14 OKTOBER
October 14, 2015
16 OKTOBER
October 16, 2015

Gebeure

1836 – Groot Trek: Slag van Vegkop

1910 – De Natal Onderwijzers Unie gestig

1960 – Republikeinse Dankfees

Suid-Afrika het op 5 Oktober 1960 met ’n meerderheid van 74 580 stemme ten gunste van ’n republiek gestem, en twee dae later is die FAK gevra om ’n Republikeinse dankfees te reël. Die FAK het ingestem en binne ’n week ’n dankbare skare van 70 000 in die Amfiteater van die Voortrekkermonument byeengebring. Die fees het uit twee dele bestaan. Presies om drie-uur die middag het die Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, lede van sy kabinet, die vier administrateurs en die Uitvoerende Komitee van die FAK in die Sarkofaagsaal van die monument hulde gebring aan die leiers van die Afrikanervolk op die pad na Republiekwording. Van daar af het hulle na die Amfiteater gegaan vir die tweede deel van die feesprogram.

Skriflesing deur sen. GR Wessels was uit Romeine 8 – ’n Oorwinningslied – waarna ds. GJJ Boshoff ’n treffende dankrede gevoer het na aanleiding van Ps. 127:7: “Ons siel het vrygeraak soos ’n voël uit die vangnet van die voëlvangers. Die vangnet is gebreek en ons, ons het vygeraak.” Prof. HB Thom het daarna die verwelkoming gedoen en die dag “’n lentedag in ons geskiedenis genoem” genoem.

Dawerende applous het losgebars toe dr. Verwoerd aan die woord kom en die volk vra om hom “toe te wy aan Suid-Afrika in geloofsvertroue waaruit alleen die allerdiepste krag kan spruit”. In ’n indrukwekkende optog onder aankondiging van mnr. Douglas Fuchs, en met koorsang en spreekkore, musiek en voordragte, het Boerekrygers, die jeug en vroue, voor die jubelende skare verbybeweeg. Met trompetgeskal en reusebaniere is hulde gebring aan genl. JBM Hertzog, dr. DF Malan en adv. JG Strijdom, die Nasionale leiers wat dr. Verwoerd voorafgegaan het. By die afsluiting het dr. S du Toit, seun van die Bybelvertaler, Totius, ’n spesiaal-gebinde Bybel as simbool van die volk se geloof aan dr. Verwoerd oorhandig. Nadat die skare reeds weg was, het lede van die FAK se Uitvoerende Komitee en personeel van die magdom blommeruikers wat die vroue gebring het, by die grafte van pres. SJP Kruger en adv. JG Stijdom gaan lê.

1990 – Die Suid-Afrikaanse parlement herroep die Wet op Afsonderlike Geriewe van 1953

Die Wet op die Behoud van Afsonderlike Geriewe, Wet 49 van 1953, vorm deel van die apartheidstelsel van rassesegregasie in Suid-Afrika. Die wet het die rasseskeiding van openbare persele, voertuie en dienste gewettig. Slegs openbare paaie en strate is uitgesluit van die Wet. In afdeling 3b word gesê dat die fasiliteite vir verskillende resies nie gelyk hoef te wees nie, terwyl Afdeling 3a dit wettig gemaak het om nie net gesegregeerde fasiliteite te voorsien nie, maar ook om mense op grond van hul ras uit te sluit van openbare persele, voertuie of dienste. In die praktyk was die beste fasiliteite vir blankes gereserveer, terwyl dié vir ander rasse minderwaardig was. Munisipaliteite het vinnig van die wet gebruik gemaak om verordeninge te aanvaar wat sekere gebiede slegs vir blankes gereserveer het. Op 20 Junie 1990 het die Suid-Afrikaanse Parlement gestem om die wet te herroep, en op 15 Oktober 1990 is dit finaal herroep deur die Diskriminerende Wetgewing rakende die Herroeping van Wet op Openbare Geriewe.

