12 APRIL
November 1, 2016
14 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1598 – Edik van Nantes uitgevaardig

Die Franse koning, Hendrik IV vaardig die Edik van Nantes uit. Die doel daarvan was om vrede tussen die Rooms-Katolieke en die Hugenote te bevorder.

1688 – Eerste Hugenote land met die Voorschoten aan die Kaap

Vir die klein Kaapse nedersetting was die jaar 1688 van groot betekenis. Met die koms van die Franse vlugtelinge is die geledere van die koloniste versterk en het die Calvinistiese godsdiens ’n verdere versterking en stukrag ondergaan. Die Hugenote het hulle vaderland in 1685 verlaat nadat die Edik van Nantes herroep is en hulle aan meedoënlose vervolging, vernietiging van hul kerke ens. blootgestel was. Die bewindhebbers van die VOC het van die geleentheid gebruik gemaak om ’n aantal van hierdie Protestantse vlugtelinge na die yl bewoonde Kaapkolonie te stuur. As vlugtelinge was die Hugenote vanselfsprekend brandarm, en slegs deur geloof, deursettingsvermoë en onvermoeide ywer het hulle die eerste moeilike jare oorleef. In die vallei van die Bergrivier het hulle hul gevestig, veral in die boloop van die rivier, in die “Fransche Hoek”. Die Hugenote was soos die Hollandse koloniste Calviniste, maar in sterker graad. Frankryk was immers die land van oorsprong van die Calvinisme, waarvoor die Hugenote bereid was om soveel op te offer. Waar die Calvinisme in Nederland ’n onskatbare aandeel gehad het in die geloofskrag, moed, vertroue en standvastigheid van sy mense, het die Hugenote hierdie eienskappe aan die Kaap onteenseglik versterk. Die godsvertroue in ’n almagtige en liefdevolle Vader, wat ’n wesenskenmerk van die Afrikaner se geloof vorm, het dus hier sy beslag gekry. Die Hugenote het sekere karaktertrekke van die Nederlander aan die Kaap versterk. Hulle was gesteld op godsdienstige, maatskaplike, politieke en persoonlike vryheid. Geen wonder dus dat hulle aangedring het op ’n eie gemeente, eie predikant en ’n eie skool nie. Toe goewerneur Simon van der Stel dit weier, is ’n versoekskrif aan die Here Sewentien gestuur, sodat die Hugenote in 1691 ’n eie gemeente, Drakenstein, gekry het met ds. Pierre Simond as leraar. Die onderwyser en sieketrooster was Paul Roux. In die stryd teen goewerneur WA van der Stel en die uitbuiting van die koloniste deur die hoë amptenare van die VOC, het die Franse hul lot by dié van die Hollandse koloniste ingewerp en ’n hoë mate van sedelike en fisieke moed aan die dag gelê. Ook die praat- en redenaarsliefde van die Franse word by die Afrikaner aangetref – vandaar sy voorliefde vir beroepe soos dié van advokaat, predikant en politikus. Van die Fransman word gewoonlik gesê dat hy verstandig, nugter en prakties is. Hierdie eienskappe het die Afrikaner-pionier inderdaad goed te pas gekom op die afgesonderde boereplase. Hoewel nie van adellike herkoms nie, was die Hugenote afkomstig uit die beskaafde burgery, bekend vir hulle hoflike maniere. Die omgewing waar die Hugenote hulle gevestig het, het bekend geword vir die wellewendheid, statige huise en meubels en smaakvolle kleredrag van die bewoners. Op stoflike gebied het die Franse se kennis van die wyn- en brandewynmakery, vrugtekwekery en verskeie ambagte die Kaap tot groot voordeel gestrek. Vandag staan daar in Franschhoek die indrukwekkende Hugenotemonument ter ere van ons Hugenote-stamouers en hulle aandeel in die volkswording van die Afrikaner.

