy het die Spoorwegdiens op 7 Julie 1943 verlaat toe hy as LV vir Vredefort in die Vrystaat verkies is. Henning Klopper het seder 1914 in die Afrikaner se politieke en kultuurstryd gestaan. In 1930 het hy die eerste tak van die ATKV (SAS en H) op Volksrust gestig en deurgaans ’n prominente rol in die kultuurvereniging vir Spoorwegamptenare gespeel. Sy grootste kultuurbydrae was sy leeue-aandeel in en leierskap van die Simboliese Ossewatrek in 1938. Waarna hy ook ’n steunpilaar in die Reddingsdaadbond was. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party lid daarvan en het die kiesafdeling Vredefort van 1943 tot met sy uittrede uit die aktiewe politiek in die Volksraad verteenwoordig. Hier het hy ook as waardige leier na vore getree toe hy op 20 Januarie 1961 Speaker van die Volksraad word. Hy het in 1974 uit die aktiewe politiek getree. 

1923 – Hannah Botha, aktrise († 16 April 2007)

Hannah Botha sal veral vir twee televisierolle onthou word, naamlik tant Lissie Rademeyer in Nommer asseblief en Elsa du Plessis in Egoli-plek van goud. Sy is op 16 April 2007 oorlede.

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org