 

Geboortes

1853 – Friedrich Wilhelm Jannasch, mede-stigter van die SA Musiekkonservatorium († 19 April 1930)

Friedrich Wilhelm Jannasch is op Mamre gebore as seun van ’n Duitse Morawiese sendeling. Hy ontvang sy skoolopleiding by Christiansfeld in die huidige Denemarke. Hy begin as vyftienjarige met orrellesse aan die Koninklike Sweedse Musiekakademie in Stockholm. Hierna studeer hy verder in Berlyn en Breslau in Duitsland. Hy was van 1872 tot 1882 onderwyser in die Morawiese gemeenskap te Gnadenfrei in Schlesien.

NJ Hofmeyr van die Stellenbosse Kweek­­skool werf Jannasch in 1883 om ’n musiekskool op Stellenbosch tot stand te bring. Saam met vier ander plaaslike en buitelandse musici, waaronder die Oos­tenryker Hans Endler, stig hy in 1905 die Zuid-Afrikaansche Conservatorium voor Muziek – tans die Departement van Musiek van die Universiteit van Stellenbosch. ’n Jaar later is ’n gebou met ’n konsertsaal in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, volgens sy planne opgerig. Hy tree in 1921 as direkteur af.

Hy was van 1887 af tot met sy dood in 1930 orrelis en koormeester van die Stel­lenbosse Moederkerk. Prof. Jannasch het ook talle koorwerke en orrelstukke gekomponeer en ’n aantal van Totius se Psalm­berymings getoonset. Sy gewilde melodieë van Ps. 23, 90 en 91 word steeds gebruik. Hy het self ook heelwat oor kerkmusiek ge­skryf.

1867 – Frederick William (FW) Beyers, regsgeleerde en politikus († 1 Mei 1938)

Frederick William Beyers was ’n juris, prokureur, regter en politikus van Suid-Afrika, ’n lid van die Transvaalse senaat (1907-1910), opeenvolgende prokureur-generaal van Transvaal (1911-1914) en die Kaapse provinsie (1914-1918), parlementslid (1918-1929), lid van die Nasionale Party en Minister van myne en nywerheid van 1924 tot 1929 in die eerste Hertzog-regering. Na sy regstudies aan die Universiteit van Kaapstad het FW Beyers ’n juris en prokureur geword in Johannesburg en in Kaapstad. Beyers is in 1907 verkies tot die Wetgewende Vergadering van Transvaal. Na die stigting van die Unie van Suid-Afrika word hy in 1911 tot prokureur-generaal van die provinsie Transvaal aangestel en daarna in 1914 dieselfde pos in die Kaapprovinsie. In 1918 word hy verkies tot die laerhuis van die Suid-Afrikaanse parlement in die verkiesingsdistrik Edenburg. Hy was toe ’n lid van die Nasionale Party van James Barry Hertzog. In 1924 sluit hy by die Hertzog-regering aan as minister van myne en nywerheid. In hierdie pos het hy in Suid-Afrika wetgewing ingestel wat die industrie-diamant reguleer. Hy het om gesondheidsredes nie in 1929 die verkiesing betree nie en het uit die politiek getree. Hy werk as appèlregter, aangestel deur die regering in 1931 tot met sy aftrede in 1937. In hierdie posisie was hy die eerste om sy uitspraak in Afrikaans eerder as Engels te skryf. Op 70-jarige ouderdom het hy probeer terugkeer na die politiek en het in 1938 in die wetgewende distrik Fauresmith sonder sukses teen Nicolaas Havenga, die destydse Minister van Finansies van Suid-Afrika, te staan gekom.

1917 – Godfried Andreas (GA) Watermeyer, digter († 4 Junie 1972)

GA Watermeyer was ’n digter en baanbreker vir Afrikaans in die reklamebredryf.

 

Sterftes

2000 – Justus Cornelius (Cor) Dirks, skoolhoof en skrywer (* 28 Februarie 1911)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/