15 FEBRUARIE
October 31, 2016
17 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1850 – Harrismith ontstaan

Harrysmith is vernoem na Harry Smith, baronet van Aliwal, asook Kaapse goewerneur gedurende 1847. Harry Smith word ook onthou omrede die slag van Boomplaats. Na Boomplaats het hy die sogenaamde Vaalrivier distrik gestig wat uit sowat 300 plase bestaan het en waarop later onder meer die dorp Harrismith aangelê was. Die taak om ’n geskikte terein vir die aanleg van die dorp uit te soek, was oorgelaat aan Michiel Bester. Bester het aanvanklik besluit op Majoorsdrif ongeveer 32 km wes van die huidige Harrismith. Bester se keuse was logies omrede die paaie tussen Potchefstroom,  Heidelberg en Winburg by die die drif bymekaar gekom het. Die “dorp” by Majoorsdrif het feitlik al bestaan toe dit verlaat is omrede ’n gebrek aan water.

Bester se tweede keuse het geval op die plaas Gemsbokhoek van Jan Snyman. Gemsbokhoek was geleë aan die voet van die Platberg en langs die Wilgerrivier. Verskeie fonteine het uit die berg deur die dorp gevloei. Inwoners van Majoorsdrif was eerste keuse gegee om erwe uit te soek aangesien hul reeds by Majoorsdrif vir erwe betaal het. Harrismith het byna die naam Vrededorp gedra, dog daar was daarteen besluit.

1858 – Grondwet, vlag en ampswapen van ZAR word aanvaar

Die Volksraad van die Zuid-Afrikaanche Republiek aanvaar die  grondwet, vlag en ampswapen van die Republiek. Verigtinge rondom die instelling van ’n eie grondwet, vlag en ampswapen het reeds op die 2de Februarie 1858 begin. Hoewel die Vierkleur reeds op 6 Januarie 1857 amptelik te Potchefstroom aanvaar en gehys is, was nie alle partye daarmee tevrede nie. So ook was dit die geval met die grondwet wat op die 16de Desember 1856 goedgekeur is. Stephanus Schoeman van die Soutpansberg tesame met etlike volgelinge was onder meer diegene daarteen gewees. Verskille ens. tussen al die partye is bygelê en op hierdie dag is ZAR-vlag, wapen en grondwet deur almal aanvaar.

1877 – Vredestraktaat met Sekoekoenie I 

Die oorlogsverklaring van die Boere in Mei 1876 teen Sekoekoenie I, opperhoof van die Pedi-stam in Noord-Transvaal, is deur Sekoekoenie en die Britse regering tot hul voordeel uitgebuit. Sekoekoenie het hom hierdeur aan die wêreld voorgedoen as die onskuldige slagoffer van ’n aggressor wat daarop uit is om sy gebied met geweld af te neem. Die Britse regering het aan die ander kant in die oorlogsverklaring ’n voorwendsel gevind om die anneksasie van Transvaal deur te dryf en as rede aangevoer die kwansuise onvermoë van die Republikeinse regering om die swartes in Transvaal te hanteer. In werklikheid het Sekoekoenie die Republikeinse regering as’t ware in ’n oorlog gedwing met sy volgehoue uittartende en aggressiewe optrede. Na die mislukking van die Boeremagte om Sekoekoenie te verslaan, val die Boere terug en word ’n vrywilligerkorps onder bevel van kapt. CH van Schlickmann aangewys om die beleg teen Sekoekoenie voort te sit. Sekoekoenie besef spoedig dat toestande vir hom hopeloos geword het en hy besluit om vrede met die Boere te sluit. Ook vir die ZAR was die spoedige vredesluiting van die allergrootste belang, en op 16 Februarie 1877 is die vredestraktaat tussen die twee partye op Botshabêlô onderteken en verklaar Sekoekoenie hom onderdaan van die ZAR. Dit het sir Theophilus Shepstone egter nie beweeg om van sy planne af te sien nie, en op 12 April 1877 annekseer hy Transvaal. Want nie Transvaal se armoede nie, maar juis sy potensiële rykdom; nie sy swakheid wat gehelp moes word nie, maar juis sy krag wat gevrees is, was die rede tot anneksasie. 

1890 – Orde van die Nederlandse Leeu vir vaderlandsliefde is aan pres. Kruger toegeken 

Op hierdie datum is aan Paul Kruger by Nederlandse koninklike besluit, nr. 11, die onderskeiding toegeken van Ridder Grootkruis in die Orde van die Nederlandse Leeu. Die toekenning is op 29 September 1851 deur koning Willem I van Nederland ingestel. Dit is aan Kruger met die oog op die Nederlandse koning, Willem III, se verjaardag op 19 Februarie 1890 toegeken. In buitengewone omstandighede kan dit ook aan buitelanders – soos met Kruger die geval was – oorhandig word. Dan sluit dit mense in wat waardevolle dienste en bewyse van liefde aan die medemens gelewer het, of wat op die terrein van die wetenskap en kuns gepresteer het. 

