12 OKTOBER
October 12, 2015
14 OKTOBER
October 14, 2015

Gebeure

1867 – Die eerste diamant in Suid-Afrika gevind

Die kinders van die Jacobs-familie van die plaas De Kalk in die omgewing van die latere Hopetown, het met ’n eienaardige klippie gespeel toe ’n boer, Schalk van Niekerk, dit opmerk en vermoed het dat dit ’n diamant is. ’n Verbygaande handelaar, Johan O’Reilly, het dit ondersoek waarna dit geblyk het ’n diamant van 21.25 karaat te wees – die eerste wat in Suid-Afrika gevind is. Verdere ontwikkelings het tot ’n algehele ekonomiese omwenteling in Suid-Afrika aanleiding gegee. Die diamantdraende gebied het die westelike deel van die Vrystaatse Republiek uitgemaak, maar soos verwag kon word van die rowende Brittanje het sir Henry Barkly, die Britse Goewerneur en Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, dit skaamteloos as deel van die Kaapkolonie opgeëis. Diamantontdekkings in die westelike deel van die ZAR het die Britse anneksasielus nog verder aangewakker. Onbeholpe onderhandeling aan die kant van die Transvaalse pres. MW Pretorius, het ook daartoe gelei dat die arbitrasie-uitspraak van goew. Keate van Natal in Oktober 1871 ten gunste van die stamhoofde, wat die Britse owerheid goedgesind was, Transvaal hulle diamantvelde ontneem het. Enkele dae na die Keate-uitspraak het Barkly ook die Vrystaatse diamantvelde, ondanks besware van pres. JH Brand, geannekseer. Weens die onwilligheid van die Kaapse Parlement, is die gebied vir eers direk deur Brittanje geadministreer. Hierdie optrede deur ons Engelse oorheersers het weer eens die ware rede vir hulle annekseringswaan bevestig – soos pres. Paul Kruger later gesê het: dis nie stemreg wat julle soek nie, dis my land (met al sy ondergrondse rykdomme) wat julle wil hê! Die ontdekking van diamante het die mynboubedryf in Suid-Afrika aan die gang gesit, buitelandse kapitaal het die land ingestroom en groot maatskappye het tot stand gekom om hierdie rykdom te ontgin. Naas die ekonomiese ontwikkeling het dit ’n nuwe soort gemeenskap geskep waar avontuurlus, materialisme en maatskaplike probleme oorheers het. Die grootskaalse sametrekking van verskillende kultuur- en rassegroepe op die diamantvelde by Kimberley het ontwrigtend op die onderlinge verhoudinge ingewerk. Soos wat rasse-integrasie nog nêrens ter wêreld ’n suksesresep vir goeie verhoudinge was nie, het dit hier tot baie botsings gelei, het ook die kultuurverskille baie groot wrywing meegebring. Die gevestigde Afrikanerbevolking, wat ’n rustige plattelandse bestaan gevoer het, het vreemd teenoor hierdie ontwikkeling gestaan, en vir sover hulle nie as eenvoudige delwers en werknemers daarby betrokke geraak het nie, het hulle hul aan die diamantbedryf onttrek.

1880 – Transvaal verklaar onafhanklikheid van Brittanje

1881 – Elektriese ligte in Adderlystraat, Kaapstad, geïnstalleer

Adderlystraat is moontlik die mees histories ryk straat in Kaapstad. Dit kry die naam van die man wat heftig teengestaan het teen die Britse voorstel om Kaapstad in ’n veroordeelde kolonie te omskep, Charles B. Adderly. Op 13 Oktober 1881 is die straat se eerste elektriese ligte geïnstalleer. Die straat is deesdae ’n groot trekpleister vir toeriste in Kaapstad. Dit is in die omgewing van ander besienswaardighede soos die Old Slave Lodge Museum, die Groote Kerk (die oudste kerk in Suid-Afrika) en die Kompanjiestuin.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Kraaipan

