13 MEI
January 10, 2017
15 MEI
January 10, 2017

Gebeure

1820 – Gerrit Maritz trou met Angenitha Maria Olivier

1851 – Hopefield aangelê

Gedurende 1851 ontvang die ring van Tulbagh ’n versoek dat die inwoners van Saldanhabaai ’n eie gemeente aan die “Zoutrivier” wou stig. Hierdie versoek was goedgekeur. Die gemeente staan aanvanklik bekend as Zoutrivier, dog ongeveer ’n jaar later is die naam verander na Hopefield. Hopefield is op die plaas Langekuil aangelê.

1873 – Lydenburg se delwerye is geproklameer

Sedert 1836 is gereeld na minerale, veral goud en diamante, in Transvaal gesoek. Karl Mauch se goudontdekkings van 1865 tot 1873 het hierdie koors aangeblaas. Die ondersoeke op die Tati-goudveld het verdere stimulus meegebring. Mense soos PJ Marais en Edward Button het die gemoedere gaande gehou. In 1871 het die Transvaalse Volksraad sy eerste mynwet aangaande die ontginning van edele minerale en metale goedgekeur. Dit het meer belangstellendes gelok. Thomas McLachlan, James Sutherland en Button het in Januarie 1871 ’n beloning van die owerheid geëis vir die feit dat hulle in Lydenburg se omgewing by die Selatirivier in die Murchison-bergreeks goud ontdek het. Die versoek is aangeteken, en Button veral het bly prospekteer. Veral by Eersteling naby Marabastad in die Lydenburgse distrik het hy onmiskenbaar goud gevind. Talle mense het hierna links en regs in die Lydenburgse omgewing begin soek, en klein maatskappye is gevorm. By Geelhoutboom en Graskop is eweneens goud gevind. Die Transvaalse owerheid het gevolglik op 14 Mei 1873 die wyk Ohrigstadrivier, distrik Lydenburg, tot ’n openbare goudveld geproklameer. Baie gou sou fortuinsoekers hierheen stroom en kultureel-politieke probleme inlui.

 

Geboortes

1699 – Ryk Tulbagh, 18de goewerneur van die Kaap de Goede Hoop van 1751 tot 1771 († 11 Augustus 1771)

1900 – Johannes du Plessis Scholtz, skrywer, taalhistorikus en kunsversamelaar († 26 Januarie 1990)

Johannes du Plessis Scholtz, bekende taalkundige is in die distrik Hottentots-Holland gebore. Hy studeer in Stellenbosch, Amsterdam en Utrecht, waar hy in 1939 promoveer. Onder Afrikaanse taalkundiges sal hy altyd ’n besondere plek beklee deur sy hoogstaande publikasies, wat almal berus op indringende en uitvoerige bestudering van bronne van ouer Afrikaans. Hy beskrywe veral die verandering in die 18de en 19de eeu in woordeskat, klank en morfologie waardeur Nederlands tot Afrikaans verander het. Sy werke is van onskatbare waarde by ’n studie van die ontwikkeling van die Afrikaanse taal. Hy het ’n leidende rol gespeel in die Van Riebeeck-vereniging en die monumentesorg. Hy stel baie belang in die beeldende kunste, soos gesien kan word in sy versameling moderne skilderye. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1974 die Stalsprys vir kunsgeskiedenis aan hom toegeken. Werke uit sy pen is onder meer: Die Afrikaner en sy Taal (1939), Nederlandse invloed op die Afrikaanse woordeskat (1939), Taalhistoriese Opstelle (1963), Afrikaans uit die vroeë tyd (1965), D.C. Boonzaaier en Pieter Wenning (1973). Die Afrikaner en sy Taal word nog beskou as die voortreflikste werk oor die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner van 1652 tot 1875 ten opsigte van sy ontwikkeling op taal-, identiteits- en kultuurgebied. Die verengelsingsbeleid en imperialisme van Brittanje word fel belig in die werk. 

1928 – Madeleine van Biljon, skryfster en joernalis († 23 Februarie 2010)

 

Sterftes

1940 – Dr. Willem Johannes (WJ) Leyds, prokureur en staatsman (* 1 Mei 1859)

Willem Johannes Leyds is in Java gebore. Hy was ’n besonder skrander Nederlander, vir wie ’n blink regsloopbaan voorspel is. Op een van Paul Kruger se besoeke aan Nederland het hy Leyds versoek om die pas geskepte pos van staatsprokureur in die Zuid-Afrikaansche Republiek te aanvaar. Aanvanklik teensinnig, aanvaar hy die betrekking vir drie jaar. Hy word pres. Kruger se regterhand en vertroueling en beklee in sy heelwat langer verblyf in die land onder meer die volgende ampte: staatsprokureur, staatsekretaris en buitengewone gesant van die ZAR in Europa. Hy het hom veral beywer vir die onafhanklikheid van die Republiek, maar het ook ander blywende monumente in Transvaal nagelaat. Hy was onder meer verantwoordelik vir die mynwette van die Republiek en die ontwikkeling van die spoorwegstelsel, en hy het saam met ander Transvaalse hooggeplaastes pres. Kruger oorreed om ’n deel van Oos-Transvaal tot wildreservaat te verklaar. Dit vorm deel van die Krugerwildtuin. Leydsdorp is na hom genoem. Na die oorlog het hy teruggekeer na Nederland, hom aan die openbare lewe onttrek en hom daaraan gewy om die gebeurtenisse voor die oorlog en sy ondervindinge as gesant van die Republiek te boek te stel. Genl. JC Smuts het van hom gesê: “ … die grootste figuur in die Transvaalse geskiedenis na Kruger.”

1965 – AJ (Kootjie) van den Heever, ’n Suid-Afrikaanse skrywer en die jonger broer van CM van den Heever (* 16 November 1906)

Abraham Jacobus van den Heever, jonger broer van CM van den Heever, is op 16 November 1906 op Poortjie, Trompsburg, gebore. Hy matrikuleer op Reddersburg, en nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het, studeer hy aan die GUK, waarna hy as joernalis by Die Volksblad en Die Suiderstem werk. Hy is ’n tyd lank lektor by die Witwatersrandse Universiteit en voordat ’n sonderlinge siekte hom plattrek, redakteur van die Boerdery-Jaarblad. In 1936 verskyn Vlugtige skaduwees, sy eerste bundel verhale. Sy verdienstelikste werke is die Kleurlingverhaal Wraak en Danie se droom (1940). Laasgenoemde vergestalt die emosionele lewe van ’n plaasseun. Skagte (1942) gee ’n beeld van die mynwerkerslewe in Johannesburg. Hy het baie geskryf; enkele van sy ander werke is: Merke van die dae (1940), Vreemde vertes (1941), Gebroke lig (1942), Wie ’n ander jaag (1942), Brakgrond (1943), Geslote lewens (1945) en Die waters wat roep (1948).

2010 – Frederik van Zyl Slabbert, politikus, akademikus en besigheidsman (* 2 Maart 1940)

Frederik van Zyl Slabbert was ’n politieke ontleder, sakeman, skrywer, akademikus en voormalige leier van die amptelike opposisie, die Progressiewe Federale Party, in die Volksraad van 1979 tot 1986.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/