11 SEPTEMBER
September 11, 2015
13 SEPTEMBER
September 13, 2015

Gebeure

1900 – Long Tom vernietig

Die Boere vernietig hulle eerste Creuzot “Long Tom”-kanon met dinamiet en gooi die wrakstukke in die Krokodilrivier.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Nelshoogtepas, Kaapsche Hoop

1963 – Die eerste uitgawe van Handhaaf verskyn

Handhaaf, amptelike tydskrif van die FAK, kan ongetwyfeld beskou word as ’n kultuurblad, enig in sy soort, wat vir hom ’n onmiskenbare plek in die Afrikaanse volkslewe verower het. Die begin was klein en gering – 7500 eksemplare van sestien bladsye wat eintlik nie veel meer as ’n gedrukte nuusbrief was nie. Daar was egter ’n dringende behoefte, en dit het die Hoofbestuur (toe die Uitvoerende Komitee) van die FAK raakgesien: die FAK moet sy eie spreekbuis hê, wat die saak van die FAK sou stel en ’n band sou lê om instellinge en mense van die FAK, en ook ander gelykgesinde Afrikanerkragte, in ’n omringende wêreld van andersoortigheid doeltreffend te help konsolideer. Handhaaf, wat hoofsaaklik aan alle geaffilieerde en meewerkende liggame aan alle lede van die FAK gestuur word, het deurgaans ’n bestendige groei beleef en in 1979 op ’n oplaag van 24 500 te staan gekom. Sy lesertal strek egter baie wyer, aangesien dit in die biblioteke van die Afrikaanse universiteite, kolleges en honderde skole sy plek gevind het waar dit dag vir dag as naslaanbron gebruik word. Handhaaf-lesers is ook nie tot binne die grense van Suid-Afrika beperk nie. Eksemplare word gereeld versprei in Rhodesië, Brittanje, Wes-Duitsland, Nederland, Oostenryk, België, Frankryk, Italië, Lesotho, Swaziland en selfs Amerika, waar ’n biblioteek om intekening aansoek gedoen het. Medewerkers van besondere aansien dra by tot die inhoud van Handhaaf en die hele lewensterrein van die Afrikanervolk word bestryk: die jeug, die geskiedenis, die Afrikaanse taal en letterkunde, musiek, die uitvoerende kunste, volksfeeste, die sakelewe, die kerklike lewe, volkeverhoudinge, die gesinslewe, die onderwys, die staatkunde, sport, die beskermingsdiente. Van die eerste uitgawe af het ’n vaste rubriekpatroon ingang gevind en van dié rubrieke – bv. Taalsake – is nog gereeld deel van die inhoud. Gedenkuitgawes het ook groot byval gevind: oor CJ Langenhoven (1973), dr. DF Malan (1974), Totius (1977) en AG Visser (1978) dien as voorbeelde. ’n Onafhanklike lesersondersoek is in 1971 gedoen en daarvolgens het geblyk dat Handhaaf deur nagenoeg 95% van sy lesers gelees word. Dit beteken dat Handhaaf uitmuntend aan sy doel beantwoord, nl. om deur positiewe leiding oor aktuele sake aan sy lesers ’n diens te lewer.

 

Geboortes

1907 – Prof. Felix Vincent Lategan, literator en vuurwapenkenner († 15 April 1998)

Felix Vincent Lategan het as plaasseun in die Stormbergse wêreld grootgeword. Nadat hy ’n paar jaar onderwys gegee het op die Vrystaatse platteland, het hy die graad MA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat onder prof. DF Malherbe behaal. In 1937 het hy senior dosent in Afrikaans aan die Pretoriase Tegniese Kollege geword, en in 1945 is hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Nadat hy die graad DLitt behaal het, het hy in 1960 die eerste professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteitskollege van Wes-Kaapland geword. Prof. Lategan is skrywer van verskeie boeke en artikels op die gebied van die letterkunde, en ook van ’n gesaghebbende werk oor historiese vuurwapens.

 

Sterftes

1938 – Prins Arthur van Connaught, Britse politikus en derde goewerneur-generaal van Suid-Afrika (1920-1924) (13 Januarie 1883)

1973 – Hettie Smit (S.J. van Vuuren), skrywer (* 21 November 1908)

Hettie Smit (mev. SJ van Vuuren), onderwyseres, skilderes en prosaïs, verryk die Afrikaanse letterkunde in 1937 met die eerste publikasie van die Vereniging vir die Vrye Boek, nl. Sy kom met die Sekelmaan, in prosa die vergestalting van die Poësie van Dertig, en wel as belydenisse van allerlei persoonlike konflikte van die dualistiese hooffiguur, Maria-Marié. Dit verskyn net ’n jaar nadat Elisabeth Eybers in die poësie die stem van die vrou laat hoor het.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/