1838 – Louis Tregardt (Trichardt) kom in Lourenço Marques aan

Louis Tregardt (Trichardt), die eerste Voortrekkerleier wat die Kaapkolonie met sy trekgeselskap verlaat het, het reeds in 1834 met sy epiese tog begin. Teen Augustus 1837 het Tregardt die omgewing van die  Soutpansberg verlaat op sy laaste skof na Lourenço Marques (Delagoabaai, vandag Maputo) om kontak met die Portugese te maak.

Om Delagoabaai te bereik, moes Tregardt se trek ’n roete oor die Drakensberge vind. Die oortog oor hierdie geografiese versperring was moeisaam en gevaarlik en het twee maande en tien dae geneem. Geen wonder dat Tregardt, toe sy trek aan die voet van die berg gestaan het, in sy dagboek op 25 Januarie 1838 geskryf het: “Dit was vir ons die blyste dag wat ons gehad het in al ons teëspoed.”

Die trek deur die malaria-besmette Laeveld sou meer as twee maande duur voordat Tregardt met sy geselskap van 52 persone op 13 April 1838 in Lourenço Marques deur die waarnemende goewerneur, Jose Antonio da Silveira, ontvang word. Met Tregardt se aankoms het Lourenço Marques uit ’n fort en slegs ’n klein klompie huisies en hutjies bestaan waar ’n klein aantal mense gewoon het. Hierdie gehuggie was omring van moerasse, malaria het hoogty gevier, van boerdery was daar nie veel sprake nie, die weiding onvoldoende en die water feitlik ondrinkbaar.

Alhoewel die Portugese Tregardt en sy geselskap vriendelik ontvang het en aan hulle grond beloof het, het malaria sy tol onder die Voortrekkers begin eis en ook Tregardt en sy vrou het gesterf. In Julie 1839 het die laaste 28 oorlewendes met die skip, Mazeppa, na Port Natal vertrek om hulle daar weer by die ander Voortrekkers aan te sluit.

1887 – Suid-Afrika se eerste aandelebeurs open op Barberton, Mpumalanga

1900 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse keer terug na Kimberley

 

Geboortes

1897 – Dr. Abraham Johannes van der Merwe († 23 April 1978)

Abraham Johannes van der Merwe is in die distrik Calvinia gebore. By sy aftrede was die kerkman en volksleier, dr. AJ, alombekend. Aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad het hy die graad MA met lof behaal en die Jameson-beurs vir buitelandse studie ontvang. Nadat hy sy opleiding as predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Teologiese Seminarium, Stellenbosch, met lof afgelê het, sit hy sy teologiese studie in Utrecht voort en doktoreer aldaar. Vanaf 1926 is hy 40 jaar lank leraar van die Groote Kerk, Kaapstad. Naas dr. Andrew Murray, is hy die jongste predikant wat Moderator van die Sinode van Kaapland word in 1945. Vyf keer agtereenvolgens is hy as sodanig verkies. In 1962 is hy tot die eerste Moderator van die Algemene Sinode van sy kerk verkies. Hy neem ook leiding in die samelewing en word aangewys as voorsitter van die Van Riebeeck-feeskomitee by die derde eeufees in 1952. Met sy taktvolle en bekwame leiding, was hy hooggeag. ’n Geruime tyd was hy lid van die raad van die Universiteit van Kaapstad. Van laasgenoemde universiteit sowel as van drie ander, Amsterdam, Stellenbosch en Rhodes, het hy eredoktorsgrade ontvang. Hy sterf op 23 April 1978.

1906 – Stella Blakemore, Suid-Afrikaanse skrywer van Afrikaanse jeugboeke († Mei 1991)

1946 – Ds. Frans Maritz, leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ‘n leier in die Sinode van Midde-Afrika († 23 Februarie 2003)

 

Sterftes

1931 – Sir David Pieter de Villiers Graaff, politikus en sakeman (* 30 Maart 1859)

Sir David Pieter de Villiers Graaff, of sir De Villiers Graaff, soos hy algemeen bekend gestaan het, was van 1956 tot 1977 leier van die Verenigde Party en dus leier van die Amptelike Opposisie in die Volksraad, en ’n kort rukkie lank die tussentydse leier van die Nuwe Republiek Party.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/