11 MAART
November 1, 2016
13 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1488 – Bartolomeu Dias rig ’n kalksteenkruis op by Kwaaihoek

Die Portugese navigator en ontdekkingsreisiger wat sover bekend die eerste seevaarder was wat om die Kaap die Goeie Hoop gevaar het, was Bartolomeu Dias. Volgens aanvaarbare bronne het Dias in Julie of Augustus van 1487 uit Portugal vertrek op hierdie spesifieke ekspedisie.

Aan die suidpunt van Afrika het stormwinde hom so ver suidwaarts gedryf dat hy aanvanklik nie daarvan bewus was dat hy óm die mees suidelike punt van hierdie groot vasteland gevaar het nie. Aan die begin van Februarie 1488 het hulle dit besef toe hulle die mond van die rivier bereik het wat vandag as die Gouritzrivier bekend staan. Hulle het voet aan wal gesit by São Bras, die huidige Mosselbaai, op 3 Februarie. Hier het Dias en sy mense ’n houtkruis opgerig. Op die verdere ooswaartse reis het hulle talle plekname aan die Suid-Afrikaanse kus toegeken.

Daar word algemeen aanvaar dat hulle vroeg in Maart omgedraai het by die Groot Visrivier, wat hulle Rio de Infante genoem het, ter ere van die kaptein van hulle tweede karveel. Op die terugreis, op 12 Maart 1488, plant Dias sy eerste klipkruis by Kwaaihoek, ongeveer 6 km wes van die mond van die Boesmansrivier. Die kruis het die Padrão de San Gregório geheet en dit was die verste ooswaarts geleë van al Dias se padrãos. Oorblyfsels daarvan is in 1938 deur prof. E Axelson gevind en met die hulp van ’n span het hy ongeveer 5000 stukke, die meeste daarvan baie klein, van die padrão opgespoor. Hulle het daarin geslaag om die padrão te rekonstrueer, maar die inskripsie was nie meer leesbaar nie. Die kruis is in 1838 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en is te sien in die biblioteek van die Universiteit van die Witwatersrand. Verskeie replikas daarvan is ook gemaak.

1879 – Ongeveer 2000 Zoeloes val Britse mag by die Intombi-rivier aan

Hierdie geveg maak deel uit van die Ango-Zoeloe-oorlog van die 1870’s. ’n Britse konvooi van 18 waens was onderweg na die dorpie Lûneberg vanaf Lydenburg onder bevel van maj. Charles Tucker. Die doel daarvan was om die garnisoen daar te versterk en voorrade af te lewer. Onderweg word hulle gang deur erge reën vertraag. By die Intombe-drif het Tucker slegs 6 waens deur die drif alvorens die donker hom oorval.

Die eerste taktiese fout was om sy mag in twee te deel, die een groter as die ander. Die tweede was om nie ’n behoorlike laer te vorm nie. Waens was wel in ’n V-vorm getrek met ’n oop kant na die rivier. Daar was egter groot openinge tussen die waens gelaat, veral na die rivier se kant. Gedurende die nag van die 11de word wagte uitgeplaas. Omstreeks 3:30 maak ’n wag alarm, dog toe niks verder gebeur nie, kom almal weer tot rus. Enkele minute later val die Zoeloes egter met mening aan.

Eers skiet hul ’n dodelike sarsie met gewere, en val daarna met assegaaie en knopkieries aan.

Nodeloos om te sê, die (71) Britse troepe was totaal onkant gevang. Slegs enkele van die Britse soldate het van die slagting ontkom deur te perd uit te jaag, en ’n konstante vuur-aksie op die agtervolgers vol te hou. Slegs 11 man het lewend uitgekom.

1889 – Eerste kriekettoets

Die heel eerste kriekettoets wat in Suid-Afrika gespeel is, vind op 12 en 13 Maart 1889 op St. Georges Park, Port Elizabeth, plaas.

1898 – Hoeksteen van NG Moederkerk Klerksdorp gelê

Genl. Piet Joubert, opperbevelhebber van die ZAR, lê die hoeksteen van die Nederduits Gereformeerde Moederkerk in Klerksdorp.

1953 – Die Hugenote-vereniging van Suid-Afrika gestig

1938 – Gedenksteen onthul

Genl. HC Muller onthul ’n gedenksteen vir nege Boere wat in die Anglo-Boereoorlog vermoor is. Die herdenking sluit die naam van Salmon van As in, wat deur die Britte in Heidelberg, Transvaal, tereggestel is. Hy was aangekla daarvan dat hy ’n soldaat onder ’n vredesvlag geskiet het.

