13 JULIE
July 13, 2015
15 JULIE
July 13, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Pres. Steyn van die OVS verlaat sy vrou en vier kinders in Fouriesburg, om eers ná die oorlog herenig te word.

1916 – Eerste Wêreldoorlog: Die Slag van Delvillebos begin en 121 offisiere en 2,032 manskappe van die SA Brigade sneuwel.

 

Geboortes

1891 – Stephanus Petrus Erasmus (SPE) Boshoff, taalkundige en skrywer († 30 April 1973)

SPE Boshoff was ’n bekroonde akademikus, skrywer en taalpatriot. Hy het deur sy lang openbare loopbaan diep spore in die Afrikaanse volkslewe op kulturele, opvoedkundige en taalkundige gebied getrap.

1893 – Adv. Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom, politikus en staatsman, Eerste Minister van Suid-Afrika († 24 Augustus 1958)

Hans Strijdom was Suid-Afrika se vyfde eerste minister en die derde premier wat behoort het tot die Nasionale Party ná genl. JBM Hertzog en dr. DF Malan. Hy was, ná genl. Louis Botha, premier van 1910 tot 1919, die tweede eerste minister wat in die amp oorlede is. Die derde en enigste ander was dr. Hendrik Verwoerd, Strijdom se opvolger.

1934 – Pieter Georg du Plessis, skrywer, dramaturg en akademikus († 7 Junie 2017)

PG du Plessis was ’n skrywer, dramaturg en akademikus. Hy lewer ’n groot verskeidenheid skryfwerk, met ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse drama. Sy rubrieke wat gedurende sy loopbaan as joernalis gepubliseer is, het later uitgeloop op die TV-reeks Koöperasiestories. Sy roman Fees van die Ongenooides (2008) is wyd vereer as een van die beste Afrikaanse letterkundige werke tot op hede.

 

Sterftes

1888 – Johannes Henricus (Jan) Brand, vierde President van die Oranje-Vrystaat (* 6 Desember 1823)

Johannes Hendricus Brand is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy was advokaat, politikus en Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, waartoe hy op 2 Februarie 1864 ingehuldig en vier keer herkies is. Hy is die vader van die slagspreuk: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” As diplomaat het hy  volhardend die goeie saak van die Vrystaat probeer bevorder, die ekonomie probeer versterk, sy burgers te velde in die Basoeto-oorloë bygestaan en bemoedig, die diamantkwessie versigtig en korrek gehanteer, konsuls in Europa en die VSA aangestel en voordelige traktate van handel en vriendskap met verskeie Europese state gesluit. Op sy standbeeld in Bloemfontein staan die woorde: “Vader des Volks”, wat die betekenis van sy lang presidentskap opsom. Hy was ’n fynbeskaafde leier, bedeeld met groot wysheid, ’n geliefde gesinsman, gasvry en van Christelike wandel. Hy is in die amp van die Staatspresident op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Brand het ’n geslag waardige Afrikaners verteenwoordig wat deur die jare heen die beste vir hulle eie mense vanuit ’n eie sterk posisie gelewer het.

1904 – Stephanus Johannes Paulus (Paul) Kruger, President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (* 10 Oktober 1825)

Stephanus Johannes Paulus Kruger is waarskynlik op die Plaas Bulhoek, in die teenswoordige distrik Steynsburg, gebore. Hy het behoort aan die sesde geslag Kruger’s in Suid-Afrika en was die derde van sewe kinders van Casper Jan Hendrik Kruger en Elsie Francina Steyn. Hy het grootgeword in die veeleisende pioniersomstandighede van die Kaapse binneland, waar die stryd om selfbehoud gegaan het teen ondier, barbaar en die wisselvallighede van die natuurelemente. Hy is opgevoed in die tradisionele Calvinistiese godsdiens van die Afrikaner met ’n sterk Ou Testamentiese inslag, en hierdie godsdienssin met die Bybel as rigsnoer het van die kenmerkendste persoonlikheidstrekke in sy later lewe geword.

