14 AUGUSTUS
August 14, 2015
16 AUGUSTUS
August 16, 2015

Gebeure

1865 – Slag van Thaba Bosigo

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Twyfelaar, ZAR

1989 – FW de Klerk word president van Suid-Afrika

 

Geboortes

1851 – August Ahrbeck, predikant en taalstryder († 26 Februarie 1935)

1888 – Dr. Marthinus Smuts (Tinie) Louw, sakeleier († 1 Maart 1979)

As nederige, eerlike en opregte mens het Marthinus Smuts Louw ’n ontsaglike aandeel gehad in die uitbouing en opheffing van die Afrikaner op verskeie terreine, sodat sy persoonlike mylpale monumente geword het in die volksgeskiedenis van Suid-Afrika. Tinie Louw is as pastorieseun op Ladismith, Kaap, gebore. Hy beskik oor ’n besondere intellek, en in 1907 behaal hy sy graad BA (Hons) met Fisika as hoofvak aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy studentejare toon hy ’n intense belangstelling in die toekoms van die Afrikaner en die Afrikaanse taal, en op die jeugdige ouderdom van twintig jaar is Tinie Louw ’n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en Afrikanerregte. Hy tree as spreker op by talle taalkongresse, waar hy hom beywer om Afrikaans in die ereplek as die taal van die Afrikaner te help vestig. Met dr. Louw se toetrede tot die sakewêreld in 1918, het hy hom steeds beywer vir Afrikaanse taalregte; hierdie keer met ’n ietwat ander dimensie, naamlik om Afrikaans ook in die sakewêreld sy regmatige aandeel te laat geniet. As een van die stigterslede van die Ekonomiese Instituut van die FAK en later ook as lid van die Dagbestuur, beywer dr. Louw hom om die Afrikaner-idealisme ook by die Afrikaner-sakeman te laat ingang vind, en in dié verband was hy een van die voorste stryders van die regte van Afrikaanse sakeondernemings. Op sy voorstel is vroeg in 1940 die eerste konferensie vir verteenwoordigers van Afrikaanse sakeondernemings gehou. Nadat hy verkies word as voorsitter van die Ekonomiese Instituut in 1943, en veral na sy aanstelling as president van die AHI, ’n organisasie in wie se totstandkoming hy ‘n leidende aandeel gehad het, en wat vandag die invloedryke en gerespekteerde spreekbuis van die georganiseerde Afrikaanse sakeondernemings is, lewer dr. Louw sy grootste bydrae om die Afrikaanse sake, net soos die Afrikaanse taal, tot selfstandigwording te lei. In sy lang sakeloopbaan het hy verbintenisse met verskeie groot Afrikanerorganisasies gehad, van sommige waarvan hy voorsitter was en van ander waarin hy gedien het as direkteur – dink in die verband aan Sanlam, Bonuskor, NOK, Sasol, Saambou-(Permanente) Bouvereniging en vele ander. Sy aandeel in die ekonomiese bewuswording van die Afrikaner, laat in die dertigerjare, dien vandag nog as inspirasie vir ’n Afrikaner-sakegemeenskap, wat nie slegs met trots sy aandeel in die ekonomie handhaaf nie, maar steeds doelgerig daarin slaag om hierdie aandeel verder uit te bou. In 1965 is hy die eerste ontvanger van die HF Verwoerd-prys en in 1977 word die FAK se goue Erepenning vir Volksdiens aan hom toegeken. Dr. Louw is op 1 Maart 1979 oorlede.

1901 – Hendrik Lodewyk (Hennie) Roux, Afrikaanse kulturele leier en medestigter van die Rapportryersbeweging († 29 April 1961)

1905 – Dr. Gert Daniël Scholtz, historikus en skrywer († 10 Julie 1983)

 

Sterftes

1865 – Kmdt. Lourens Jacobus (Louw) Wepener, Boerekryger (* 21 Julie 1812)

