12 SEPTEMBER
September 12, 2015
14 SEPTEMBER
September 14, 2015

Gebeure

1853 – Die Bainskloofpas tussen Wellington en Worcester in die Wes-Kaap, word vir verkeer oopgestel

1854 – JP Hofman as eerste president van die O.V.S. ingehuldig

1900 – Anglo-Boereoorlog: Lord Roberts reik ’n proklamasie uit wat die Republikeinse magte wat steeds in die veld is, versoek om op te gee

1900 – Anglo-Boereoorlog: Koningin Wilhelmina stel die Gelderland tot pres. Paul Kruger se beskikking

Koningin Wilhelmina van die Nederlande het die goedgesindheid van haar land teenoor die Boererepublieke gedemonstreer toe sy op 13 September 1900 gemagtig het dat die pantserskip Gelderland ter beskikking van Pres. Kruger en sy geselskap vir hul reis na Europa gestel word. Op 20 Oktober het die Staatspresident in Delagoabaai aan boord van die Gelderland na Marseille vertrek. By sy aankoms in Den Haag het die voorsitters van albei Kamers van die Staten-Generaal op 7 Desember hom ’n verwelkomingsadres aangebied, en die volgende dag het die Koningin die President ontvang. In haar briefwisseling met koningin Victoria het Wilhelmina haar beywer vir die beëindiging van die militêre optrede van Brittanje teen die Boererepublieke. 

In 1901 het Abraham Kuyper eerste minister van Nederland geword, en sy indirekte bemiddeling het aanleiding gegee tot onderhandelinge wat later tot die Vrede van Vereeniging gelei het. In ’n diplomatieke nota aan Brittanje het die Nederlandse regering aangebied om as bemiddelaar op te tree, ten einde die oorlog te beëindig. Die nota is, saam met die Britse antwoord daarop, aan lord Kitchener gestuur, wat dit op sy beurt sonder enige kommentaar aan waarnemende staatspresident SW Burger oorgemaak het. Laasgenoemde het, met die oog op moontlike vredesonderhandelinge, met die Britse militêre aanvoerders in verbinding getree. Dit was die begin van die onderhandelinge wat tot vrede gelei het. Kuyper, wat in Nederland aan die spits gestaan het van die Pro-Boere beweging, se geskrif De Crisis in Zuid-Afrika (1900) het baie daartoe bygedra om mense in Europa beter in te lig oor die hele agtergrond van die gebeurtenisse in Suid-Afrika. Ook in die Nederlandse koerante van daardie tyd het reëlmatig artikels verskyn, onder meer van Charles Boissevain. 

In twee ope briewe wat in die Handelsblad gepubliseer en aan die hertog van Devonshire en “an American Lady” gerig is, het hy ’n hartstogtelike pleidooi gelewer vir die reg van die Boere. Ook Nederlandse digters soos Verwey en Van Eeden het in verse uiting gegee aan hul meegevoel met die stamverwante volk in die verre Suiderland. L Penning, direk verbind met Suid-Afrika deur familiebande, het ’n reeks boeke oor die Engelse Oorlog laat verskyn, waaronder De oorlog in Zuid-Afrika (1899 tot 1900) en Verdedigers en Verdrukkers den Afrikaansche Vrijheid (1902). Laasgenoemde werk, ryklik geïllustreer, het lewensketse bevat van verskeie Boerefigure en Britse bevelvoerders wat ’n prominente rol in die oorlog gespeel het. Dit was egter verhale wat direk op die stryd betrekking gehad het soos De Leeuw van Modderspruit (1899), De held van Spionkop (1902) en De Verkenner van Christian de Wet (1902), wat veral die verbeelding van die Nederlandse jeug gepak het.

In 1899 het twee fotodokumentêre geskrifte van J Kolstee verskyn, naamlik Transvaal-album en De Oorlog in Zuid-Africa, terwyl W van Everdingen drie lywige dele van De Oorlog in Zuid-Afrika (1902, 1905, 1915) gepubliseer het. Kort na die oorlog het ’n uitgebreide gedokumenteerde Gedenkboek van den Oorlog in Zuid-Afrika (1904) deur WF Andriessen, hoofredakteur van die goedgesinde De Telegraaf verskyn, waarin hy op ’n objektiewe wyse aangetoon het wat daar in Nederland vir die Boererepublieke gedoen is.

