15 NOVEMBER
November 12, 2015
17 NOVEMBER
November 17, 2015

Gebeure

1855 – Aanleg van Pretoria

Pretoria, genoem na kommandant-generaal Andries Pretorius, het sy aanleg as hoofstad van die ZAR te danke aan die feit dat Potchefstroom en Lydenburg nie sentraal genoeg geleë was vir die vergaderings van die Volksraad nie. Die kommandant-generaal MW Pretorius en Piet Potgieter het die Volksraad, wat in September 1853 in Lydenburg sitting gehad het, versoek om ’n sentraal geleë hoofstad vir die Republiek te stig. MW Pretorius het in ’n bygaande brief die Volksraad ook versoek om vir die doel van die voorgestelde dorp twee plase aan die Apiesrivier, Elandspoort en Daspoort, van Andries van der Walt en JJP Prinsloo aan te koop. Omdat die Volksraad sy versoek geweier het, het Pretorius vervolgens self hierdie twee plase gekoop. In 1854 het dominee D van der Hoff toe ’n gemeente op die plaas Elandspoort gestig. Die Volksraad het die stap in Junie 1854 goedgekeur. Op 16 November 1855 besluit die Volksraad om ’n dorp, onder die naam Pretoria, op die twee vermelde plase aan te lê.

Kerkstraat 1888

1860 – Arbeiders uit Indië kom in Suid-Afrika aan

Altesame 342 arbeiders uit Indië het op 16 November 1860 op die Truro in Suid-Afrika aangekom. Dit het gevolg op wetgewing wat die vorige jaar deurgevoer is wat dit moontlik gemaak het om Indiese werkers vir die suikerrietplantasies in te voer. Hulle kon ná vyf jaar na hul geboorteland terugkeer. Hulle was ook geregtig op gratis grond, maar dié toegewing is in 1891 teruggetrek. Elf jaar voor die eerste Indiërs in Natal aangekom het, het die suiker-pionier, Ephraim Rathbone 25 arbeiders uit Mauritius na die Natal-kolonie ingevoer.

1863 – Rouxville in die OVS gestig

1900 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Sprinkaansnek, waar generaal Philip Botha ’n deurgang deur die nek forseer

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Klerksdorp

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Dullstroom, Tvl.

 

Geboortes

1906 – Abraham Jacobus (Kootjie van den Heever), joernalis en jonger broer van CM van den Heever († 14 Mei 1965)

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

 

Sterftes

1836 – Christiaan Hendrik Persoon, botanikus en mikoloog (* 1 Februarie 1761)

1913 – Abraham Fischer, eerste en enigste minister van die Oranjerivierkolonie (* 9 April 1850)

Abraham Fischer is in Kaapstad gebore waar hy ook sy skool- en naskoolse opleiding ontvang het. Hy het hom veral as regstudent onderskei en het die regsberoep betree as prokureur in Kimberley en van 1875 af as prokureur en advokaat in Bloemfontein. Hier het hy in aanraking gekom en vriendskapsbande gesmee met advokate MT Steyn (later president) en JBM Hertzog (later Boeregeneraal en premier). Sy politieke loopbaan het op 9 Januarie 1879 begin as Volksraadlid vir Philippolis en later vir Smithfield. Fischer het die hoofbemiddelaarsrol in die spanningsjare voor 1899 tussen sir Alfred Milner, pres. SJP Kruger en pres. MT Steyn gespeel en hom onafgebroke vir vrede beywer. Toe oorlog onvermydelik was, het hy die Boere-ultimatum in sy finale vorm gegiet. Hy was die hoofonderhandelaar om hulp aan die Boere in Europa en Amerika, maar ofskoon hy die vriendelike moondhede geïmponeer het, kon hy geen hulp kry nie. Na die vrede in 1902 het Fischer in 1907 Eerste Minister van die Vrystaat geword. In 1908/09 het hy ’n belangrike rol in die totstandkoming van die Unie gespeel, en ’n pos in die eerste Botha-kabinet beklee. Hy is op 13 November 1913 in Kaapstad oorlede.

1970 – James Norval, toneelspeler (* 4 Maart 1908)

Die toneelspeler James Norval is op Zastron gebore en het sy toneelloopbaan in 1930 by die Afrikaanse Toneelgeselskap van Hendrik Hanekom en Willem van Zyl begin. In 1932 het hy sy eie geselskap tot stand gebring, goed ondersteun deur Anna Cloete (met wie hy later in die huwelik tree), wat verskeie stukke wat hulle opvoer, self geskryf het. James Norval ontwikkel as ’n stewige karakterspeler wat in die vyftigerjare ook die rolprentwêreld betree. In 1967 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vereer met sy Erepenning vir Toneel. Hy is op 16 November 1970 oorlede.

2007 – Elizabeth (Elize) Botha, skrywer, akademikus en kanselier van die Stellenbosch Universiteit (* 19 November 1930)

Professor Elize Botha was ’n gerespekteerde Suid-Afrikaanse akademikus en literêre kritikus. Sy was onder meer hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywerskring en redakteur van die Afrikaanse Tydskrif vir letterkunde. In 1982 is die Gustav Preller-medalje vir Literatuurwetenskap en Kritiek (die eerste keer aan ’n vrou) aan haar toegeken, en in 1989 ontvang sy die Orde vir Voortreflike Diens (silwer). Sy was die eerste vrou in die direksie van die mediareus Naspers (1988), die eerste vrouekanselier van die Universiteit Stellenbosch (1998) en die eerste vrouevoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1989). In 2001 ontvang sy die ATKV se Prestigetoekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse prosa, prosateorie en vir haar rol in die bewaring en instandhouding van die Afrikaanse kultuurskat. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar in 2004 ’n erelid gemaak. Die Afrikaanse skrywer en akademikus Marlene van Niekerk het haar die “Die Elwekoningin van die Afrikaanse Letterkunde” genoem.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

http://www.theheritageportal.co.za/