14 APRIL
November 1, 2016
16 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1854 – Nederlands as hooftaal in die Oranje-Vrystaat geproklameer

1881 – Paul Kruger spreek die volk toe op Heidelberg (Tvl.) en keur die Britse vredesvoorwaardes af

1953 Algemene Verkiesing
 Toe dr. Malan in 1948 premier geword het en daardeur aan die Afrikaner politieke mag in sy eie land besorg het, het baie mense geglo dat dit ’n toevallige, frats gebeurtenis is. Om te verseker dat hierdie Afrikanergesag spoedig afgetakel word, is ’n haatveldtog in die buiteland deur magte vanuit Suid-Afrika daarteen ontketen. Die verkiesings van Maart 1949 vir die provinsiale rade het egter getoon dat die Volksraadsukses nie ’n politieke glips was nie. Op 1 Augustus 1951 het NC Havenga met sy Afrikanerparty buitendien ten volle in die HNP van dr. Malan opgegaan, sodat die Afrikaner se politieke eenheid verder bevorder is. Die verkiesing van 1953 is nogtans met bitterheid teen die Afrikaner as Afrikaner van stapel laat loop. Die ses Suidwes-lede vir die Volksraad wat op 30 Augustus 1950 verkies is, was immers ondersteuners van dr. Malan. Die gevolg was die skepping van die sogenaamde United Front, wat die Torch Commando en die Springbok Legion ingesluit het om die Afrikaner polities, kultureel en andersins aan te tas. Die opposisie onder JGN Strauss wou veral deur middel van die regsplegende gesag die mag van dr. Malan polities beperk, maar dr. Malan het in die gees van Paul Kruger gehandel. Hy het naamlik bevestig dat die wettig verkose verteenwoordigers van die volk se wetgewende demokratiese gesag die hoogste orde vorm en nie deur ander aangestelde liggame soos appèlhowe aan bande gelê mag word nie. Soos SJP Kruger baie jare vroeër gesê het: in die stem van die volk hoor ek die stem van God. Dr. Malan se Nasionale Party het ook 94 uit 156 setels teenoor die opposisie se 62 verower.

 

Geboortes

1834 – Thomas Francois Burgers, NG Kerk-predikant en Transvaalse president van 1872 tot 1877 († 9 Desember 1881)

Thomas Francois Burgers is op Langfontein, Graaff-Reinet, gebore. Na sy skoolloopbaan op Graaff-Reinet, universiteitstudie in Nederland (1853 tot 1858) en predikantskap op Hanover (waartydens hy in ’n kerkstryd en hofsake betrokke geraak het), is hy in 1872 verkies tot Staatspresident van die ZAR. Deur die invoer van Hollandse amptenare, knap hy die agterlike landsadministrasie op, verbeter hy die staatsfinansies, beywer hy hom om die berugte Keate-uitspraak ongedaan te kry, die onderwys op ’n gesonde grondslag te plaas, die mineralerykdom te ontwikkel en ’n spoorweg na Delagoabaai te bou. Sy belangstelling in die verbetering van die kulturele lewe van die ZAR deur die totstandbringing van biblioteke, literêre en natuurwetenskaplike verenigings, museums, dorpsparke, botanies tuine en die verkryging van ’n volkslied en koerant was prysenswaardig. Met die hysing van die Britse vlag in Pretoria op 12 April 1877, bewerkstellig deur verraad en interne twiste, gaan die ZAR tydelik ook in Britse beheer en kom die Burgers-bewind tot ’n einde. Hy keer terug na die Karoo, waar hy op 9 Desember 1881 in Richmond sterf.

1852 – Prof. Willem Sybrand Logeman, belangrike rolspeler in die stigting van die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad († 6 Februarie 1933)

Willem Sybrand Logeman, besonder knap Nederlandse filoloog, kom in 1892 na Suid-Afrika waar hy aan die Victoriakollege, Stellenbosch, professor word in Nederlands, Frans, Duits en Geskiedenis. Twee jaar later word hy ook aangestel as professor in moderne tale aan die South African College, Kaapstad. Hy speel ’n uiters belangrike rol in die vestiging en totstandkoming van die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad en verdedig die gebruik van Afrikaans in sy geskrifte. Hy is op 15 April 1852 in Haarlem, Nederland, gebore.