1960 – Bartolomeu Dias-standbeeld onthul

Bartholomeu Dias de Novaes was ’n Portugese ontdekkingsreisiger wat die koninklike opdrag gehad het om die lang soektog na ’n seeroete na Indië suidwaarts langs die Weskus van Afrika suksesvol af te rond. Van die triomf dat hy Kaappunt wel omseil het, was hy as gevolg van stormwinde onbewus. In Desember 1487 was die ongeveer 37-jarige Dias nog regoor Lüderitzbaai, en in Februarie 1488 het hy by Visbaai digby Mosselbaai aan land gegaan. Daarna is verder geseil. Sy bemanning het hom kort hierna verplig om terug te keer. Met die terugreis het hy sy klipkruis, die padräo van St. Gregorius, naby die mond van die Boesmansrivier in die distrik Alexandria by Kwaaihoek geplant. Prof. Eric Axelson het die brokstukke van hierdie oudste baken van ons Europese erfenis in April 1938 ontdek. Die herstelde kruis is tot historiese gedenkwaardigheid verklaar en staan by die Universiteit van die Witwatersrand. ’n Afgietsel is op die terrein self aangebring. Dias het in Mei 1500 ’n onbekende watergraf in die Kaapse see gevind toe hy ’n lid van Pedro Cabral se vloot na Indië was. ’n Standbeeld vir Dias deur prof. Barata Feyo is op 12 Maart 1960 in die tuin voor die Kunsmuseum in Kaapstad onthul. 

 

Geboortes

1815 – Cornelis Moll, landdros, koerantman en baanbreker-drukker in die ZAR († 25 April 1880)

Cornelis Moll, vier-en-twintigste kind van Cornelis Moll van Nieuwendam, en Anna Sophia Nijhoff, word op hierdie dag in Kaapstad gebore. Nadat hy sy eerste drukkersaak in Kaapstad begin maar insolvent geraak het, het hy in Maart 1844 na Natal verhuis, waar hy die eerste koerant De Natalier begin het. Hy is deur pres. MW Pretorius oorreed om na die ZAR te gaan, en in 1857 rig hy ’n drukpers te Potchefstroom op. Hier het hy die eerste Transvaalse staatskoerant gedruk, maar as gevolg van meningsverskille met die owerheid, koop die regering spoedig die pers. Daarna dien hy as staatsekretaris en staatsprokureur, later as landdros van Pretoria en selfs as Volksraadslid. Met sy vele talente, maar rustelose geaardheid, kon hy baanbrekerswerk in die drukkersbedryf in drie gewestes verrig. Oorlede op 25 April 1880 op Nylstroom.

1871 – Sen. Francois Stephanus Malan, politikus en kabinetsminister († 31 Desember 1941)

Francois Stephanus Malan is op Bovlei by Wellington gebore. In sy lang openbare loopbaan het hy op haas elke gebied van die volkslewe ’n noemenswaardige bydrae gelewer. As redakteur van Die Patriot en Ons Land, vooraanstaande Kabinetslid en gesiene kerkman, het hy die Afrikaanse taal bevorder, en sedert 1924 tot sy afsterwe op 31 Desember 1941 het hy as kultuurleier, onder meer as voorsitter van die Afrikaanse Taalbond, ’n vername rol gespeel. Hy was onder meer ’n stigterslid van die FAK.

1894 – WL van Warmelo, samesteller van Afrikaanse liedjies (†

Willem Lambertus van Warmelo emigreer na SA in 1939 en word veral bekend vir sy versameling en dokumentering van Afrikaanse liederwysies, wat verskyn in twee publikasies, nl. Afrikaanse Liederwysies (1948) en Liederwysies van Van’s Lewe (1958). Hy keer in 1962 terug na Holland.

 

Sterftes

1913 – Kmdt. Christoffel Cornelis Froneman, Vrystaatse bevelvoerder en stigter van die dorp Marquard  (* 26 Maart 1846)

Christoffel Cornelis Froneman, gebore op 26 Maart 1846, het op jeugdige ouderdom aan die laaste Basoeto-oorlog deelgeneem en dwarsdeur die Anglo-Boereoorlog as Vrystaatse kommandant en assistent-hoofkommandant aktief en dapper die stryd meegemaak. As een van die Vrystaatse afgevaardigdes by die vredesonderhandelings by Vereeniging, verklaar hy dat hy kans sien om minstens nog ’n jaar aan die stryd deel te neem. Na die oorlog vestig hy hom in die distrik Marquard waar hy hom beywer vir die stigting van die dorp Marquard.

2011 – Hubert Lawrence du Plessis, komponis, pianis en musiekpedagoog (* 7 Junie 1922)

2012 – Wessel Pretorius, digter (* 17 April 1949)

Wessel Pretorius was ’n digter. Hoewel hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het as digter, publiseer hy ook ’n roman en twee dramas gedurende sy loopbaan.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/