Di Afrikaanse Folksliid
August 14, 2015
15 AUGUSTUS
August 15, 2015

Gebeure

1875 – Genootskap vir Regte Afrikaners gestig

Op hierdie dag is ’n vergadering in die Paarl gehou wat ’n wending in die geskiedenis van die Afrikaanse volk sou bring. Daar is besluit om die volk bewus te maak van homself en sy taal en om Afrikaans tot sy regmatige plek te verhef. Indien Afrikaans algemeen in gebruik is, sou die Bybelvertaling waarna Arnoldus Pannevis gestrewe het, vergemaklik word. Dit is dan ook na aanleiding van Arnoldus Pannevis se korrespondensie met die BBBG oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans dat die vergadering plaasgevind het. By die vergadering is oorgegaan tot die stigting van die GRA en die stigterslede was: CP Hoogenhout, DF du Toit (Oom Lokomotief), SJ du Toit, A Ahrbeck, SG du Toit, G Malherbe, DF du Toit (Dokter) en PJ Malherbe.

Op die tweede vergadering is die Genootskap gedoop en is sy doelstellings, waarvan die vernaamste was “om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land”, geformuleer. Hieruit is duidelik dat die Genootskappers nie ’n beperkte taalbeweging nagestrewe het nie, maar ’n nasionale beweging: hulle wou die volk ophef op elke gebied. Hulle sou hulle veral rig tot die plattelander, en onder die besielende leiding van SJ du Toit sou dit uitloop op ’n magtige volksbeweging. Die bekende Afrikaanse Volkslied, ’n skepping van Pannevis, Hoogenhout, DF en SJ du Toit, was die GRA se eerste publikasie en verwoord die Genootskappers se ideale en strewe. Die naam “Regte Afrikaners” is verkry uit die Genootskap se manifes, waarin onderskei word tussen Afrikaners met Engelse, Hollandse en Afrikaanse harte, waarvan lg. die “Regte Afrikaners”.
Hier gaan dit weer nie net om die taal nie, maar die gesindheid, die nasionale ingesteldheid. Op 15 Januarie 1876 verskyn die koerant wat as spreekbuis vir die strewe van die GRA sou dien en in die taalbeweging ongekende lewe sou blaas, paslik genoem Die Afrikaanse Patriot. Hierdie eerste Afrikaanse koerant was die verwoording van ’n Afrikaanse gedagte in eenvoudige Afrikaanse taal. Hoewel die Genootskappers en hulle blad baie spot en teenkanting moes verduur, was hulle ’n vlam wat taalliefde en nasionalisme in baie harte aangesteek het. Veral op politieke gebied het Die Patriot die Afrikanersaak gepropageer, maar na die veranderde politieke beleid van SJ du Toit het die blad gekwyn en is dit in 1904 gestaak. Sy taak is grootliks oorgeneem deur Ons Klyntji, die eerste Afrikaanse tydskrif, wat vanaf Maart 1896 verskyn het om veral die Afrikaanse letterkunde te bevorder. Die GRA se ander publikasies sluit onder meer in Afrikaanse grammatika- en geskiedenisboeke, ’n Afrikaanse almanak, ’n spel- en leesboek, ’n woordeboek, versamelde Afrikaanse gedigte en prosawerke. Hiermee het die Genootskap die volk van leesstof in hulle eie taal voorsien. Ter ere van die twintigste verjaardag van die GRA, is die eerste Afrikaanse taalkongres in 1896 in die Paarl gehou.
Die GRA het nederig begin, maar geëindig in ’n magtige sirkelbeweging wat al die vlakke van volkwees ingesluit het. Die Genootskappers het met onvermoeide ywer ons volk bewus gemaak van sy volkwees en sy nasionale besit, en daarom kan hulle met reg die vaders van die Afrikaanse volk genoem word.

1884 – Pres. Paul Kruger se nou bekende Krugerhuis in Pretoria, met ’n noenmaal ingewy

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Carolina

1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Spitzkop (Rietfontein), OVS

