16 APRIL
November 1, 2016
18 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1662 – Eerste appels aan die Kaap gepluk

Van Riebeeck, wat hom onder meer vir die aanplant van appelbome beywer het, het op dié datum die eerste twee appels afgepluk van ’n boom wat in die Kompanjie se boomkwekery gegroei het.

1773 – Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn begrawe

Baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, wat as opvolger van Ryk Tulbagh aangestel is, maar wat op pad na die Kaap ter see dood is, is begrawe onder die plaveisel van die Groote Kerk, Kaapstad.

1837 – Piet Retief tot goewerneur verkies

Piet Retief word tydens ’n algemene vergadering in Maritz se laer verkies tot die amp van “goewerneur”, met ander woorde leier van die Trek. Gert Maritz sou aanbly in die amp van magistraat.

1935 – Die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga (SANL) gestig

Die oogmerke met die stigting van die SA Noodhulpliga was nie slegs om die Afrikaner deur medium van sy moedertaal in noodhulp op te lei nie, maar veral ook om ’n noodhulpvereniging wat in alle opsigte eie aan die Afrikaner sou wees, in die lewe te roep. In daardie stadium het Suid-Afrika reeds oor die dienste van twee gevestigde internasionale noodhulpverenigings beskik, sodat die primêre behoefte nie aan noodhulp en noodversorging was nie, maar wel aan selfverwesenliking en aan ’n beweging wat uit eie bodem ontspring het. Danksy die ywer en moed van veral ’n persoon soos George Nezar, is die SA Noodhulpliga te midde van groot probleme en weinig belangstelling gestig. Die nuwe vereniging moes met gevestigde bewegings kompeteer wat heelwat meer voordele aan hulle lede kon bied. Die doelstellings van die SA Noodhulpliga is duidelik geformuleer, nl. om langs die weg van KENNIS, LIEFDE en DIENS die volgende te bereik:

(a) Belangstelling in gesondheid onder die volk aan te wakker.

(b) Lede te leer om op doeltreffende wyse in gevalle van ongelukke of skielike ongesteldheid op te tree.

(c) ’n Gees van selfopoffering in diens van die medemens te alle tye en oral, sowel binne as buite die Liga, aan te kweek.

Ten einde sy groot kultuur taak aan die Afrikaners in die besonder, maar ook aan die mensheid in die algemeen, met sukses te verrig, moes die SA Noodhulpliga kort na sy stigting dringend aandag aan die opleiding van sy lede gee, en dit is op hierdie terrein waar die liga ’n baanbreker was wat ’n besondere bydrae tot die ontwikkeling en groei van die Afrikaanse taal gelewer het. In 1938, lank voordat ’n Afrikaanse mediese fakulteit aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit tot stand gekom het, het die SA Noodhulpliga sy eerste amptelike handleiding in Afrikaans gepubliseer. In die komende jare sou hierdie handboek telkens hersien word, ten einde in inhoud, terminologie en taalgebruik met moderne ontwikkelinge tred te hou, maar reeds die eerste uitgawe getuig van besondere verantwoordelikheid ten opsigte van die korrekte aanwending van Afrikaans. Sedert die stormagtige dertigerjare het die Liga tot die grootste noodhulpvereniging (wat blanke lede betref) in die RSA en SWA gegroei. Amptelike handleidings vir noodhulp, tuisverpleging, volksgesondheid en moederkunde is in Afrikaans beskikbaar, terwyl die senior handleiding ook in Engels vertaal is. Hoewel die Liga lede uit albei taalgroepe trek, en sy dienste aan alle mense beskikbaar stel, bly dit in praktyk Afrikaans met ’n Christelike-nasionale grondslag.

1948 – Hugenote Monument onthul

Die vrouefiguur simboliseer die gees van godsdiens- en gewetensvryheid van die Franse Hugenote.

Die Bybel in haar regterhand, en gebreekte ketting in haar linkerhand onderstreep bogenoemde.

Die vrou staan ook bo-op ’n aardbol en haar blik is gerig op die toekoms. Haar kleed bevat die nasionale blom van Frankryk en simboliseer dat die land baie Franse gesinne verloor het. Die drie lugboë (ondersteun deur vier pilare) simboliseer die goddelike Drie-Eenheid. Die middelste boog bevat aan die bokant ’n son en kruis en stel die Christelike geloof en die son van geregtigheid voor.

Agter die suile en beeld is ’n suilgallery in ’n halfsirkel gebou. In die voorgrond is ’n vywer wat, tesame met die suilgallery, simbolies is van ongestoorde gemoedsrus en sielevrede. Die monument is deur beide Coert Steynberg (vrouefiguur) en JC Jongens van Nederland ontwerp. Die monument is op hierdie dag ingewy en gedenk die aankoms van die Franse Hugenote aan die Kaap.

