11 JANUARIE
January 11, 2016
13 JANUARIE
January 13, 2016

Gebeure

1858 – Die skool Gimnasium word in die Paarl gestig

1879 – Die begin van die Zoeloe-oorlog

Sir Henry Bartle Frere is in 1879 as Britse hoëkommissaris in Suid-Afrika aangestel om die beleid van die konfederasie te verwesenlik (beleid om die verskillende Britse kolonies, Boererepublieke en onafhanklike Afrika-groepe onder beheer te bring, met die oog op die uitvoering van ’n beleid van ekonomiese ontwikkeling).

Bartle Frere het die selfstandige Zoeloe-koninkryk gesien as ’n bedreiging vir hierdie beleid, en het geglo, ondersteun deur Shepstone (sekretaris van Naturelle-aangeleenthede), dat die Zoeloe-bevolking hul militêre mag onder Cetshwayo laat herleef het, wat die vrede en welvaart in Suid-Afrika sou bedreig. Op 11 Desember 1878, onder die voorwendsel van enkele geringe grensoorvalle in Natal deur Cetshwayo se aanhangers, het die Zoeloes ’n ultimatum gekry dat hulle moet ontwapen en Cetshwayo sy soewereiniteit moes versaak.

Die onvermydelike inval van Zoeloeland het op 10 Januarie 1879 begin nadat die ultimatum verstryk het. In plaas daarvan om die Zoeloes te versplinter soos Shepstone voorspel het, het dit die Zoeloes laat saamstaan.

1896 – Cecil John Rhodes tree uit as eerste minister

Rhodes tree uit as eerste minister ná ’n skandaal oor die Jameson-inval in Transvaal deur sy vriend, dr. Leander Starr Jameson.

1915 – Eerste Wêreldoorlog: Suid-Afrikaanse magte val Duits-Suidwes-Afrika by Ramansdrift in

’n Paar jaar na die Anglo-Boereoorlog of die Suid-Afrikaanse Oorlog het die Europese kontinent in vyandigheid gewikkel geraak, wat uitgeloop het op die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914. Die uitbreek van hierdie oorlog het Suid-Afrika die geleentheid gebied om sy ambisies om die Duitse protektoraat van Suidwes-Afrika (nou Namibië) op te neem, uitgeleef. Met hierdie wêreldontwikkeling het die Suid-Afrikaanse regering onder leiding van generaal Louis Botha ’n aanbod aan Brittanje gegee om Suidwes-Afrika binne te val. Na die Britse toegewing het Suid-Afrikaanse magte die Duitse protektoraat by Ramansdrift binnegeval. Alhoewel Brittanje tot die aanbod toegetree het, het die plan die pad byster geraak, omdat daar onder die Afrikanergemeenskap simpatie was teenoor die Duitse saak.

1915 – Afrikanerrebellie: Helpmekaarvereniging in Transvaal gestig

Op 12 Januarie 1915 word ’n Helpmekaarvereniging in Transvaal gestig. Hieroor skryf Marthinus van Bart in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 soos volg:

“Ook in die suidelike distrikte van Transvaal rondom Lichtenburg, setel van wyle generaal Koos de la Rey, is aansienlike skade deur die Rebellie veroorsaak, en ook daar is groot eise teen Rebelle ingestel. Op 12 Januarie 1915 is ’n Transvaalse kongres in Pretoria gehou en ’n Helpmekaarvereniging gestig. Lichtenburg wou aanvanklik nie aansluit nie, maar die ander distrikte het saamgestaan, en hul skade- en boeteskuld op £50 000 gekonsolideer. Nadat die Helpmekaarvereniging met die Transvaalse regering onderhandel het om die boetes te verminder en met skuldeisers onderhandel is om die skuld af te bring na £29 200, het Lichtenburg ook lid geword en is sy skuld daarby ingesluit.”

1960 – Adv. CR Swart word aangestel as die laaste Goewerneur-generaal van Suid-Afrika

 

Geboortes

1843 – Geerhard Jacob Theodor Beelaerts van Blokland, medestigter van die Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatshappij en kampvegter vir die Boererepublieke († 14 Maart 1897)

Gerhard Jacob Theodoor Beelaerts van Blokland gebore op 12 Januarie 1843 het hom vanaf 1881 vir die saak van die Transvaalse Boere beywer by sy vriende in Nederland, Engeland en Amerika. Hy was medestigter van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging, met die doel om belangstelling in en hulp vir die Boererepublieke wakker te hou.

