15 JULIE
July 13, 2015
17 JULIE
July 13, 2015

Gebeure

1666 – Leeus by fort

Leeus het aan die eerste inwoners van die Kaap groot hoofbrekens besorg en die gebrul is gereeld duidelik van Leeuberg af gehoor vanwaar hulle toegeslaan en van die osse verskeur het. Om die bedreiging doeltreffend die hoof te bied, is daar op hierdie dag aan elkeen wat ’n leeu platgetrek het, 25 gulden (destyds sowat R4.15) as beloning gegee.

1685 – Opdragte aangaande slawebehandeling

Op hierdie dag het die besoekende Nederlandse kommissaris, Hendrik Adriaan van Reede, aan goewerneur Simon van der Stel verskillende opdragte aangaande slawe aan die Kaap gegee. Volgens hom moes die slawe meer produktief gebruik en beter versorg word. Hoe meer hulle gehelp word om vooruit te kom en gesond te bly, hoe beter sou hulle die kompanjie kon dien en sou hulle teenoor hulle eienaars lojaal kon bly. Daarom het hy die administrasie van die slawe laat opknap, wette met betrekking tot hulle nagegaan en nuwes opgestel en ook huwelike tussen vrygestelde vroueslawe en vryburgers verbied. Mense in gevangenisdiens moes harder as slawe werk. Slawe moes in die Christelike beginsels onderrig en in die Nederlandse taal geleer word. Slaweseuns onder twaalf jaar oud moes skoolgaan, en kinders oor twaalf jaar sou twee maal per week in die namiddae onderrig in lees, skryf en kategese ontvang. Sondae moes die kinders kerk toe gaan. Die slawelosie is voortaan in drie verdeel en was nie meer een groot woon- en slaapsaal nie. Getroude of “amptelike” saamwonende egpare sou in een afskorting leef, dogtertjies en ongetroude vroue in ’n tweede en seuns en jong mans in ’n derde eenheid. Seuns van blanke vaders en slawemoeders sou outomaties op 25-jarige leeftyd, dogter op 22, hulle vryheid ontvang mits hulle Nederlands kon praat, belydenis van geloof afgelê en 100 pond betaal het. Warmer klere en beddegoed moes voortaan aan Kompanjieslawe verskaf word. Kriminele oortreders moes ook nie saam met slawe gehuisves word nie. Alle besonderhede aangaande die dood, geboorte en huwelike van slawe moes volledig aangeteken word. Die slaweseuns veral moet ’n ambag bygebring word. Slawe moes oor die algemeen goeie inwoners van die Kaap gemaak word sodat hulle met ywer ’n goeie taak kon verrig en hulle nuwe land kon aanvaar.

Die totale slawebevolking aan die Kaap in ongeveer 1700 was iets meer as 600. Vrygestelde slawe, ander vry swartes en die nasate van verhoudings tussen slawe onderling, met Hottentotte en blankes en besoekers aan die Kaap, het die begin van ’n nuwe samelewingsgroep, die Kaapse Kleurlinge, ingelui.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Methuen herbeset Rustenburg

Dit is die 3de Britse besetting van die dorp.

1902 – President Steyn vertrek na Nederland vir mediese behandeling

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1906 – Alfred Beit, vriend van Cecil John Rhodes en medestigter van De Beers Mining Company en Suid-Rhodesië (* 15 Februarie 1853)

1956 – Dr. Willem Petrus Steenkamp, Suid-Afrikaanse predikant, dokter en politikus (* 14 Februarie 1879)

1967 – Frederik Louis Benjamin (Oom Frikkie) Burgers, Suid-Afrikaanse vermaakkunstenaar, radio- en rolprentpersoonlikheid en orrelis (* 7 Julie 1907)

1982 – Charles Robberts (CR) Swart, die laaste Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika en die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika (* 5 Desember 1894)

Charles Robberts Swart is op hierdie dag in Winburg gebore en hy deel reeds op vyfjarige ouderdom in die smart en ellende van die Afrikanervolk toe hy saam met sy moeder en ander huisgenote na die Winburg-konsentrasiekamp gestuur word. Dit sou dwarsdeur sy lewe een van sy grootste ideale bly om die republikeinse erfenis waarbinne hy gebore is, weer volkome te laat herleef. Op dertienjarige ouderdom verwerf hy matriek en in 1918 die graad LLB. Van 1919 tot 1948 het hy as advokaat van die Hooggeregshof in Bloemfontein gepraktiseer.

In 1923 het hy Volksraadslid geword en ’n al duideliker rol in die politiek begin speel. Met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 by die stembus word hy benoem as Minister van Justisie en as sodanig was hy verantwoordelik onder meer vir die herstel van die naam landdros, die vertaling van die Nederlandse Uniewette en die Romeins-Hollandse Regsbronne in Afrikaans asook die afskaffing van appèl na die Geheime Raad.

Met die siekte en afsterwe van premier JG Strijdom in 1958 is hy as waarnemende Eerste Minister benoem. Van Januarie 1960 tot April 1961 was hy Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en op 31 Mei 1961 is hy as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig. Hierdie amp het hy ses jaar lank met groot onderskeiding en gewildheid beklee.

Hy het ook ’n lewenslange aktiewe deelname aan allerlei taal- en kultuurliggame gehad: lid van die stigtingskomitee en lewenslange lid van die FAK; een van die stigters van die Voortrekkerbeweging in 1931 en vanaf die stigting daarvan tot 1948 lid van die Vrystaatse Provinsiebestuur; lid van die Nasionale Oorlogsmuseum in Bloemfontein, en erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is in 1951 as eerste kanselier van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat verkies en het tot 1978 die pos beklee.

Van hom het steeds besieling uitgegaan om jong mense te inspireer met die Christelike lewensbeskouing en ‘n gesindheid van ordelikheid en ordentlikheid. ’n Voorbeeld hiervan was sy talle besoeke aan die Hoërskool Staatspresident CR Swart waar hy graag onthaal is weens die vernoeming van die skool. Daar het hy die hele skool se leerlinge vir ure lank in ’n skoologgend met interessante staaltjies uit die geskiedenis en sy eie lewenservaringe geboei, en daardeur die Afrikanerkind se kultuur van godsdiens, taal, herkoms, ordelikheid en ordentlikheid vasgelê. Sy geliefde noemnaam “Oom Blackie” het juis as gevolg van sy sagmoedige maar inspirerende persoonlikheid ontstaan en so het die jeug hom dan ook aangespreek.

Charles Swart het ook joernalistieke baanbrekerswerk verrig as persverteenwoordiger in die Parlement vir Die Burger en Die Volksblad – destyds nog suiwer pro-Afrikanerkoerante – en hy het gereelde rubrieke aan talle ander nuusblaaie en tydskrifte gestuur. Sy twee gewilde en treffende Afrikaanse boeke vir kinders, Kinders van Suid-Afrika, en Die Agterryer, het talle herdrukke beleef.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/