15 MAART
November 1, 2016
17 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1713 – Pokke-epidemie aan die Kaap

Die begin van ’n erge pokke-epidemie aan die Kaap. Minstens ’n kwart van die blanke bevolking aan die Kaap sou daaraan sterf. Van die inheemse bevolking sou selfs nog meer te sterwe kom.

1717 – Koffiehuis aan die Kaap geopen

Aan burger Ernst Frederik de Swart is op hierdie dag toestemming verleen om in sy woonhuis aan besoekers, wat van verbyvarende skepe aan land gekom het, koffie te voorsien. Hy durf egter nie ander drank verkoop het nie. Hiermee het die Kaap aan sy oorspronklike doelwit getrou gebly naamlik om as verversingspos te dien en om aan die skeepslui ’n tuiste te bied wanneer hulle hier vertoef. Die bedoeling was om onder huislike, gesellige omstandighede die besoekers te onthaal. In Nederland self was koffie nog baie duur, maar in die Ooste was dit drasties goedkoper. Met die jare het die gedagte van ’n koffiehuis natuurlik nuwe betekenis gekry. Dit het later ook verblyf en ’n aand se konsert ingesluit. Die gedagte van ’n klub of kroeg of rumoerige drinkplek is vroeg in die Afrikaner se wordingsgeskiedenis afgekeur. Met die dekades het daar later in Kaapstad en in Pretoria weer koffiehuise ontstaan waar gesellig verkeer en programme aangebied is. Tot vandag toe nog word koffiehuiskonserte oor die radio in Afrikaans aangebied. Menige jong Afrikanerkunstenaar het onder sulke omstandighede ’n eerste openbare optrede gelewer. Aanvanklik en later het die Afrikaner as lief vir koffie bekend geword, maar in die Groot Trek se jare het ons voorgeslagte aan flou tee voorkeur gegee.

1846 – Die Oorlog van die Byl breek uit op die Kaapse Oos-grens

1852 – Versoening tussen Hendrik Potgieter en Andries Pretorius te Rustenburg

Andries Pretorius se onderhandelings met die Britse owerheid het op 17 Januarie 1852 op die ondertekening van die Sandrivier-konvensie uitgeloop, waardeur Pretorius Britse erkenning vir die onafhanklikheid van Transvaal verkry het. Aangesien Potgieter sterk gekant was teen enige vorm van onderhandeling met die Britse owerhede en hy met ’n de facto onafhanklikheid vir die Oorvaalse gebied tevrede was, het Pretorius se optrede en die feit dat hy sonder goedkeuring van die Volksraad met die Britte onderhandel het, hom die gramskap van Potgieter op die hals gehaal. Ten einde verslag van Pretorius se werksaamhede in verband met die Sandrivier-konvensie te ontvang, is ’n Volksraadvergadering vir 16 Maart 1852 te Rustenburg belê. Vanweë die spanning wat tussen Potgieter en Pretorius en hul onderskeie ondersteuners bestaan het, is daar gevrees dat dit tot ’n breekpunt tussen die twee partye mag kom. Sover het sake egter nie gegaan nie. Om die twee Voortrekkerleiers tot kalmte te maan en verdere moeilikheid te voorkom, het ’n aantal invloedryke burgers gedurende die aand van 15 Maart die aanwesige ouderlinge te Rustenburg versoek om ’n gesprek met die twee leiers te voer. Voortvloeiend hieruit het die ouderlinge vroeg die volgende oggend ’n ontmoeting tussen Potgieter en Pretorius in Potgieter se tent gereël waar hulle op ’n grootmoedige en dramatiese wyse ’n einde aan die wrywing gemaak het. Kort voor die Volksraadsitting op 16 Maart 1852 word die tentklap van die tent waarin Potgieter en Pretorius onderhandel het, ten aanskoue van die vergaderde mense oopgeslaan en aanskou hulle die twee Voortrekkerleiers met hulle hande in mekaar met ’n oopgeslane Bybel voor hulle.

 

Geboortes

1869 – William Angus (Willie) Hofmeyr, kultuurleier en sakeman. Die WA Hofmeyr-prys is na hom vernoem († 18 Oktober 1953)

William (Willie) Angus Hofmeyr, sakeman en kultuurleier, is op Montagu gebore. In 1889 het hy sy BA-graad aan die Victoriakollege op Stellenbosch behaal, hom as prokureur in Johannesburg bekwaam en in sy eie Randse praktyk en later in ’n vennootskap in Kaapstad gepraktiseer. Na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hy in die politieke stryd van daardie jare beland, veral weens sy diepe begeerte om uiting deur middel van die pers vir die opgekropte gevoelens van menige Afrikaners te verkry. Die Nasionale Pers het in 1915 onder sy aanvoering tot stand gekom, en hy was die eerste direksievoorsitter. Tot met sy dood op 18 September 1953 op Stellenbosch was hy in verskeie ampte aan die Nasionale Pers verbonde. Op sakegebied was hy ’n baanbreker en het in 1918 die eerste voorsitterskappe van Santam en Sanlam beklee, asook later dié van African Homes Trust, Bonuskor en Voortrekkerpers. Hy het ’n aanmerklike bydrae tot die stigting van Federale Volksbeleggings en die vestiging van Saambou-Bouvereniging gelewer. By die toekenning van die eregraad DCom, deur die Universiteit van Stellenbosch in 1947, word WA Hofmeyer bestempel as aanspraakmaker op die benaming van leier van die eerste ekonomiese oplewing van die Afrikaanssprekende. Hy het van 1929 tot 1939 en weer in 1948 in die Senaat gedien. 

1871 – Hans Merensky, geoloog, prospekteerder, wetenskaplike, omgewingsbewaarder en weldoener († 21 Oktober 1952)

1920 – Alba Bouwer, Suid-Afrikaanse kinderboekskryfster, joernalis en maatskaplike werkster († 5 Oktober 2010)

 

Sterftes

1864 – Sir Andries Stockenström, luitenant-goewerneur van die Kaapkolonie (* 6 Julie 1792)

1960 – Nicolaas Jacobus de Wet, politikus, waarnemende goewerneur-generaal en hoofregter (* 11 September 1873)

2011 – Carel Boshoff, sendeling en stigter van Orania (* 9 November 1927)

 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/