1889 –  Jozua Francois (Tom) Naudé, Suid-Afrikaanse politikus en waarnemende Staatspresident van Suid-Afrika (1967–1968) († († 31 Mei 1969)

Jozua Francois Naudé is op Middelburg, Kaap, gebore. Hy vestig hom in 1910 as prokureur op Pietersburg. Hy protesteer teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog en bring drie maande in die Booysens-interneringskamp deur. Hy was lid van Pietersburg se stadsraad (1915–1920), LV vir Pietersburg (1920–1961), lid van parlementêre komitees, sweep van die NP, hoofsweep van die VP (van 1933–1939) hoofsweep van die NP na 1939, en Speaker van die Volksraad vanaf 1948. Vanaf 1950 tot 1961 was hy Minister onder dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd, nl. van Pos- en Telegraafwese (1950–1954), Gesondheid (1954–1956), Finansies (1956–1968), en Binnelandse Sake (1958–1961). Hy was die eerste President van die Senaat van die Republiek in 1961, en Waarnemende Staatspresident (1967–1968). Hy is op 31 Mei 1969 in Kaapstad oorlede en is op Pietersburg begrawe. Hy was drie keer getroud en het vyf kinders gehad. Tom Naudé was ’n groot kenner van parlementêre prosedure, ’n doelgerigte Afrikaner, wat sy werk met toewyding gedoen het, en ’n waardige man met ’n wonderlike sin vir humor.

1931 – Noreen Berry, Suid-Afrikaansgebore mezzosopraan († 7 Augustus 2012)

1945 – Dirk Coetzee, medestigter en bevelvoerder van die polisie-eenheid op Vlakteplaas († 7 Maart 2013)

1957 – Koos Prinsloo, joernalis en skrywer († 6 Maart 1994)

Koos Prinsloo was ’n joernalis en skrywer van postmodernistiese kortverhale, waarmee hy ’n baanbrekersrol in die Afrikaanse prosa speel.

 

Sterftes

1949 – Prof. Adriaan Francken, professor in Nederlands en Frans aan die Grey-universiteitskollege (nou die Universiteit van die  Vrystaat) (*20 Februarie 1860)

Prof. Adriaan Francken is in Wyde-wormer, Noord-Holland, gebore, waar sy vader opsigter van ’n dyk was. Hy is op 15 April 1949 in Bloemfontein oorlede. In die jare 1876–1880 het hy aan die Rijkskweekschool in Haarlem sy opleiding as onderwyser ontvang. Vanaf 1880 was hy as onderwyser werksaam in Nederland. Gedurende 1882–1887 gee hy onderwys in Engeland, en toe weer terug na Nederland. In 1891 is hy as onderwyser aangestel aan die Grey-Kollege, waar dr. J Brill toe rektor was. Op 21 April 1891 het hy in Bloemfontein aangekom. In die Engelse Oorlog was hy ’n tyd lank op kommando. Met die totstandkoming van die Grey-Universiteitskollege is hy benoem tot hoogleraar in Nederlands en Frans. In 1927 het hy afgetree en is toe aangestel as bibliotekaris, ’n pos wat hy beklee het tot sy finale aftrede in 1939. Hy was een van die Afrikaanse kultuurstryders, en ’n stigterslid van die vereniging Ons Taal. Sy blyspel Susanne Reyniers (1908) was jare lank een van die weinige toneelstukke wat deur honderde gemeenskappe op die planke gebring is. Daarbenewens het hy ’n Afrikaanse grammatikaboek geskrywe. Prof. Francken was ’n kenner van die skilderkuns en die argitektuur. Hy was ’n begaafde klavier- en vioolspeler, en naas Frans, Italiaans en Duits, ook ’n kenner van die klassieke tale. Hollander van geboorte, het hy sy volle krag by die Boerevolk ingewerp.

1998 – Prof. Felix Vincent Lategan, literator en vuurwapenkenner (* 12 September 1907)

Felix Vincent Lategan het as plaasseun in die Stormbergse wêreld grootgeword. Nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het op die Vrystaatse platteland, het hy die graad MA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat onder prof. DF Malherbe behaal. In 1937 het hy senior dosent in Afrikaans aan die Pretoriase Tegniese Kollege geword, en in 1945 is hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Nadat hy die graad DLitt behaal het, het hy in 1960 die eerste professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteitskollege van Wes-Kaapland geword. Prof. Lategan is skrywer van verskeie boeke en artikels op die gebied van die letterkunde, en ook van ’n gesaghebbende werk oor historiese vuurwapens.

2007 – Hanna Botha, veteraan-aktrise (* 17 Januarie 1923)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/