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, was daar reeds ’n Britse troepemag op Mafeking gestasioneer. Ten einde hierdie mag te isoleer en uit te wis, het genl. JH de la Rey kort nadat die berig aangaande die oorlogsverklaring genl. PA Cronje op 11 Oktober by Polfontein, aan die Transvaalse wesgrens bereik het, met ’n kommando die Betsjoeanalandse grens oorgesteek om die spoorwegverbinding tussen Mafeking en Kimberley af te sny. Op 12 Oktober het hierdie kommando die spoorlyn by Kraaipan, aan die hoofspoorlyn tussen Mafeking en Vryburg, gesabboteer. Hierdie optrede van die Boere het die ontsporing van ’n gepantserde lokomotief, wat ’n gepantserde trein begelei het tot die gevolg gehad. Die geveg wat hierna tussen Boer en Brit by Kraaipan ontstaan het, was die eerste van die Anglo-Boereoorlog. Toe dit lig word op 13 Oktober 1899, is met ’n kanon uit genl. De la Rey se kommando op die trein gevuur. Met die derde skoot het die koeël die lokomotief se stoomketel beskadig, sodat die Britse soldate na ’n kort geveg hulle aan die Boere oorgegee het. Benewens etlike gevangenes, het die Boere die trein met sy vrag kanonne en talle dum-dum koeëls buitgemaak. So het die eerste geveg van die Anglo-Boereoorlog in ’n oorwinning vir die Boere geëindig.

Geboortes

1938 – Dalene Matthee, skryfster († 20 Februarie 2005)

Dalene Matthee was ’n internasionaal-bekende skrywer, wie se boeke in verskeie tale vertaal en verfilm is. Sy is veral bekend vir haar reeks bosboeke, wat in en om die Knysnabos afspeel. Die eerste bosverhaal Kringe in ’n bos (1984) was ’n topverkoper en is met die ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon. Dieselfde eer val ook die bosverhale Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987) te beurt. Sy skryf ook ander suksesvolle werke, soos Pieternella van die Kaap, Susters van Eva, Brug van die esels, Toorbos en die kortverhaalbundel Die Judasbok.

 

Sterftes

1879 – Josias Phillip Hoffman, eerste president van die Oranje-Vrystaat (* 31 Desember 1807)

Die eerste President van die Oranje-Vrystaat, Josias Philippus Hoffman, was ironies genoeg, nie in hart en niere ’n oortuigde republikein nie. Gebore op Stellenbosch, vestig hy hom eers in 1940 in die Transgariep. In 1848 en daarna berus hy aanvanklik in die uitbreiding van die Britse gesag oor hierdie gebied. Hy sou eers na 1853 van sienswyse verander, en onder sy voorsitterskap word die Bloemfontein-Konvensie in 1854 onderteken. Hierna maak hy snelle politieke opgang in die onafhanklike Oranje-Vrystaat. En in September 1854 word hy as eerste President ingehuldig. Ten gunste van hom tel die feit dat hy reeds ’n hegte vriendskap met Mosjesj, die Basoeto-opperhoof, gesmee het. Gedurende sy kort ampstermyn sou hy dan ook poog om ’n vredesbeleid te volg – vandaar sy persoonlike samesprekings met die inboorlinghoofde soos Mosjesj en Adam Kok. Op besoek aan Mosjesj in Augustus 1854 skenk hy aan die opperhoof ’n klein vaatjie kruit van 50lb, ter vervanging van die kruit wat gebruik is vir sy verwelkoming. In die oë van die talle Vrystaters was dit ’n uiters ernstige oortreding. Boonop het Hoffman hierdie skenking in sy verslag aan die Volksraad nie vermeld nie. ’n Vertrouenskrisis het ontstaan, en onder druk het Hoffman in Februarie 1855 bedank. Hy is op 13 Oktober 1879 op sy plaas Slootkraal, in die distrik Wepener, oorlede.

2001 – Prof. Louis Cornelius Eksteen, leksikograaf (* 20 Oktober 1930)

Louis Eksteen was ‘n Afrikaanse taalkundige en digter. Hy is in Windhoek gebore. Hy het aan die Universiteit van Pretoria en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer. Daarna was hy redaksioneel verbonde aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/