1914 – Genl. Jan C.G. Kemp bedank as offisier in die SA weermag as gevolg van die oorlogsbeleid van die Botha-regering en sluit aan by die Rebelliekrag

1932 – Afrikaanswording van die Universiteit van Pretoria

Met die ontstaan van die Transvaalse Universiteitskollege, waaruit die Universiteit van Pretoria in 1930 sou groei, was taal- en mediumkwessies nie ter sprake nie en vir alle praktiese doeleindes was die inrigting eentalig Engels. Dat hierdie inrigting, gesetel in ’n oorwegend Afrikaanse stad veral nadat die Universiteit van die Witwatersrand vanaf 1921 ’n suiwer Engelse koers ingeslaan het, die belange van die Afrikaner sou dien, was haas vanselfsprekend, maar is nie geredelik so aanvaar nie. Afrikanerambisies waarvan die eerste tekens reeds in die vroeë twintigerjare waarneembaar was, is deur jingo-elemente in en om Pretoria met venyn teengestaan, maar het tog tot die sogenaamde vyftig-vyftig-beleid gelei. Die aandrang op groter erkenning van Afrikaans het momentum gekry toe dit geblyk het dat die teorie van gelykberegtiging van die twee landstale, ná 1930 in die praktyk op ’n gruwelike verontregting van Afrikaans neergekom het, en wel ten spyte daarvan dat in 1931 65% van die studente Afrikaanssprekend was. ’n Spanning wat stadig aan die toeneem was, is vroeg in 1932 op die spits gedryf toe dit bekend geword het dat die anonieme skrywer van War, Wine and Women, waarin neerhalend van die Afrikaner geskryf is, ’n dosent, HP Lamont van die Universiteit was. Die afloop van die sg. Lamontsaak wat onder meer daarop uitgeloop het dat hy geteer-en-veer is, het nie slegs die openbare mening in ’n Engelse en Afrikaanse kamp verdeel nie maar ook die personeel en die studente aan die Universiteit. Indien die situasie sou toegelaat word om onbepaald voort te duur, kon dit die jong inrigting verlam het. Prof. AE du Toit, rektor sedert 1927, het sterk ingegryp, en nadat hy van die Senaat se ondersteuning oortuig was, aan die Raad voorgestel dat aan die dubbelslagtige karakter van die Universiteit ’n einde gemaak word, en dat hy hom in hoofsaak onvoorwaardelik in diens moet stel van die Afrikaanse deel van die bevolking. Die voorstel het op 13 September 1932 voor die Raad gedien en is met 13 stemme teen 4 aanvaar. In 1944 is op versoek van die studenteraad deur die Universiteitsraad goedgekeur dat die Woensdag naaste aan die 13e September ’n vakansiedag bekend as Lentedag sal wees om op dié wyse alle studente in staat te stel om mee te doen aan die herdenking van die Afrikaanswording van die Universiteit.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1904 – JW (Oom Willem) van der Rijst, kampvegter vir Afrikaans en lid van GRA (* 16 Januarie 1828)

Jan Willem van der Rijst, ’n Hollander van geboorte, speel ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Eerste Taalbeweging. Hy is as onderwyser opgelei, maar word in 1861 as sendeling in die NG Kerk toegelaat. In Februarie 1862 word hy as sendeling en onderwyser in die gemeente Wynberg aangestel nadat hy ook ’n rukkie op Calvinia werksaam was. Aanvanklik was hy ’n verbete teenstander van Afrikaans, maar onder invloed van Oom Lokomotief word hy ’n vasbeslote kampvegter daarvoor. Hy pak die eerste Spel- en Leesboek vir Afrikaanse kinders in 1878 aan. Daarna skryf hy ook Samesprake in Afrikaanse en Engels. Albei hierdie boekies verkoop besonder goed. Oom Willem, die skuilnaam waaronder hy geskryf het, behaal ook buitengewone sukses met sy preke wat eers in Die Patriot en in 1884 en 1885 in twee bundels onder die titel Evangeli in di volkstaal in druk verskyn. Saam met ds. PD Rossouw van Fraserburg, is hy die eerste wat dit waag om preke in Afrikaans te skryf. In 1886 verskyn ’n godsdienstige verhaal So gaat dit ook uit sy pen. Oom Willem is op 13 Desember 1904 in Nederland oorlede. 

1919 – Albert Henry Hime, ’n Eerste Minister van Natal (* 29 Augustus 1842)

1976 – Daniël Johannes (Danie) Smal, bekende voordragkunstenaar, akteur en skrywer (* 11 Februarie 1889)

Daniël Johannes Smal is op Petrusville in Noord-Kaapland gebore. Na hy hom as onderwyser bekwaam het, het hy hom op die voordragkuns toegelê en landwyd, asook in Nederland en Vlaandere duisende eenmankonserte gehou om die skoonheid en kennis van die Afrikaanse taal en letterkunde uit te dra. Sy voordragkuns het ook gestrek tot belangstelling in die Afrikaanse toneelkuns en hy was die stukrag agter die Afrikaanse kultuurvereniging en Toneelskool in Pretoria.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/