11 JUNIE
June 9, 2015
13 JUNIE
June 9, 2015

Gebeure

1900 – Anglo-Boereoorlog: Volksrust beset

Genl. Redvers Henry Buller beset Volksrust ná ’n oorwinning by Allemansnek.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Wilmansrust

Britse magte onder brig. genl. SB Beatson ly gevoelige verliese teen genl. Chris Muller in die Slag van Wilmansrust in Oos-Transvaal.

1929 – Algemene verkiesing

In Junie 1924 het genl. Hertzog met sy 63 Nasionale Party-setels en Creswell met sy 18 Arbeidersetels as die Paktregering die bewind by premier Smuts oorgeneem. Hertzog en die Afrikanervolk het gejuig, want dit was nie slegs ’n politieke sukses nie, maar tegelyk en eintlik ’n Afrikanertriomf, hoewel saam met Creswell. Aan die status van die land, aan Afrikaans as amptelike taal, aan kleursake en buitelandse aangeleenthede is volledig aandag geskenk. Bo alles het Hertzog die Afrikanerkieser bly waardeer en respekteer. Ongelukkig het die Arbeidersparty intern grootliks verbrokkel, sodat die verkiesing van 1929 met onsekerheid tegemoetgegaan is. Die Nasionale Party, dus die Afrikaner, het nogtans 78 van die 148 setels ingepalm en kon vir die eerste keer uit eie krag regeer. Hertzog het besluit om nietemin met Creswell en sy Arbeiders te bly saamwerk – iets wat hom om kulturele redes deur Afrikanerpolitici, soos NJ van der Merwe, CR Swart en JG Strijdom, ietwat kwalik geneem is. Die suiwer Afrikaanse ideale is, volgens hulle, deur hierdie politieke verbondenhede op die agtergrond geskuif, en geen partysaak is belangriker as die volksaak nie. Die verkiesing van 1929 het ook meegebring dat Tielman Roos as minister bedank en uit die politieke lewe as sodanig getree het. Sy plek is deur Oswald Pirow ingeneem.

1942 – Saambou Bank word onder die naam Unie Bouvereniging gestig

1948 – Eerste Rembrandt-sigarette

Gelei deur die geloof in “Leierskap deur navorsing” en “Nywerheidsvennootskap” het die Rembrandt-groep Beperk van ’n klein onderneming, wat sy beslag in Junie 1948 gekry het, gegroei tot ’n wêreldwye nywerheidsreus – die wêreld se eerste nywerheidsbond van nasies. Onder die kragtige en doelgerigte leiding van dr. AE Rupert, wat van die begin af aan die roer was, het Rembrandt in 1948 die vierde grootste sigaretvervaardiger in die Vrye Wêreld geword met 70 fabrieke in 30 lande. Die batesyfer van R1 000 miljoen verteenwoordig ook wydvertakte belange in die Suid-Afrikaanse nywerheid. Tesame met sy baanbrekers- en bouwerk as Afrikaanse nywerheidsonderneming het Rembrandt ’n sinryke rol gespeel in onder meer die bewaring van Suid-Afrika se kultuurhistoriese erfenis en die bevordering van die Suid-Afrikaanse kuns. Van die oomblik dat Rembrandt op winsgewende voet gevestig was en dividende begin uitkeer het, het hy ’n deel van sy winste tot voordeel van die gemeenskap aangewend. Die bevordering van die kunste op landwye vlak was een van die eerste bedrywighede. Deur die Kunsstigting Rembrandt van Rijn word uitstallings van 19 versamelings wêreldwyd gehou om alom genot te bring en ’n waardering vir die kunste aan te moedig. Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk is in 1966 onder leiding van Rembrandt gestig. In die eerste tien jaar van sy bestaan is meer as vyftig historiese geboue vir die nageslag gerestoureer en dit sluit in geboue soos die Drosdyhof op Graaff-Reinet, die Ou Residensie op Swellendam, Kerkstraat op Tulbach en Laetitia op Stellenbosch. Op Heidelberg in Transvaal het Rembrandt die Vervoermuseum op die ou spoorwegstasie gestig wat onder meer die grootste fietsversameling in die Suidelike Halfrond huisves. Rembrandt se beleid van diens aan die gemeenskap strek nog verder en sluit in die bevordering van sport deur die Sportstigting van Suid-Afrika en die bewaring van die natuur deur die Suid-Afrikaanse Natuurstigting.

1964 – Anti-Apartheidsleier Nelson Mandela word tot lewenslange tronkstraf gevonnis

1986 – Noodtoestand word aangekondig

Pres. PW Botha kondig ’n landwye noodtoestand in Suid-Afrika af om grootskaalse onrus op 16 Junie, die tiende herdenking van die Soweto-opstand, te voorkom.

 

Geboortes

1932 – Patrick Mynhardt, film- en teaterakteur († 25 Oktober 2007)

 

Sterftes

1977 – Dr. Werner Willi Max (WWM) Eiselen, volke- en opvoedkundige (* 13 Junie 1899)

Werner Willi Max Eiselen is op Bothsabêlo in die Oos-Transvaal gebore as seun van ’n Duitse sendelinggesin. Hy en sy vrou (ook van Duitse afkoms) het hulle volledig met die Afrikanervolk vereenselwig. Hy word onthou as die hoogstaande akademikus (tien jaar professor in Volkekunde aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook twee jaar aan die Universiteit van Pretoria) aan wie dit ook beskore was om sy denke oor rasse- en volkeverhoudinge self in die praktyk toe te pas (as hoof van swart onderwys in Transvaal 1936 tot 1947 en Sekretaris van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling 1949 tot 1960). As akademikus het hy sedert 1929 oor die rassevraagstuk geskrywe en die begrip apartheid in talle toesprake en geskrifte tot ’n moreel gefundeerde landsbeleid uitgebou: ’n beleid wat vir alle volke in Suid-Afrika kan geld, wat vooruitgang binne volksverband vooropstel en wat selfstandigheid, gelykheid en geregtigheid vir almal sou waarborg. Vanuit hierdie gesigspunt was hy ook ’n oortuigde mede-oprigter van Sabra in 1948 as ’n liggaam wat rasseverhoudinge wetenskaplik moet bestudeer en voorligting en inligting daaroor verskaf. As praktiese onderwysman, word hy onthou vir sy aandeel in die instelling van moedertaalonderrig in swart skole (teen die kwaaiste weerstand in) en van nasionale onderwys vir die swart volke. In sy termyn as Sekretaris van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling is die werklikhede van Suid-Afrika ingrypend verander: die stelsel van selfbestuur is uitgebou tot waar onafhanklikheid vir Transkei in 1959 ’n saak van praktiese politiek geword het, en tot waar hy self in 1960 as een van die eerste Kommissarisse-Generaal van ’n selfregerende volk aangestel kon word. Dr. Eiselen word as ’n verbeeldingryke argitek en ’n groot boumeester van afsonderlike ontwikkeling gehuldig. Hy is op 12 Junie 1977 in Tzaneen oorlede. 

2003 – Anna M Louw, skrywer (* 31 Desember 1913)

Anna M Louw was ’n skrywer en ’n wenner van die Hertzogprys.

2012 – Dawid Kruiper, tradisionele leier van die Khomani San in die Kalahari (* 1 September 1935)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/