15 DESEMBER
December 15, 2016
17 DESEMBER
December 17, 2016

Gebeure

1838 – Groot Trek: Slag van Bloedrivier

Die Boere verslaan Zoeloemagte in die Slag van Bloedrivier, en word vir meer as ’n honderd en vyftig jaar daarna in Suid-Afrika as Geloftedag gevier.

1904 – Begrafnis van pres. Kruger in die Heldeakker, Pretoria

Om 6h00 het die kerkklokke in Pretoria gelui vir die begrafnis van Stephanus Johannes Paulus Kruger, in lewe geliefde Staatspresident van die ZAR. Die Kerkplein en die eertydse woning van pres. Kruger was in rou geklee en die letters RIV (Rus in Vrede) was voor die huis aangebring. Vanaf 10h00 is buiteluggodsdiensoefening op die oop terrein langs die Gereformeerde Kerk, regoor Krugerhuis, gehou, en om 15h30 het die begrafnisverrigtinge op die Kerkplein ’n aanvang geneem, waar die voetstuk vir pres. Kruger se standbeeld reeds opgerig was. Die President se stoflike oorskot, wat uit Nederland na Suid-Afrika gekom het, is vanaf die Susannasaal per lyk wa na die Kerkplein en daarna na die begraafplaas vervoer. ’n Skare van ongeveer 15 000 het geluister na sprekers soos genls. Schalk Burger, CR de Wet en Louis Botha, wat hulde gebring het aan die ontslape president, waarna pres. Kruger in die Ou Begraafplaas, Kerkstraat-Wes, in die helde-akker te ruste gelê is. Dit was een van die somberste Geloftedae in Transvaal, maar nogtans ’n dag waarop die Afrikaanse volk kon terugkyk na ’n gelowige en besielde leier, en ’n dag wat sy besieling vir die toekoms gebied het.

1913 – Onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein

Die onthulling van die Vrouemonument was die vervulling van ’n lang gekoesterde ideaal om hulde te bring aan die 26 370 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Konsentrasiekampe die lewe gelaat het. Jare lange harde werk, onder die inspirerende leiding van pres. Steyn, het hierdie gebeurtenis voorafgegaan. Die feesviering het begin met ’n diens in die Tweetoringkerk deur die eerbiedwaardige dr. Andrew Murray. ’n Indrukwekkende optog bestaande uit gewapende burgers, waens met jong meisies in wit en pers geklee en ’n groot aantal berede burgers, het onder plegtige musiekbegeleiding en kanongebulder die monument genader. Die onthulling is deur mev. Steyn waargeneem, omdat Emily Hobhouse weens swak gesondheid nie teenwoordig kon wees nie. ’n Kranslegging is gehou en feesredes gelewer aan die voet van die gedenknaald van Anton van Wouw se ontroerende beeldegroep. Die patos en oneindige weemoed wat uit hierdie monument straal, kan geen toeskouer onaangeraak laat nie.

1921 – Die Krugerstandbeeld in Rustenburg deur genl. JC Smuts onthul

1938 – Hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria

1949 – Die Voortrekkermonument word luisterryk ingewy in Pretoria

 

Geboortes

1894 – Cornelius Gerhardus Stephanus (Con) de Villiers, skrywer, musiekkenner en genealoog († 25 November 1978)

Con de Villiers was ’n professor in fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch, skrywer van verskeie boeke oor die Overbergstreek, musiekkenner en vertaler wat die Akademieprys vir Vertaalde Werk verwerf het in die vorige eeu.

 

Sterftes

1852 – Andries Hendrik Potgieter, leier van die tweede groot trekgeselskap wat die Kaapkolonie verlaat het (* 19 Desember 1792)

Kmdt.genl. Andries Hendrik Potgieter is op hierdie dag in die distrik Graaff-Reinet gebore. Deur hardwerkendheid het hy mettertyd die plaas Kommandodrif aan die Tarkarivier in die distrik Cradock bekom. Hoofsaaklik vanweë die verydeling en verbittering wat deur die Britse Oosgrensbeleid gewek is, het Potgieter, wat eintlik by sy tweede naam Hendrik bekend was, die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat. Aanvanklik het sy trek uit familielede bestaan maar later aansienlik aangegroei onder meer deur die aansluiting van Sarel Cilliers se groep. Teen die middel van 1836 het die laer by Bloudrif aan die Sandrivier gestaan. Van daar het Potgieter ’n besoek aan Louis Tregardt in die Soutpansberg gebring. Tydens sy afwesigheid het die Trekkers hulle oor die grasvlaktes tot aan die Vaalrivier versprei. Dit het Matebele-aanvalle uitgelok wat op die feitlik totale uitwissing van die Liebenberg-familie uitgeloop het. Die Slag by Vegkop op 16 Oktober 1836 het hierop gevolg – ’n veldslag waarin Potgieter se bekwame en kalme leiding en voortreflike krygsvernuf bygedra het tot die feit dat ’n veertigtal Boere meer as 6000 Matebeles met geweldige lewensverlies teruggedryf het. Verdere botsings met die Matebeles by Mosego en Kapain het die terugdrywing van die Matebeles tot anderkant die Limpopo tot gevolg gehad. Vanweë sy selfstandigheidsgees en stugheid het hy moeilik met ander Voortrekkerleiers saamgewerk. Hoewel Potgieter op die Trekkervergadering van 2 Desember 1836 as laerkommandant gekies is, is hy na die aankoms van Piet Retief nie weer tot die regering verkies nie. Dus, begerig om ver weg te kom van die Britse owerheid en ook na sy omstrede deelname aan die Vlugkommando in Natal in April 1838, het Potgieter hom in die Oorvaalse gebied gaan vestig waar hy Potchefstroom aangelê het. Daarna woon hy agtereenvolgens op Andries Ohrigstad en Schoemansdal, Soutpansberg, waar hy dan op 16 Desember 1852 oorlede en begrawe is. Potgieter was by uitstek daarvoor verantwoordelik dat die Transvaalse grondgebied deur die Voortrekkers bewoon kon word.

1996 – Laurens van der Post, skrywer en filosoof (* 13 Desember 1906)

Laurens van der Post was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Hy is in 1906 in die Oranjerivierkolonie gebore. Hy word ’n joernalis en wend hom geleidelik tot die letterkunde toe.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/