1865 – Johannes Francois Elias (Jan FE) Celliers, Afrikaanse skrywer, dramaturg, digter en taalstryder († 1 Junie 1940)

Jan FE Celliers was ‘n bekende Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy is op hierdie dag in 1865 gebore. Hy lê sy Landmetereksamen in Nederland af maar word later ‘n amptenaar in die onderwysdepartement van die ZAR en in 1894 staatsbibliotekaris in Pretoria. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog sluit hy hom by die kommando’s aan, en in 1902 vertrek hy na Europa waar hy sy beroemde gedig Die Vlakte skryf. In 1907 keer hy na Suid-Afrika terug en werk by die Departement van Binnelandse Sake in Transvaal. In 1909 word hy ‘n buitengewone professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch aangebied. Baie van sy verse weerspieël sy huislike geaardheid en sy liefde vir kinders. Behalwe sy digterlike arbeid werk hy ook mee tot die stigting van Die Brandwag. Hy was ‘n volksdigter, “een wat in woorde vaslê wat in die hart van die nasie omgaan” (Preller). Hy vestig hom na sy aftrede aanvanklik in Kaapstad maar later op Harrismith waar hy op 1 Junie 1940 oorlede is.

1909 – Paul Bothma, omroeper

Paul Bothma is een van die veterane van die Afrikaanse Radiodiens. Na sy opleiding as onderwyser aan die PU vir CHO, het hy hom in 1940 by die SAUK as omroeper aangesluit. Hy het ook provinsiale rugby gespeel toe hy Wes-Transvaal en Transvaal verteenwoordig het. As radioman was hy verantwoordelik vir ’n reeks besprekingsprogramme oor Die toekoms van die Afrikanervolk, Vir die jagter en ’n reeks hoorbeelde oor die destydse Kongo en Oos-Afrika, getiteld Kampvure langs die ewenaar. As baanbreker sportkommentator het hy die heel eerste jukskei-uitsending gedoen en in 1950-51 die toer van die Springbok-rugbyspan deur Brittanje as kommentator meegemaak.

1916 – Pieter Willem (PW) Botha, politikus († 31 Oktober 2006)

Pieter Willem Botha, beter bekend as PW en ook as Die Groot Krokodil, was ’n lid van die ou Suid-Afrikaanse Nasionale Party. Hy was van 1966 tot 1978 die Minister van Verdediging, van 1978 tot 1984 Eerste Minister en van 1984 tot 1989 die Staatspresident van Suid-Afrika. 

 

Sterftes

1666 – Ds. Joan van Arckel, eerste dominee in NGK (* 1640)

Joan van Arckel is in 1640 op Den Briel in Holland gebore. Hy kom op 17 Augustus 1665 met die skip Niew Middelburg in die Kaap aan. Hier word hy die eerste vaste predikant. Op Sondag 23 Augustus hou hy twee dienste in die saal van die Fort de Goede Hoop. Hy stig die eerste gemeente aan die Kaap en kry as ouderling Abraham Schut en as diaken Jan Ryniersz. Die eerste kerkboeke wat in sy mooi handskrif geskryf is, bestaan nog. Die eerste Nagmaal onder leiding van ’n vaste predikant vind plaas op 14 September 1665. Die jong predikant moet ’n besondere indruk gemaak het, want met die hoeksteenlegging van die Kasteel op 2 Januarie 1666, het kommandeur Zacharias Wagenaer die eerste hoeksteen gelê en Van Arckel die tweede. Kort daarna word hy ernstig siek en kom hy te sterwe op jeugdige ouderdom. Hy was dus net vir 4½ maande predikant aan die Kaap.

1927 – Louwrens Penning

Die Nederlandse skrywer Louwrens Penning se simpatieke en realistiese uitbeelding van die Boerevolk se vryheidstryd in talle boeke het grootliks bygedra tot die vriendskap wat duisende Nederlanders vir Suid-Afrika gevoel het. Hy is op 2 Desember 1854 gebore. Sy werke is omtrent almal in Afrikaans vertaal en het die jonger nasate van die Boerevolk van 1900 se jare eweneens sterk besiel.

1977 – Prof. Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger, literator en leksikograaf († 16 Oktober 1896)

Hierdie beminde Afrikaanse literator, Matthys Stefanus Benjamin Kritzinger, is op 16 Oktober 1896 in die distrik Carolina gebore. Hy doseer van 1920 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy 1936 tot 1961 professor in die Afrikaanse letterkunde was. Naas sy medewerking aan talle woordeboeke en ander wat hy self saamstel, is sy belangrikste werke ’n letterkundige atlas en letterkundige opstelle, bv. Oor skrywers en boeke (1932), Letterkundige kragte (1932) en Studies en kritieke (1934). 

1988 – Cornelius Petrus (Connie) Mulder, politikus (* 5 Junie 1925)

Dr. Connie Mulder was ’n bekende kabinetsminister en politikus wie se naam met die Inligtingskandaal van die 1970’s verbind word; twee van sy seuns. Drr. Pieter en Corné Mulder, het in hul pa se voetspore gevolg en ook tot die politiek toegetree.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org