1962 – Die Jeugraad van die FAK is gestig

As regstreekse uitvloeisel van die Jeugkongres van die FAK wat op 16 en 17 April 1962 in Pretoria gehou is, is die Nasionale Jeugraad gestig. Later het die Hoofbestuur van die FAK besluit dat die Nasionale Jeugraad voortaan slegs as die Jeugraad van die FAK bekend sal staan. ’n Besondere mylpaal is bereik toe die Departement Sosiologie van die Universiteit van Pretoria op 1 April 1964 deur die Jeugraad versoek is om ’n omvattende ondersoek na jeugaangeleenthede te begin. Professore JE Pieterse as navorsingsdirekteur en G Cronje as adviseur het die ondersoek gelei. Die verslag van die ondersoek het tot ’n paar doktorale proefskrifte in Sosiologie gelei. Die verslag is in vier publikasies vervat: Jeug en Arbeid, Jeug en Kultuur, Jeug en Vrye Tyd en Jeug en Godsdiens. Tydens ’n jeugkongres in 1968 is die bevindinge van die jeugondersoek bespreek. Organiseerders van die Jeugraad bied talle jeugleidingsprojekte regoor Suid-Afrika aan. As gevolg van ’n besondere behoefte wat ontstaan het, het die Jeugraad, weer eens onder leiding van prof. JE Pieterse as voorsitter, die publikasies Fokus in 1977 uitgegee. Fokus bevat onderwerpe wat riglyne vir bespreking by jeugleierskursusse en -konferensies bied. ’n Behoefte aan gespesialiseerde opleiding aan belangstellendes van Afrikaanse kultuurorganisasies het tot opleidingskursusse in seminaarbestuur gelei. Gevorderde kursusse in seminaarbestuur is van 1978 vir dieselfde teikengehoor gereël. Om jeugopleidingsprojekte in die algemeen te koördineer, het die Jeugraad begin om Advieskomitees binne bepaalde streke saam te stel. Lede van Advieskomitees verteenwoordig verskillende Afrikaner-kultuurorganisasies en sodoende word oorkoepelend aan die ontwerp van talle projekte gewerk. Die Jeugraad word tweejaarliks deur die Hoofbestuur van die FAK saamgestel.

 

Geboortes

1892– Dr. William Fehr, Suid-Afrikaanse sakeman en versamelaar van kuns en oudhede († 2 April  1968)

1949 – Wessel Pretorius, digter († 12 Maart 2012)

Wessel Pretorius was ’n digter. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het as digter, publiseer hy ook ’n roman en twee dramas gedurende sy loopbaan.

 

Sterftes

1968 – Mikro (die skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn), bekende Afrikaanse skrywer (* 8 Oktober  1903)

Christoffel Hermanus Kühn wat op hierdie dag gebore is, het onder die skuilnaam Mikro geskryf. Sy bekende trilogie, Toiings (1934), Pelgrims (1935) en Vreemdelinge (1944), word beskou as die kern van sy werk. Hy was skrywer van novelles, romans, speurverhale, jeugverhale en toneelstukke. Vir eersgenoemde twee werke is hy bekroon met die Hertzogprys en vir Die Porseleinkat is die Hofmeyrprys aan hom toegeken. In sy werke was hy die skepper van die vereenvoudigde struktuur, van die gemoedelike, gemeensame formule vir lewenswaardes en lewenswaarhede. Tussen Julie 1958 en Desember 1966 het 38 boeke van Mikro verskyn. Sy 75ste boek, die jeugverhaal Die Goue Protea (1962), is bekroon in ’n wedstryd vir jeugverhale wat Nasionale Boekhandel uitgeskryf het. Ander werke van hom is onder meer Die rooi lêer, Die koperkan, ’n versameling kortnovelles Drie vroue en ’n hond, Die ruiter in die nag, Huurling, Klaradynstraat, Huisies teen die heuwel, Die donker stroom, en Die wa-as. In 1928 het hy begin onderwys gee. Later was hy skoolhoof op Kuilsrivier. In 1950 het hy dosent aan die Opleidingskollege in Oudtshoorn geword. In 1956 is hy aangestel as redakteur van Boerdery in Suid-Afrika. Later is hy bevorder tot Hoofredakteur: Publikasies van die toenmalige Departement van Landbou. Van sy werke wat deur die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai is, is die bekendste Die rooi lêer en ’n gedramatiseerde verwerking van Die ruiter in die nag. Mikro self het by meer as een geleentheid die mening uitgespreek dat dit jammer is dat die meeste lesers by sy werk Toiings vasgesteek het. Sy eie mening was dat sy Mattewis en Meraai-novelles sy beste werk is. Tot sy aftrede was hy hoof van die Landsdiensbeweging in Suid-Afrika, waar hy ’n groot bydrae gelewer het tot die uitbouing van die jeugbeweging. Trouens, die Landsdiensbeweging was sy inspirasie vir die skryf van Die goue protea. Hy is op 17 April 1968 op Somerset-Wes oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/