1891 – Wolmaransstad word as dorp geproklameer 

Die eerste dorpserwe word op hierdie dag te Wolmaransstad verkoop. Tegnies sou mens kon redeneer dat die dorp op hierdie dag ontstaan het. Diamante is gedurende 1871 by Kimberley ontdek wat tot gevolg gehad het dat ’n transportpad na die noorde oor die plase Rooderand en Valkfontein oopgetrap was. Die dorp, Wolmaransstad, was met ander woorde op die twee plase aangelê. Die broers W en TS Leask het in die omgewing ’n winkel opgerig wat later die middelpunt van die dorp geword het. Die eerste erwe was reeds in 1888 uitgemeet en op hierdie dag in 1891 verkoop. Die dorp is vernoem na Jacobus MA Wolmarans.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Bossiespan, Drieputs en Roodekalkfontein; Dronfield en Mcfarlane (Kimberley)

Generaal PA Cronje besluit om die stellings aan die Magersfontein-koppe te ontruim. Ten spyte van genl. Cronje se trek (wat uit nie minder nie as 400 ossewaens bestaan het) glip hy ongesiens verby genl. Kelly-Kenny. Teen dagbreek begin die Britse magte Cronje se verlate stellings na Bossiespan se kant toe te bombardeer. Hul kom egter hul fout agter en sit genl. Cronje se mag agterna. By Roodekalkfontein begin die eerste agterhoede gevegte. Met slim bewegings en die gebruik van artillerie slaag genl. Cronje daarin om te ontkom. Skemeraand het hulle Klipdrift bereik.

 

Geboortes 

1777 – Sir Benjamin D’UrbanKaapse goewerneur van 1834-1837 († 25 Mei 1849) 

Sir Benjamin D’Urban was ’n vroeë Britse goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop na wie Durban sowel as Durbanville genoem is. Hy is in Halesworth naby Norwich gebore. Sy voorsate was Franse Hugenote wat hulle in Engeland gevestig het om vervolging in hulle vaderland vry te spring.

1838 – Dr. Arnoldus Pannevis, beyweraar vir Afrikaans († 14 Augustus 1884) 

Arnoldus Pannevis is op Oudekerk, Holland, gebore en op 14 Augustus 1884 in die Paarl oorlede. Hy het in die medisyne gestudeer en ’n tyd lank as skeepsdokter gepraktiseer, totdat hy in 1861 bedank en in die klassieke studeer. Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad geland. Hy gee onderwys, hoofsaaklik in die Paarl en omgewing. Pannevis ontdek in Afrikaans ’n volwaardige taal; hy is baie godsdienstig en bepleit die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit gee aanleiding tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, die georganiseerde taalbeweging. Pannevis het in Nederlands en Afrikaans gedig; hy is medeskrywer van die Afrikaanse Volkslied (“’n Ieder nasie het sijn land”). 

1854 – Jan Daniël Cilliers, digter († 28 Mei 1922) 

Jan Daniël Cilliers is op ’n plaas naby Wellington gebore en het vroeg kennis gemaak met Die Patriot en sy strewe om Afrikaans erken te kry. In Die Patriot het die meeste van sy gedigte onder die skuilname Kleinjan Wat Versies Maak, Neef Jan (Wat Versies maak), Jan die Versiemaker Junior Verskyn. In 1886 is hy na die goudveld. Hy vestig hom en sy gesin mettertyd op Potchefstroom waar hy op 28 Mei 1922 oorlede is. Hy het Transvaalse burger geword en as sodanig aan die Engelse Oorlog deelgeneem. Na CP Hoogenhout was hy die produktiefste digter van sy tyd in Afrikaans; hy het feitlik tot aan sy dood gedig. Sy gedigte sal ’n paar boekdele vul. Die meeste is godsdienstig. Hoogenhout was veral bekommerd oor die welsyn van sy volk, Cilliers veral oor die welsyn van sy siel. Nadat Cilliers die sewe lydensweke berym het, sluit hy af: 
 
Muns Heilands kruis is almyn lus 
Syn kruis myn hoop, Syn kruis myn rus 
Myn troos, myn heil, myn lewe. 
 
Hy het ook enkele speels-humoristiese en ’n paar komiese gedigte geskryf. Sy werk getuig van innigheid en opregtheid, maar besit weinig oorspronklikheid. 

1935 – Leonore Veenemansoperasangeres († 17 Februarie 1973) 

In 1969 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf met mening van Leonore Veenemans kennis geneem toe sy ’n treffer met “Liefste Madelein” gehad het. Leonore het ses albums in vier jaar opgeneem, maar is op 17 Februarie 1973, die dag na haar 38ste verjaardag, in ’n motorongeluk dood.

1939 – Marita Napier, operasangeres († 10 April 2004) 

Marita Napier was een van die grootste Suid-Afrikaanse operasangers van die 20ste eeu. Sy het al op die vernaamste operafeeste in Europa gesing – onder meer Bayreuth, Aix-en-Provence, Verona, München, Wiener Festwochen en Maggio Musicale Florence, asook in die voorste operahuise soos dié van Hamburg, München, Berlyn, Wene, La Scala, Parys, Covent Garden, Liceo, Teatro Colon, San Francisco en die Metropolitan.

 

Sterftes 

1968 – Gert van den Bergh, Suid-Afrikaanse akteur (* 16 Oktober 1920) 

Op 16 Oktober 1920 sien een van die talentvolste Afrikaanse toneelspelers, Gert van den Bergh, op Krugersdorp die eerste lewenslig. Onder leiding van Anna Neethling-Pohl, kry hy sy beslag as toneelspeler. Hy word lid van die eerste Afrikaanse geselskap van die Nasionale toneelorganisasie, wat in 1948 die land vir die eerste keer, as staatsondersteunde toneelgeselskap deurreis. Later, vestig hy hom in Johannesburg en begewe hy hom in die radio en die ontwakende rolprentwese. Hy was die eerste Afrikaanssprekende vryskutprogramaanbieder, en het spoedig ‘n gedugte mededinger vir sy Engelse kollegas op die handelsradio geword. Ook in die filmbedryf het hy ‘n gesogte akteur geword – ‘n Afrikaanssprekende akteur wat erken en aanvaar is as filmakteur van wêreldformaat. In 1965 vereer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met sy besondere Erepenning vir Toneel-, Film- en Radiokuns. Hy is op 16 Februarie 1968 oorlede.

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/