14 JUNIE
June 9, 2015
16 JUNIE
June 17, 2015

Gebeure

1882 – Hollands in Kaapse skole

Onze Jan Hofmeyr het op 9 Junie 1882 die wet deur die Kaapse Parlement aangeneem gekry dat Hollands naas Engels in die Parlement gebruik mag word. Op 15 Junie is besluit om die skoolregulasies so te wysig dat die voertaal in die eerste- en tweedeklasskole aan die goeddunke van die betrokke skole gelaat sou word. Dit beteken dat die voertaal gekies kon word in alle skole, maar in die praktyk is geen uitvoering hieraan gegee nie.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Christiaan de Wet se plaas afgebrand

Christiaan de Wet se plaas, Roodepoort, naby Koppies word afgebrand in opdrag van lord Roberts, wat alle vegtende Vrystaters as rebelle beskou. In reaksie teenoor die offisier wat die opdrag gegee het, skryf De Wet: “My house cost me 700 pond but it will cost you 7 000 000 pouns before I get through with you.” 

1901 – Anglo-Boereoorlog: Die Britte hang JP Coetzee, ’n Kaapse rebel van Cradock, op

1914 – Afrikaans word in die O.V.S. se skole toegelaat

1915 – Eerste Wêreldoorlog: Duitsers in Duits-Suidwes-Afrika gee oor aan Suid-Afrikaanse magte onder generaal Louis Botha

1915 – Christiaan de Wet skuldig bevind aan hoogverraad

Na die 1914 Rebellie, is genl. Christiaan de Wet in die hooggeregshof, Bloemfontein, skuldig bevind aan hoogverraad en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf en ’n boete van £ 2000. Binne enkele maande is die boete uit vrywillige bydraes betaal.

1974 – Afrikaans ons pêrel van groot waarde bekendgestel

In 1970 het die Hoofbestuur van die FAK besluit om in die jare sewentig ’n boek uit te gee waarin die groei van Afrikaans beskryf word, en op hierdie dag is Afrikaans ons pêrel van groot waarde aan die publiek bekend gestel nadat geskenkeksemplare kort tevore aan die Staatspresident, mnr. BJ Vorster, oorhandig is. Afrikaans het ’n merkwaardige eie geskiedenis. Dit het worsteljare deurgegaan op die gebied van die letterkunde, die kerklike lewe, die wetenskap en tegnologie, die sakelewe, die uitsaai-, rolprent- en perswese, die regspleging, en in die boek word die wonderlike groei van Afrikaans in woord en beeld weergegee. Honderd genommerde uitgawes in leeromslae en sewe duisend gewone hardebandeksemplare is gedruk, wat binne ’n jaar uitverkoop was. 

 

Geboortes

1831 – Adriaan Jacob Begemann, predikant, bibliotekaris en eerste permanente predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Pretoria († 15 November 1925)

1842 – Sir John de Villiers, Hoofregter van die Kaapkolonie en die eerste Hoofregter van die Unie van Suid-Afrika († 2 September 1914)

1958 – Christa Steyn, komponis, pianis en sangeres († 11 Junie 2012)

 

Sterftes

1875 – Johannes de Wet, vader van Marie Koopmans-De Wet, kampvegter vir persvryheid en lid van die Kaapse wetgewende vergadering (* 7 September 1794)

Johannes de Wet is op 7 September 1794 in Kaapstad gebore en het grootgeword in die huis in Strandstraat 23, wat hedendaags as die Koopmans-de Wet-Museum bekend is. In die destydse stryd om die vryheid van die pers het hy saam met Pringle en Fairbain die stryd aangeknoop teen die outokratiese lord Charles Somerset. In 1828 is hy aangewys as sekretaris van die komitee wat die Zuid-Afrikaanse Genootskap van Boedeladministrasie gestig het. In 1849 het hy aktief deelgeneem aan die Anti-Bandietebeweging, en hy is in 1854 met die instelling van verteenwoordigende bestuur gekies as lid van die Wetgewende Raad. Hy speel ’n besondere rol as diaken en ouderling in die Groote Kerk en het vanweë sy geskiedenisbelangstelling heelwat dokumente in Nederland laat afskryf. In der waarheid was De Wet in sy tyd een van die mees ontwikkelde Kapenaars; ten tyde van sy dood het hy ’n private boekery van ongeveer 1 625 bande nagelaat, bestaande uit boeke, manuskripte, pamflette, landkaarte, ens.