Louwrens Jacobus Wepener is op hierdie dag in Graaff-Reinet gebore waar hy by sy oom Louwrens grootgeword het. Toe sy broers die Groot Trek vergesel, bly hy in die Kaapkolonie waar hy aan die drie grensoorloë, wat tussen 1834 en 1853 plaasgevind het, deelneem. As waarnemende veldkornet toon hy reeds die dapperheid wat aan voortvarendheid grens. Hy vestig hom in 1850 op die plaas De Nek in die distrik Aliwal-Noord van waar hy aan die Agtste Grensoorlog (1850 tot 1853) deelneem en  vanweë sy uitmuntende leierseienskappe tot kommandant bevorder word. Sy simpatie het by die jong Vrystaatse Republiek gelê, en toe die Kaapse militêre owerheid gelykstelling tussen pandoer en kolonis instel, verhuis hy na die Vrystaat waar hy twee plase in die distrik Bethulie koop naamlik Constantia en Moordenaarspoort. Hy word as waarnemende kommandant aangestel, en in die Tweede Basoeto-oorlog van 1865 toon hy sy militêre vernuf toe hy met ‘n nuwe krygsplan na vore kom deur die bergvestings van die Basoeto’s met die voorlaaierkanon te bestook terwyl die burgers die steil berghange onder dekking van die kanonvuur uitklim. So slaag hy en sy manskappe daarin om die een versting na die ander te oorrompel, tot hulle in Augustus 1865 weer by die hoofmag by Thaba Bosigo kon aansluit. Nadat die eerste aanval op hierdie bykans onneembare bergvesting van Mosjesj op 8 Augustus 1865 misluk het, word die volgende aanval op 15 Augustus 1865 van stapel laat loop. Kmdt-genl Fick verleen aan Wepener toestemming om met 500 vrywilligers gesteun deur ‘n paar kanonne, die bergpoort van agter die Franse sendingstasie te bestorm. Die Basoeto-krygers probeer die aanval stuit deur groot rotsblokke teen die helling af te rol. Na ‘n anderhalfuur se gesukkel teen die feitlik loodregte kranse uit, bereik Wepener en ‘n handjievol staatmakers die bergpoort, wat met klipskanse versper is. In die laat middaguur besluit die onverskrokke Wepener om met slegs die handjievol burgers en met net pistole gewapen, die vyand aan te durf. By die eerste twee skanse slaag hulle daarin om die Basoeto-krygers terug te dwing, maar by die derde word Wepener dodelik gewond. Mosjesj was so beïndruk deur Wepener se dapperheid dat hy geëis het dat sy hart uitgesny en gebraai moet word sodat elke jong kaptein daarvan ‘n stukkie kan eet. Sy stoflike oorskot is aanvanklik op die kruin van Thaba Bosigo begrawe, maar is later deur sy seun weggehaal en op Constantia begrawe. Wepener se heldedaad het as inspirasie gedien vir die vroeë Afrikaanse gedig Ter nagedachtenis aan kmdt Louw Wepener deur FW Reitz.

Die Louw Wepener-dekorasie vir dapperheid is destyds deur die Suid-Afrikaanse Weermag uitgereik aan lede van die Weermag wat buitengwone dapperheid geopenbaar het.

1943 – Geertruida Anna Kestell, eggenote van ds. JD Kestell (* 21 Julie 1858)

Geertruide Anna Kestell was die oudste dogter van die bekende prof. NJ Hofmeyr van die Kweekskool op Stellenbosch. Terwyl ds. JD Kestell predikant was op Kimberley, is hulle op 28 Februarie 1882 getroud. Dwarsdeur sy kleurryke en veeleisende loopbaan, het sy hom getrou bygestaan en versorg tot sy dood in 1941. Uit hulle huwelik is twee seuns en twee dogters gebore, onder andere die bekende Trudie Kestell, wat ‘n gesaghebbende op die gebied van kleredrag van die voorgeslagte van die Afrikaner was. Mev. Kestell is op 15 Augustus 1943 oorlede.

1947 – Edwin Cheere Andersen, leraar van die NG Kerk en veldprediker tydens die Tweede Vryheidsoorlog (* 22 Maart 1868)

1967 – Gustav Bernhard Augustus Gerdener, teoloog, hoogleraar en geskiedskrywer (* 31 Maart 1881)

Gustaf Bernhard Augustus Gerdener was die seun van ’n Rynse sendeling wat na Suid-Afrika gekom het. Hy studeer op Stellenbosch en gaan daarna na die Universiteit van Tübingen, waar hy in die teologie promoveer. Na sy terugkoms in Suid-Afrika het hy as ’n veelsydige geleerde uitgeblink. Van 1913 tot 1917 het hy sendingwerk onder die Moslems in die Kaap gedoen. Van 1917 tot 1920 was hy predikant op Stellenbosch. Van 1933 tot 1937 was hy dosent aan die Sendinginstituut op Wellington, en van 1937 tot 1955 met sy aftrede, was hy professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Hy het hoofsaaklik in twee rigtinge belangrike wetenskaplike werk gedoen. Eerstens het hy pionierswerk gedoen in die vaderlandse kerkgeskiedenis. Dit het in 1925 begin met ’n biografie oor die Voortrekker Sarel Cilliers. Dit is in 1934 opgevolg met ’n geskiedenis van die NG Kerke in die Transgariep (d.w.s. noord van die Oranjerivier). In 1950 het hy ’n omvangryke werk oor boustowwe vir die kerkgeskiedenis gepubliseer, wat ’n beeld gee van sy indringende arbei in argiewe. Tweedens, het hy gewerk aan die sendinggeskiedenis. Dit het uitgeloop op ’n werk Recent Developments in the South African Mission Field (1958), waarin hy hom aansluit by die sendinggeskiedenis van prof. J du Plessis en dit uitbou tot ongeveer 1957. Vir sy reusebydrae op hierdie gebiede het hy die Stalsprys vir Teologie van die SA Akademie ontvang en ook die DF Malan-medalje. Hy het sy kerk by verskeie geleenthede in die buiteland verteenwoordig. Hy was ook ’n stigterslid van SABRA en baie jare in die hoofbestuur. Hy is op 15 Augustus 1967 op Stellenbosch oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/