12 FEBRUARIE
October 31, 2016
14 FEBRUARIE
October 31, 2016

Gebeure 

1713 – Pokke-epidemie 

Pokke-epidemie tref die verversingstasie aan die Kaap, nadat dit saam met die bemanning op ’n Nederlandse skip aangekom het. Die siekte veroorsaak onherstelbare verwoesting onder die inheemse en kolonistiese bevolking van die Kaapse Skiereiland en aangrensende binneland. Die inheemse Khoisan-mense word die hardste getref. 

1785 – Martinus Bergh vertrek na Nederland 

Die Kaapse burger, Martinus Bergh, vertrek van Kaapstad om medeburgers se griewe teen die regering onder die aandag van die Stategeneraal in Nederland te bring. 

1858 – Aanname van die grondwet, vlag en wapen van die ZAR 

Dit was die laaste dag van die sitting van die Kommissieraad wat op 2 Februarie begin het en waar besluit is om besonderhede aangaande ’n grondwet, vlag en wapen vir die ZAR aan die Volksraad voor te lê. Die

ZAR-wapen

aanvaarding daarvan deur die Volksraad het op 16 Februarie geskied. Hierdie grondwet van 1858 is voorafgegaan deur die goedkeuring, by verskeie geleenthede, van die konsepgrondwette wat, met enkele uitsonderinge, dieselfde bepalings gehad het, en dit vertoon groot ooreenkoms met die Bataafse grondwet van 1798. Die laaste goedgekeurde grondwet, op 16 Desember 1856, is egter nie deur al die inwoners van die ZAR aanvaar nie, o.m. Stefanus Schoeman en sy Soutpansbergse volgelinge. Meer as ’n jaar het verloop voordat pres. MW Pretorius en Stefanus Schoeman mekaar gevind het en daar op 1 Februarie 1858 deur ’n krygsraadvergadering besluit is dat Pretorius en Schoeman, elkeen met ses ondersteuners, ’n kommissieraad sou vorm om uit al die bestaande wette ’n grondwet vir die Republiek op te stel. Hierdie grondwet het in hoofsaak die grondwet van die ZAR tot in 1902 gebly. Die Volksraad het gelyktydig met die aanvaarding van die grondwet ook die aanbevelings van die Kommissieraad met betrekking tot ’n vlag en wapen vir die Republiek aanvaar. Die posisie met die vlag was min of meer dieselfde as dié met die grondwet. Reeds op 6 Januarie 1857 is die sogenaamde Vierkleur as landsvlag plegtig op Potchefstroom gehys, gevolg deur ’n ewe plegtige hysing in Pretoria op 23 Februarie 1857, maar ook hierdie vlag is deur Stefanus Schoeman en sy ondersteuners verwerp. Ook hierdie vete is uit die weg geruim deur die besluit van die Kommisieraad, goedgekeur deur die Volksraad, dat die vlag van die Republiek bestaan uit die volgende bane: “Rood, Wit en Blaauw, evenbreed boven elkander horizontaal gesteld, en groen perpendiculair lans den stok,” met die woorde “Eendracht maak magt” daarop geskryf. So is die Vierkleur weer eens as nasionale vlag amptelik in gebruik geneem toe dit op 3 Maart 1858 op Potchefstroom gehys is. Die wapen vir die Republiek wat deur die Kommissieraad aanbeveel en deur die Volksraad saam met die grondwet en vlag aanvaar is, is soos volg beskryf: Op ’n silwer agtergrond staan ’n wa en ’n goue anker en op die wapen is ’n arend. Aan die regterkant van die wapen staan ’n man in die land se kleredrag, gewapen met ’n geweer en toebehore. Aan die linkerkant van die wapen is ’n leeu. Hierdie besluit van 1858 is, soos ook in die geval van die vlag, die enigste wetsbepaling en beskrywing van die landswapen wat, met ’n kort onderbreking tot aan die einde van die Republiek bestaan het. 

1862 – Eerste trein tussen Kaapstad en Wellington  

Die spoorlyn, 34 kilometer lank, is op hierdie dag in gebruik geneem toe Kaapstad met Eersterivier verbind is. Dieselfde jaar is die spoorlyn na Stellenbosch en die volgende jaar na Wellington verleng. Die eerste spoorlyn waarop ’n stoomtrein in Suid-Afrika geloop het toe Durban met Durbanpunt verbind is, is op 26 Junie 1860 in gebruik geneem. 