1948 – Die Afrikaanse Studentebond (ASB) gestig

As voorganger van die ASB, is die “Studenten Werda Komitee” op 7 April 1911 te Stellenbosch gestig. Verdere ontwikkelings lei tot die stigting van die eerste Afrikaanse Studentebond in Maart 1916 tydens ’n konferensie aan die Normaalkollege te Pretoria. Weens ’n verskeidenheid van faktore het daar ’n reeks opeenvolgende studenteorganisasies ontstaan, maar geeneen het ’n permanente karakter of funksie gehad nie. Die huidige Afrikaanse Studentebond was dus ’n poging van die studenteraad van die Universiteit van Pretoria om weer ’n verteenwoordigende Afrikaanse Studenteorganisasie op die been te bring. Op 26 Junie 1948 word ’n konferensie van die studenterade van Pretoria, Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch in Pretoria gehou. Die konsepgrondwet van die huidige ASB is in Augustus 1948 in Bloemfontein aanvaar. Die studenterade van die UP, PUK vir CHO, UOVS en Stellenbosch het besluit om te affilieer, terwyl die Afrikaanse studente van UK en Wits individueel geaffilieer het. Daar is onder meer besluit dat die verskillende Onderwyserskolleges op dieselfde basis kan affilieer. In 1979 was daar dertien studenterade of studenteverenigings by die ASB geaffilieer. 

1975 – Amptelike opening van die Afrikaanse Taalmuseum

1989 – PW Botha kondig sy bedanking as President van Suid-Afrika aan

 

Geboortes

1890 – Oswald Pirow, regsgeleerde en politikus († 11 Oktober 1959)

 

Sterftes

1884 – Arnoldus Pannevis, beyweraar vir Afrikaans (* 16 Februarie 1838)

Arnoldus Pannevis is op Oudekerk, Holland, gebore en op 14 Augustus 1884 in die Paarl oorlede. Hy het in die medisyne gestudeer en ’n tyd lank as skeepsdokter gepraktiseer, totdat hy in 1861 bedank en in die klassieke studeer. Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad geland. Hy gee onderwys, hoofsaaklik in die Paarl en omgewing. Pannevis ontdek in Afrikaans ’n volwaardige taal; hy is baie godsdienstig en bepleit die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit gee aanleiding tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, die georganiseerde taalbeweging. Pannevis het in Nederlands en Afrikaans gedig; hy is medeskrywer van die Afrikaanse Volkslied (“’n Ieder nasie het sijn land”).

1992 – Anna Neethling-Pohl, aktrise (* 24 Desember 1906)

Die voorste dame van die Afrikaanse toneel, die groot eksponent van die Afrikaanse poësie, ’n radiopersoonlikheid sonder weerga, Anna Servasina Neethling-Pohl is op Graaff-Reinet gebore, die oudste dogter van PHC Pohl, die toneelmens van die Kaapse Middelland. Na voltooiing van haar hoërskoolopleiding op Graaff-Reinet verwerf sy in 1927 die BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1929 studeer sy vir die Hoër Onderwysdiploma aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege (die Universiteit van Pretoria). Van vroeg af speel sy toneel, is sy opgelei in die Pohl-tradisie dat die teater ’n magtige middel is om die volkskern te bereik en dat talent in diens van die volk gestel moet word. Met hierdie rigsnoer tesame met haar leiersgawe het Anna Neethling-Pohl ontwikkel as die belangrikste toneelfiguur in Afrikaans tot 1950. Dit was in Pretoria by die Volksteater waar haar talente tot volle ontplooiing gekom het. In 1947, met die totstandkoming van die Nasionale toneelorganisasie is sy as lid van die Beheerraad deur die destydse Minister van Onderwys aangestel. Ook op die gebied van die radiowese het sy in die jare 1950 tot 1965, soos met haar werk by die NTO, ’n grootse bydrae op kultuurgebied gelewer. Haar aanbiedings tydens volksfeeste spreek van haar verbondenheid met haar volk. Op een-en-sewentigjarige leeftyd het sy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang vir haar bydrae op kulturele gebied. In 1948 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns haar bekroon met sy Erepenning vir Toneel. By hierdie eerbewys saam met die Kaapse Drieblare Toekenning vir die beste aktrise in Transvaal kon sy ook die Adelaide Ristori-kultuurstigting in Rome se toekenning voeg, wat vroue van die wêreld vereer vir hul kulturele prestasies. Vir hierdie besondere verering is sy deur die RSA se Departement van Nasionale Opvoeding genomineer – aktrise en regisseuse by uitnemendheid van die Afrikaanse toneel, rolprentaktrise, TV-aktrise, voordragkunstenares, skryfster en vertaalster van ses Shakespeare-dramas in Afrikaans.

1998 – Eve Boswell, sangeres (* 11 Mei 1922)

Eve Boswell was ’n sangeres wat in Hongarye gebore is. Sy en haar gesin kom in 1939 saam met die Boswell-sirkus na Suid-Afrika, en sy verander later haar van na Boswell. Na ’n tydperk van werk in Engeland keer sy na Suid-Afrika terug en vestig haar in Durban. Van haar treffers sluit in “Sugarbush” (“Suikerbossie”), “Daar lê die ding” en “Mamma, ‘k wil ’n man hê”.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/