15 OKTOBER
October 15, 2015
17 OKTOBER
October 17, 2015

Gebeure

1815 – Cornelis Freek Bezuidenhout en Jacob Erasmus doodgeskiet

Cornelis Freek Bezuidenhout, vergesel van sy seun en ’n besoeker, Jacob Erasmus, word deur Khoi-soldate onder ’n wit luitenant in die Baviaansrivier doodgeskiet toe hy hom verset om gearresteer te word op aanklagte van mishandeling van ’n swart werker. Hierdie voorval het tot die Slagtersnek Rebellie gelei.

1836 – Groot Trek: Slag van Vegkop

Die botsing by Vegkop, naby Heilbron, het byna die Groot Trek in sy verdere ontplooiing gestuit. Anderies Hendrik Potgieter se trekgeselskap het in Junie 1836 oor die wye landstreek net duskant die Vaalrivier versprei gestaan. Op Potgieter se besoek aan die Soutpansberg het sommige trekkers tot oorkant die Vaalrivier beweeg. Silkaats (Mzilikazi), opperhoof van die Matebele, was bang vir ‘n gewapende aanval uit die suide en het ‘n impie uitgestuur om van die Voortrekkers, onder meer die Liebenbergs en ‘n jaggeselskap onder leiding van Erasmus, aan te val en uit te moor. Toe Potgieter by sy mense terugkom het hy beveel dat een laer getrek word. Vyftig waens is by Vegkop tussen Renoster- en Wilgerivier (tussen die huidige Lindley en Heilbron) in ‘n kring getrek en doring bosse is tussen die waens gepak. Ongeveer 5 000 Matebeles het op 16 Oktober 1836, onder aanvoering van Kalipi, die neerlaag gely teen 40 weerbare mans en seuns waarskynlik onder leiding van Sarel Cellliers. Twee Voortrekkers is gedood en 14 gewond, terwyl ongeveer 430 Matebeles gedood is. Vyftigduisend skape, vyfduisend beeste en honderde perde is egter weggevoer. Met behulp van osse wat Moroka, opperhoof van die Barolong, en eerw. James Archbell aan hulle gestuur het, het hulle na Thaba Nchu teruggekeer. In Januarie 1837 het Hendrik Potgieter en Maritz ‘n suksesvolle strafveldtog teen Silkaats be Mosega afgerond met die verhaling van die veeverliese. In 1858 het die Vrystaters ook by Vegkop teen die Basoeto gewen en in 1883 is ‘n monument daar opgerig.

1840 – Vereniging van die Potchefstroom-Winburg en die Natalse Republiek

Die staatkundige oogmerk van die Groot Trek was om iewers buite die toenmalige Kaapkolonie ’n verenigde Voortrekkerstaat in die lewe te roep. Deurgaans is aan ’n enkele staat gedink, en daarom is ooreengekom dat Trekkergroepe ten noorde van die Oranjerivier bymekaar sou kom waar dan oor die toekoms besluit sou word. Toe Potgieter en Maritz kort na mekaar in 1836 in die omgewing van Winburg aankom, is die eerste Voortrekkerbestuur op 2 Desember 1836 ingestel – op ’n tydstip toe oor die eindbestemming van die Trek nog geen duidelikheid bestaan het nie. Toe Retief hom in April 1837, en kort daarna ook Uys en sy mense, hulle by die Trekkers aangesluit het, het die kwessie van ’n eindbestemming belangrik geword, en daaroor was daar geen eenstemmigheid nie. Potgieter wat ’n afspraak met Tregardt gehad het, wou Transvaal toe omdat hy afkerig was van Natal wat na sy oordeel te vatbaar was vir beïnvloeding deur die Engelse. Retief, ondersteun deur Maritz en Uys, wou na Natal om by ’n hawe te wees, veral ook omdat die Engelse na hulle oordeel nie ’n bedreiging ingehou het nie. Daarnaas het ’n derde groep Trekkers in Winburg agtergebly. Van die eenheidstrewe het dus nie veel tereg gekom nie en elke groep het sy eie bestuursreëlings getref.

In Natal aangekom het die Trekkers op die voetspoor van die Winburgse Burgerraad en die Vetrivierse grondwet, hulle bestuur gereorganiseer in ’n “Raad van Representanten” of gewoon ’n Volksraad bestaande uit 24 lede en daarbenewens “Regulatien en Instructien” opgestel, wat as ’n eerste soort grondwet in Natal beskou kon word en derhalwe tweede in die Voortrekkergeskiedenis.

In die Oor-Vaalse het Potgieter enigsins patriargaal te werk gegaan, sy krygsraad uitgebou tot wat bekend geword het as die “Raad van Hendrik Potgieter”, maar wat dan tog op die lees van die Burgerraad van 2 Desember 1836 geskoei was. Ten spyte van die afstand wat die Trekkergroepe van mekaar geskei het, het daar tog ’n drang tot groter eenheid bestaan. Hieraan het die Natalse Volksraad aan die einde van 1839  uitdrukking gegee toe Potgieter uitgenooi is om hom aan te sluit by die Natalse “Maatschappy”. In September 1840 het Potgieter hierop gereageer toe hy laat blyk het dat hy nie ongeneë is om met Natal te verenig nie. Hierop is kmdt-genl. Andries Pretorius na Transvaal gestuur om verder oor die saak met Potgieter te onderhandel, wat daartoe gelei het dat ’n eenwording van die hele Trekkergemeenskap op 16 Oktober 1840 aan die Mooirivier in beginsel bewerkstellig is. Die verenigde Voortrekkerstaat sou deur ’n Volksraad met setel te Pietermaritzburg geregeer word.

