13 SEPTEMBER
September 13, 2015
15 SEPTEMBER
September 15, 2015

Gebeure

1795 – Kaap deur Engeland ingeneem

Na hulle maklike oorwinning by Muizenberg op 7 Augustus 1795, hoofsaaklik vanweë die lafhartige optrede van lt-kol. CMW de Lille en ’n aantal van sy gereelde soldate, het genl. JH Craig op 14 September 1795 die Kaap weer aangeval en dit sonder slag of stoot verower. Op 15 September is ’n wapenstilstand met die oog op onderhandelings toegestaan, en op 16 September 1795 is ’n ooreenkoms gesluit, wat onder meer die terugsending van die Nederlandse soldate, die behoud van die Vryburgers se regte, ensovoorts, bepaal het. Roemloos was die wyse waarop die Kaapse volksplanting in die hande van Brittanje oorgegaan het. Brittanje het die strategiese en kulturele imperialistiese waarde van die Kaap as permanente Britse gebied ingesien. Daarom is die hele samelewing deeglik van Britse militêre mag, Britse seevaart en handel en Britse kultuur bewus gemaak. Dink maar aan die teaterlewe en lady Anne Barnard se deftige sosiale byeenkomste, die skending van die kapitulasievoorwaardes, die erns waarmee blanke burgerlike opstandigheid met geweld onderdruk is, die vestiging van perdewedrenklubs en van ’n Britstalige eerste Kaapse koerant. Daarby is knaend gedagtes uitgespreek of proeflopies op talle terreine gedoen wat op Britse beheer van die Kaap in die toekoms gedui het. Die Britse sendingywer het dadelik ’n politieke inslag verraai, en die Hollandse Kerk het bepaald sy leiersplek in die samelewing aangetas gesien. Basies was die Britse bewind ook meer oor die “lot” van die inboorlinge begaan as oor die ontwikkeling van die totale samelewing, en hiermee is ’n inmengingsgeleentheid deur die Britte geskep wat tot vandag toe nie geëindig het nie. Kortom, toe die geringste onrus in 1805 weer in Europa die kop uitgesteek het, het Brittanje in Januarie 1806 die Kaap militêr verower, andersins onmiddellik opgetree en verandering ingevoer wat sy permanente beheervoorneme bewys het. Met die Kongres van Wenen is die Kaap in 1815 amptelik aan Brittanje toegesê, en in 1820 het 4 000 Britse setlaars as Londense beleid van totale verowering van die Kaap hier geland.

1862 – Bloedstraat, Pretoria, kry sy naam

Op hierdie dag, ’n Sondagoggend, is Jacobus du Toit, seun van die bekende landdros AF du Toit van Pretoria en die kêrel van Stephina Maria Aletta Schoeman, dogter van kmdt-genl. SJ Schoeman, gewond. Die voorval het aan Bloedstraat in Pretoria sy naam besorg waar dit plaasgevind het. Die jong Du Toit is deur sy moeder met ’n boodskap na mev. Stephanus Schoeman gestuur, maar op pad daarheen is hy deur burgers onder Jacob Malan voorgekeer. Dit was in die dae van ernstige broedertwis in Transvaal en daar is menigmaal sonder oorleg opgetree. Du Toit het die bevel om stil te hou blykbaar nie gehoor nie. Daarom is daar op hom en sy perd geskiet. Hyself is in die skouer gewond en was later as gevolg daarvan gedeeltelik verlam. Hy kon gevolglik nie meer sy werk as messelaar en dakdekker behoorlik verrig nie. Die perd is in die voorval doodgeskiet. Die gebeurtenis het die jong Pretoria geskok – veral omdat die voorval tussen die eerste en tweede gelui van die klokke met kerktyd plaasgevind het – toe was ’n Sondag nog deur die Boerevolk geag en as dag van die Here gebruik om eredienste by te woon.

1989 – FW de Klerk word staatspresident

 

Geboortes

1889 – Leon Maré, skrywer en Hertzogpryswenner vir prosa († 1 Mei 1983)

Hy is op Pietersburg gebore. Na ’n gebrekkige skoolopleiding het hy staatsamptenaar geword. Die Tweede Vryheidsoorlog het ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak en met ’n gees van vaderlandsliefde besiel. Maré het sy beste werk in sy eerste twee bundels gelewer. Hulle was die realistiese Die nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en die deernisvolle Die Putgrawer (1919). Hy het die Hertzogprys vir sy werk Ou Malkop (1919) in dieselfde jaar verower. Leon Maré was ook ’n gebore skilder, met ’n skerp oog vir die uiterlike werklikheid, waarvan hy fyn trekkies opmerk en impressionisties weergee.

 

Sterftes

Geen

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/