16 FEBRUARIE
October 31, 2016
18 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1838 – Voortrekkers word wreed vermoor by Moordspruit, Blaauwkrans en Weenen (Slag van Saailaer) 

Die Voortrekkers in Natal het in Februarie 1838 op Piet Retief se terugkeer van Dingaan af gewag. Retief het ’n ooreenkoms om grondgebied finaal gaan beklink. Maritz se mense het langs die Boesmansrivier naby die huidige Estcourt gestaan. Retief se mense was by Moordspruit, Bloukransrivier en Doornkop (vandag naby Chievely), saamgetrek; andere by Malanspruit. Hulle was onbewus van die moord op Retief-hulle op 6 Februarie, dog Maritz het onrustig geraak en die groepe op ’n Zoeloe-aanval probeer voorberei. Maar in die oggenddonker is die families Liebenberg, Rossouw en Bezuidenhout uitgewis. Daniël Bezuidenhout kon gewond ontsnap en die Van DyksRoetse, Van Vuurens en Scheepers elders betyds waarsku. Die Greylings en Bothmas en Engelbrechts is egter almal by Moordspruit om die lewe gebring. Marthinus Oosthuizen se heldedaad het die Van Rensburgs se lewe gered. Sarel Cilliers, ’n paar Bothas en De Klerks het die Maritzlaer van groter skade en uitwissing deur die tienduisend Zoeloe-krygers gered. Vrouens en kinders het volledig teen die vyand saamgeveg. Ander het die duisternis ingevlug om die dood te ontwyk. Teen die middag het die Zoeloes as gevolg van die groter teenstand begin terugval, maar 25 000 stuks vee is met die aanval doodgemaak en geroof of het weggehardloop. Die Groot Moord was ’n laagtepunt in die geskiedenis van die Groot Trek, en 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en 200 bediendes is op bloeddorstige wyse vermoor, hulle liggame is vermink en stapels goedere is verbrand. Talle heldedade is verrig, en Catherina Prinsloo, Johanna van der Merwe en Elizabeth de Beer het erename geword.  

1854 – Brittanje erken die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat, die hedendaagse Vrystaat 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Piet Cronjé gee oor

Generaal Piet Cronje word op die plaas Wolwekraal teen die Modderrivier naby Paardeberg vasgedruk. Hy het +- 4000 man, asook ’n aantal vroue en kinders by hom. Teenoor hom staan ’n Britse oormag van by die 33 000 man. Daar, op die walle van die Modderrivier, sou hy 10 dae lank sy man staan alvorens hy oorgee.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Gouwspan, Kaapkolonie

Kolonel Plumer bots met generaal De Wet se agterhoede by Gouwspan. Die agterhoede was op dáárdie stadium onder beheer van kommandant Haasbroek. Kommandant Brand mik intussen na Britstown se kant toe.

1902 – Anglo-Boereoorlog: Italiaanse krygsgevange ontsnap

’n Italiaanse krygsgevange wat aan die Republikeinse kant van die saak gestaan het, ontvlug suksesvol vanaf St. Helena.Hy het na ’n Spaanse skip, die Nautilus, geswem, om asiel gevra en vandaar na Spanje gereis.

1947 – Britse koninklike familie kom in Tafelbaai aan 

Die Britse koninklike familie – Koning George VI, Koningin Elizabeth en hul dogters, Prinses Elizabeth en Prinses Margaret – kom op die HMS Vanguard in Tafelbaai aan. 

 

Geboortes 

1888 – Dr. Nicolaas Johannes (NJ) van der Merwe, eerste voorsitter van die FAK en eerste Hoofleier van Die Voortrekkers ( 11 Augustus 1940) 

Nicolaas Johannes van der Merwe is op Senekal gebore en op 11 Augustus 1940 in Bloemfontein oorlede. Hy het in die konsentrasiekamp op Norvalspont as kind besondere ondervindinge meegemaak wat beskrywe is in sy boek Die Burgermeester van Sannahspos (1929). Hy behaal sy BA aan UKOVS en voltooi sy teologiese studie aan die Teologiese Kweekskool, Stellenbosch. Hier was hy ’n studenteleier. Hy volg Tobie Muller op as leier van die Afrikaanse Taalvereniging en speel ’n belangrike rol om die studente van Stellenbosch bewus te maak van hulle taal. Van 1915 tot 1919 was hy predikant van Wepener. Met sy eerste Sinodesitting in 1916 dien hy ’n voorstel in dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word, en dat predikante die reg moet hê om in Afrikaans te preek. Hierdie voorstel word goedgekeur. Dit was die eerste sinodale besluit van die aard in Suid-Afrika. Kort hierna sou ander sinodes volg. Dit was die begin van die Afrikaanse Bybelvertaling. In 1919 vertrek hy na die Vrye Universiteit van Amsterdam om sy doktorsgraad in die Nuwe Testament te behaal. Hy promoveer op 21 Januarie 1921 op die proefskrif Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Hierdie proefskrif het hy in Afrikaans geskryf, terwyl baie Afrikaners in daardie tyd nog hulle proefskrifte in Hollands ingelewer het. Van 1921 tot 1924 was hy predikant op Theunissen. In 1924 word hy Volksraadslid van die Nasionale Party vir Winburg, ’n setel wat hy tot sy dood behou. Na samesmelting in 1933 word hy ’n volgeling van dr. DF Malan en leier van die Nasionale Party in die Vrystaat. Dr. Van der Merwe het ’n prominente rol in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gespeel. Hy was onder meer stigter en eerste voorsitter van die FAK in 1929. Saam met hom het in die eerste Hoofbestuur van die FAK gedien mnre. IM Lombard, LJ Erasmus, proff. TJ Hugo, EC Pienaar en mev. MM Jansen. Hy het trouens tot sy dood in 1940 voorsitter van die FAK gebly. Hy was ook lank voorsitter van die Kaapse Helpmekaarbeweging. Saam met dr. CF Visser, het hy hom beywer vir ’n jeugbeweging onder Afrikanerkinders. Die Voortrekkers word in 1931 gestig met hom as die eerste nasionale leier van hierdie beweging. Hy was getroud met Isabella (Tibbie), dogter van pres. MT Steyn. In 1921 skryf dr. Van der Merwe ’n biografie van twee boekdele oor sy skoonvader. Dit is hoofsaaklik gedoen met behulp van dokumente wat toe nog in besit van mev. (pres.) Steyn was. Die onmeetbare invloed van dr. Van der Merwe op die Afrikaner en sy kultuur kan vandag nog nie ten volle na waarde geskat word nie. 

 

Sterftes 

1973 – Leonore Veenemans, operasangeres (* 16 Februarie 1935) 

In 1969 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met mening van Leonore Veenemans kennis geneem toe sy ’n treffer met “Liefste Madelein” gehad het. Leonore het ses albums in vier jaar opgeneem, maar is op 17 Februarie 1973, die dag na haar 38ste verjaardag, in ’n motorongeluk dood.

 

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/