In 1836 het sy ouers die Potgietertrek na die noorde gevolg, en Kruger het die wel en wee van die Trekkers bestaan as jong seun meegemaak. Reeds op jeugdige leeftyd was sy onverskrokkenheid, fisieke krag en uithouvermoë besonder opvallend, en spoedig het hy hom as ’n gebore leier onderskei. Op 17-jarige leeftyd was hy reeds veldkornet, en hy het aan verskeie ekspedisies teen opstandige Bantoestamme deelgeneem. Voor sy dertigste jaar was sy heldhaftigheid as krygsman reeds bekend, soos die keer toe hy die liggaam van kmdt.-genl. Piet Potgieter op 6 November 1854 by Makapansgrot gaan weghaal het.
Kruger was teenwoordig by die onderhandelinge wat gelei het tot die Sandrivier-konvensie in 1852, en die handhawing van die onafhanklikheid van die Transvaalse Republiek het daarna een van die grootste dryfvere in sy lewe geword. Hy was sterk bewus van die ondermynende krag van verdeeldheid onder sy eie mense en het deurgaans ’n versoenende rol gespeel tussen die botsende groepe, soos in Maart 1852 tussen Pretorius en Potgieter by Rustenburg en die burgerstryd van die jare sestig. Ofskoon iemand wat die orde in alle omstandighede probeer handhaaf het, sou hy nooit in stryd met sy eie beginsels en innerlike oortuiging kon optree nie. Gevolglik kon hy pres. Thomas Francois Burgers nie ten volle ondersteun nie en het die Volksraad hom op sy eie versoek in Mei 1873 van sy amp as kommandant-generaal onthef.
Kruger het die worstelstryd teen Britse heerskappy daadwerklik na die anneksasie van Transvaal in April 1877 met onwrikbaarheid aangeknoop en dit tot die einde gevoer. In hierdie tyd – eers deur deputasies en daarna in ’n wapen stryd en die onderhandelinge wat die staking van vyandelikhede by Laingsnek in Maart 1881 gevolg het – het hy sterk as leier na vore getree.  Die geslaagde beëindiging van die Transvaalse Vryheidsoorlog en die verkreë onafhanklikheid van Transvaal was in ’n groot mate aan sy inspanning te danke.

Op 9 Mei 1883 is hy vir die eerste keer as Staatspresident beëdig, ’n amp wat hy tot met die ondergang van die ZAR beklee het. Na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die aanslae op die onafhanklikheid van die Republiek in felheid toegeneem, totdat dit met die stemregistrasie van die uitlanders tot ’n hoogtepunt gevoer is. Hierdie inmenging in die interne sake van die Republiek het Kruger met alles in sy vermoë teengestaan. Ondertussen het hy getrag om die Republiek ekonomies selfstandig te maak. Vandaar sy strewe na ’n direkte spoorwegverbinding met Delagoabaai, ’n Republikeinse muntstelsel en ’n nasionale bank.
In 1897 is ’n politieke verdrag met die Oranje-Vrystaat aangegaan, en die jaar daarop is dr. Leyds as gevolmagtigde gesant na Europa gestuur om die status van Transvaal te verhoog en bande met die buiteland te versterk.
’n Militêre botsing met Brittanje was onvermydelik, en op 11 Oktober 1899 het die Engelse Oorlog uitgebreek, wat tot die vernietiging van die Boere-republieke gelei het. Toe dit duidelik word dat die oorlog sy einde nader en die Boererepublieke hulle onafhanklikheid sou verloor, is daar besluit om die ou President na die buiteland te stuur, enersyds om te voorkom dat hy in die hande van die vyand val en andersyds om aan hom geleentheid te gee om hulp vir die twee Republieke te soek. Op ’n skip, die Gelderland, wat deur koningin Wilhelmina van Nederland aan hom beskikbaar gestel is, vertrek hy op ’n reis waarvan hy nooit lewend sou terugkeer nie. Hy sterf in selfopgelegde ballingskap op 15 Julie 1904 in Clarens, Switserland. Sy stoflike oorskot is gebalsem en per trein na Den Haag vervoer, waar daar op treffende wyse aan die nagedagtenis van die geliefde staatsman hulde gebring is. Van daar is die lyk per skip, die Batavier II, na Kaapstad vervoer en toe per trein na Pretoria. Duisende mense het langs die roete opgedaag om aan die ontslapene eer te bewys.
Op 16 Desember 1904 is hy langs sy vrou, wat hom drie jaar tevore ontval het, te ruste gelê. Kruger het die simbool van ’n vrye Afrikanerdom en die verpersoonliking van die republikeinse ideaal geword. Meer as enige ander Boereleier, was hy die inspirasie vir Afrikaner-nasionalisme, wat veral in die eerste dekade na sy dood sterk herleef het. Hierdie belangrike verdienste van Kruger het daartoe aanleiding gegee dat ’n openbare vakansiedag op sy geboortedatum ingestel is, waarop helde wat dieselfde beginsels as hy nagestreef het, of steeds nastreef, gehuldig word.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/