Die Transvaalse Trekkers kon twaalf lede vir die Volksraad kies, van wie telkens minstens drie die Raadsvergaderings in Pietermaritzburg moes bywoon. Die reëling van 1840, waarin die eenheidsdrang van die Voortrekkers uitdrukking gevind het, was van korte duur. Die lang afstand, swak verkeersweë en langsame vervoermiddele sowel as die Transvalers se vrees dat Natal vroeër of later deur die Engelse ingepalm kan word, was daarvoor verantwoordelik dat die eenheid nooit ’n werklike konkrete gestalte aangeneem het nie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Aanval by Jagersfontein

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Schweizer-Reneke; Klipstapel, Ermelo

 

Geboortes

1896 – Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger, literator en leksikograaf († 12 Januarie 1977)

Hierdie beminde Afrikaanse literator, prof. MSB Kritzinger, is op 16 Oktober 1896 in die distrik Carolina gebore. Hy doseer van 1920 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy 1936 tot 1961 professor in die Afrikaanse letterkunde was. Naas sy medewerking aan talle woordeboeke en ander wat hy self saamstel, is sy belangrikste werke ’n letterkundige atlas en letterkundige opstelle, bv. Oor skrywers en boeke (1932), Letterkundige kragte (1932) en Studies en kritieke (1934). 

1920 – Gert van den Bergh, Suid-Afrikaanse akteur († 16 Februarie 1968)

Op hierdie dag sien een van die talentvolste Afrikaanse toneelspelers, Gert van den Bergh, op Krugersdorp die eerste lewenslig. Onder leiding van Anna Neethling-Pohl, kry hy sy beslag as toneelspeler. Hy word lid van die eerste Afrikaanse geselskap van die Nasionale toneelorganisasie, wat in 1948 die land vir die eerste keer, as staatsondersteunde toneelgeselskap deurreis. Later, vestig hy hom in Johannesburg en begewe hy hom in die radio en die ontwakende rolprentwese. Hy was die eerste Afrikaanssprekende vryskutprogramaanbieder, en het spoedig ‘n gedugte mededinger vir sy Engelse kollegas op die handelsradio geword. Ook in die filmbedryf het hy ‘n gesogte akteur geword – ‘n Afrikaanssprekende akteur wat erken en aanvaar is as filmakteur van wêreldformaat. In 1965 vereer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met sy besondere Erepenning vir Toneel-, Film- en Radiokuns. Hy is op 16 Februarie 1968 oorlede.

 

Sterftes

1909 – Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan), leier en joernalis (* 4 Julie 1845)

Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy word om gesondheidsredes deur sy grootouers grootgemaak. Sy skoolopleiding ontvang hy in Nederlands. Op 17-jarige ouderdom neem hy die redakteurskap van De Volksvriend oor en verenig dit later met De Zuid-Afrikaan onder laasgenoemde se naam. In 1892 help hy Ons Land stig. Hoewel hy nie ’n voorstander van Afrikaans was nie, veg hy in sy artikels vir die kweek van kultuurtrots en patriotisme by die Afrikaners en vir die handhawing van die Hollands-Afrikaanse kultuurbande in die kerk en skool. In 1878 stig hy Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift om belangstelling vir die Nederlandse taal te wek. Na sy toetrede tot die Parlement beywer hy hom vir die gelykte regte van Hollands en Engels. Hy werk mee aan die stigting van die Zuid-Afrikaansche Boeren-Beschermingsvereniging (BBV) om algemene boerebelange te bevorder en in 1883 verenig hy die BBV en SJ du Toit se Afrikanerbond. Hoewel hy verkies het om sy invloed onregstreeks in die Parlement te laat geld, was hy in 1881 ’n paar maande minister in die kabinet van TC Scanlen. Hy het hom daarvoor beywer om ’n hegter ekonomiese eenheid in Suider-Afrika te bewerkstellig. Sy politieke vennootskap met Rhodes verbreek hy na die Jameson-inval in Transvaal. In 1890 help hy met die stigting van die Taalbond en vanaf 1903 steun hy De Goede Hoop ter bevordering van die Hollandse taal. In 1905 hou hy sy beroemde toespraak “Is’t ons ernst?”, waarvan die woorde op die voetstuk van sy standbeeld in Kaapstad verskyn. Met hierdie vraag het Onze Jan – soos hy in die omgang bekend gestaan het – die Nederlandse taal probeer bevorder; dog dit het onregstreeks ’n groot stoot aan Afrikaans besorg deurdat nuwe en geleerde kampvegters soos dr DF Malan en Gustav Preller nou in die bres getree het vir Afrikaans. Hofmeyr sterf in Londen as lid van die afvaardiging wat die Suid-Afrika-wetsontwerp in 1909 na Londen geneem het.

1936 – Jan Christoffel de Waal, Vrystaatse Volksraadslid en gesiene boer (* 8  April 1844)

2005 – Catherina Charlotte (Tryna) du Toit, Afrikaanse skrywer (* 13 Januarie 1910)

Catherina Charlotte Kotzenburg ook bekend as Tryna du Toit was ’n Afrikaanse skrywer van liefdesverhale en het onder die skuilnaam Tryna du Toit geskryf. Gedurende haar loopbaan skryf sy 40 romans en word haar werk ook in 12 omnibusse uitgegee. Van haar bekende werke is Wag ’n bietjieDie erfgenaam van La Provence en Donkerpoort. Haar roman Groen koring handel oor tiener swangerskap en was ‘n kontroversiële boek toe dit verskyn het. Die filmweergawe, Debbie, was eers verban. Haar laaste novelle was Net soos ’n arend en sy het dit gepubliseer toe sy reeds 81 was. Sy was ’n gebore storieverteller en haar verhale weerspieël haar liefde vir en kennis van die plaaslewe.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/