1877 – Memorie na ZAR-distrikte

Die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek het vroeg in Februarie 1877 ’n memorie na al die distrikte dwarsoor die ZAR uitgestuur. Die vraag met betrekking tot die memorie was gewees of die inwoners van die ZAR onder Britse bewind (federasie) wou lewe, al dan nie. Die memorie se uitslag wat op hierdie dag bekend gemaak was het aangedui dat 2 326 mense daarteen was, en 362 mense daarvoor was. Bogenoemde volg op Sir Theophilus Shepstone se aankoms op 20 Januarie 1877 met die uitsluitlike doel om die ZAR te annekseer. Hierdie anneksering was ’n regstreekse gevolg van lord Carnarvon wat ’n federasie van Suid-Afrikaanse state in gedagte gehad het. Die Eerste Vryheidsoorlog van 1881 was ’n direkte gevolg van die anneksering, en het die ZAR daarna weer onafhanklikheid verkry.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Bloemfontein gee oor nadat die Britte die Vrystaatse hoofstad ingeneem het 

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bloubospan, Jacobsdal 

1901 – Anglo-Boereoorlog: Insident by Brugspruit, Transvaal 

1901 – Anglo-Boereoorlog: Pogings om die oorlog te beëindig misluk 

Lord Kitchener ontmoet genl. Louis Botha in ’n poging om die Anglo-Boereoorlog te beëindig, maar Botha vind die Britse toestande onaanvaarbaar. Die stryd van Wolwekuil word op dieselfde dag geveg. 

1905  Verplasing van die Teologiese Skool, Gereformeerde Kerk, van Burgersdorp na Potchefstroom 

Reeds voor die Anglo-Boereoorlog het die verplasing van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vanaf Burgersdorp aandag geniet. Die eerste Sinode na die oorlog op Middelburg in die Kaapkolonie het op die pleidooi van die jong dr. JD du Toit (Totius), predikant van Potchefstroom, besluit om die skool daarheen te verplaas. Dit staan vas dat die behoud van taal en volk in ’n Transvaalse omgewing, teenoor die verengelsing in die Kaapkolonie, ’n belangrike motief vir die besluit was. Die skool het op 13 Februarie 1905 met Jan Lion Cachet as professor in Potchefstroom geopen. 

1968 – RAU begin met lesings

Die Randse Afrikaanse Universiteit begin op hierdie dag met eerste lesings in Braamfontein.

1984 – André Stander doodgeskiet 

Bendeleier en bankrower André Stander is doodgeskiet in die Verenigde State van Amerika. 

2007 –  Skildery van Irma Stern 

n Skildery van Irma Stern, die Suid-Afrikaanse skilder, behaal die hoogste prys nóg op ’n openbare kunsveiling vir ’n Suid-Afrikaanse skildery. 

 

Geboortes 

1861 – Ds. David Wilcocks, Afrikaanse predikant wat tronkstraf uitgedien het vir dankgebede na Boereoorwinnings by Colenso en Magersfontein († 20 Julie 1944) 

Hy het aan die Victoria Kollege op Stellenbosch gestudeer en is in 1890 gelegitimeer. Hy het op Vryburg, Mosselbaai en weer op Vryburg as NG predikant gearbei toe hy in 1900 aan hoogverraad skuldig bevind is na aanleiding van sy dankgebede uitgespreek vir die Boere-oorwinnings wat by Colenso en Magersfontein 1899 behaal is. Hy is tot twaalf maande gevangenisstraf by Tokai gevonnis waar hy in die tyd onderwys gegee het. In 1903 is hy na Aliwal-Noord, 1906 na Prins Albert, 1911 weer na Mosselbaai, 1921 na Riebeeck-kasteel en van 1925 tot 1932 dosent aan die Wellingtonse Sending instituut. Hy is op 20 Julie 1944 oorlede. 

 

Sterftes 

1984 – André Stander, Suid-Afrikaanse polisieoffisier en berugte bankrower (* 22 November 1946) 

André Stander was n Suid-Afrikaanse polisieoffisier en n bankrower. Hy het as n kaptein by die polisiestasie in Kempton Park gewerk. In die 1970s begin hy om banke te beroof. Hy was in die media bekend as die leier van die Stander-bende en was berug vir die gewaagde wyse waarop hy misdade gepleeg het. Soms het hy banke oor sy middagete beroof, en is dikwels as n ondersoekbeampte na dieselfde toneel terug.  

2003 – Nico Coetzee, skrywer en akademikus (* 1911) 

 

Bronne: 

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK. 

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel. 

https://www.sahistory.org.za 

https://af.wikipedia.org/wiki/