1961 – Gerhardus Petrus Borstlap (André Huguenet), akteur, regisseur en skrywer, asook baanbreker van Afrikaanse toneelspel (* 22 Oktober 1906)

Gerhardus Oetrus Borstlap, doopname van die later bekende toneelspeler Andre Huguenet, is in Bloemfontein gebore. In 1925 het die sensitiewe en hoogs talentvolle jong man van Bloemfontein na Johannesburg gereis om in ’n kunswedstryd mee te ding. Daar het hy Paul de Groot ontmoet – ’n ontmoeting wat die hele gang van sy lewe verander het. Nadat hy sy matriekeksamen afgelê het, het hy by De Groot se geselskap aangesluit. Paul de Groot het aan hom die toneelnaam Andre Huguenet besorg. Andre Huguenet was een van Suid-Afrika se grootste teaterpersoonlikhede. Met sy teatergroep het hy Suid-Afrika kruis en dwars deurreis, maar hy het ook nie gehuiwer om in nuwe ondernemings betrokke te raak nie. Een so ’n onderneming was die samewerking met die gevierde aktrise en regisseuse, Leontine Sagan, om twee opvoerings in Engels, The Corn is Green en Night must fall in 1940 in die Standard-teater in Johannesburg aan te bied. ’n Ander heuglike onderneming was ook in Johannesburg, toe hy en sy aansienlik vergrote geselskap Shakespeare se groot tragedie Hamlet in Afrikaans onder die spelleiding van Anna Neethling-Pohl en Siegfried Mynhardt by geleentheid van die ingebruikneming van die His-Majesty-teater opgevoer het. Hierdie aanbieding was onteenseglik die grootste enkele faktor wat tot die daarstelling van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) gelei het. Dit was nie vir hom beskore om die enorme vordering van die Suid-Afrikaanse beroepsteater sedert veral die begin van die sestigerjare te sien of mee te maak nie. Hy is op 15 Junie 1961 in Bloemfontein oorlede. Andre Huguenet, die akteur, het in sy lewe erkenning gekry vir sy bydrae tot die teaterbedryf. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het sy Erepenning vir Toneel in 1948 aan hom toegeken. So ook is hy, die Afrikaanse akteur, in 1950 genooi om die hoofrol in die James Elroy Flecker-toneelstuk Hassan te vertolk, wat in die West End van Londen aangebied is. In 1977 is ’n nuwe teatergebou in Hillbrow, Johannesburg na hom genoem.

2000 – Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié, komponis, astrofisikus, orrelis en koordirigent (* 13 Julie 1910)

Gabriel Gideon (Klein Gawie) Cillié is op Stellenbosch gebore. As wiskundige, sterrekundige en musikus het hy op vele terreine van die kulturele lewe ’n bepalende bydrae gelewer. Ná sy studie aan die universiteite van Stellenbosch, Oxford en Harvard was hy van 1939 tot 1975 hoogleraar in Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbsoch. Sy musiekopleiding het hom besonder goed daartoe bekwaam om ’n groot bydrae op die gebied van die volksang en veral die kerkmusiek van die Afrikaner te lewer. Van 1939 tot 1964 was hy orrelis aan die NG Moederkerk op Stellenbosch. Hy het jare lank die Kweekskoolkoor gelei en was mede-uitgewer van die Koraalboek en die Nuwe Halleluja en het verskeie koorwerke gekomponeer. Prof. Cillié was medestigter van die Stellenbosse Studentesangfees, dirigent van die universiteitskoor en medewerker van die nuwe FAK-Sangbundel. Hy het in 1954 lid van die FAK se hoofbestuur geword en is in 1979 tot voorsitter verkies.

2011 – Zack du Plessis, akteur, aanbieder, grapmaker, storieverteller en rolprentvervaardiger (* 28 November 1949)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/