11 APRIL
November 1, 2016
13 APRIL
November 1, 2016

Gebeure

1838 – Die eerste burgers van die “Vlugkommando” kom by die laer aan

1877 – Britse anneksasie van die ZAR

Die meeste Transvaalse Afrikaners het die anneksasie as ’n onregverdige daad beskou, maar was om verskeie redes nie by magte om dit gewapenderwys teen te gaan nie. Gevolglik het die regering van die Republiek skriftelik teen die anneksasie geprotesteer en ’n afvaardiging in hierdie verband na Londen gestuur. In afwagting van die uitslag het die burgers hulle rustig gedra. So het ’n wanindruk ontstaan dat die Transvalers in die anneksasie berus het. Dit het bygedra tot die besluit van die Britse regering om die ware begeerte van die Transvalers te verontagsaam. Hierdie begeerte is beliggaam in ’n memorie aan die Britse koningin, waarin uit ’n moontlike 8000 burgers 6591 hulle teen en 587 hulle ten gunste van Britse gesag uitgespreek het. Ofskoon sommige burgers na die wapen wou gryp, het die leiers daarop aangedring dat in ooreenstemming met die protes eers alle vreedsame metodes aangewend moet word om die vryheid te herwin. Nog ’n deputasie na Londen, onderhandelings met verskeie Britse amptenare in Suid-Afrika en ’n beroep op premier Gladstone was egter tevergeefs. Intussen het die volksbyeenkomste wat gehou is om sake te bespreek, ’n innige saamhorigheidsgevoel en ’n vurige nasionalisme opgewek wat dwarsdeur Suid-Afrika weerklank gevind het. Indien daar enige hoop was om die Transvalers met Britse gesag te versoen, is dit verydel deur swak administrasie. Uiteindelik het die burgers op 13 Desember 1880 hulle eie regering op Paardekraal herstel. Van Britse kant is dit nie erken nie, en die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880–1881 het gevolg. Die anneksasie en wat daarop gevolg het, het meer as enigiets anders daartoe bygedra om Afrikanernasionalisme in SA te stimuleer.

1901 – Anglo-Boereoorlog

Emily Hobhouse is getuie van die opruim van Warrenton en die versending van mense in oop steenkooltrokke. Die mense kom die volgende dag in Kimberley aan, waar slegs vyf en twintig tente vir 240 mense beskikbaar is.

1926 – Eerste telefoongesprek tussen mense in Kaapstad en Johannesburg

1932 – Hoeksteen van Groote Schuur-hospitaal word gelê

JH Conradie, Administrateur van die Kaapprovinsie, lê hoeksteen van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.

Geboortes

1856 – Reinhold Gregorowski, regter en staatsprokureur († 19 November 1922)

 

Sterftes

1947 – C Louis Leipoldt, joernalis, skrywer en digter (* 28 Desember 1880)

Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Hy was sowel digter as skrywer, joernalis en geneesheer. Afgesien van sy boek, Kos vir die Kenner het hy verskeie literêre werke in Afrikaans en Engels geskryf. Onder die bekendstes is Oom Gert vertel en ander gedigte, Dingaansdag, Die Bergtragedie en Skoonheidstroos. Vir laasgenoemde werk is hy bekroon met die Hertzogprys vir poësie in 1934. In 1944 is die Hertzogprys vir drama aan hom toegeken vir sy werke Die Heks en Die laaste aand. Saam met Jan FE Celliers en Totius vorm hy die bekende Driemanskap tydens die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Leipoldt is op 12 April 1947 oorlede.

1969 – Prof. Daniël Francois (DF) Malherbe, digter en dramaturg (* 28 Mei 1881)

Daniel Francois Malherbe is in Daljosafat, naby Paarl, gebore. Hy het grootgeword in ’n sfeer wat gedruk was in liefde vir land, volk en taal. Sy vader, PJ Malherbe, was ’n wynboer wat op 14 Augustus 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners was. In die Gedenkschool der Hugenoten, waar hy saam met AG Visser en Totius gestudeer het, is sterk nadruk gelê op vaderlandsgeskiedenis en Bybelkunde. 

Die pleganker van sy lewe en sy werke was godsdienssin en volksliefde. Nadat hy die BA-graad aan die Victoria College op Stellenbosch verwerf het, is hy sonder enige voorkennis van Duits na Duitsland, waar hy na ’n aantal jare die DLitt-graad magna cum laude aan die Universiteit van Freiburg behaal het.

Terug in sy vaderland, was hy eers dosent aan die Hugenote-Seminarie op Wellington en sedert die begin van 1907 skoolhoof op Carnarvon. ’n Tyd lank het hy lesings aan sy Alma Mater op Stellenbosch behartig, totdat hy op versoek van genl. JBM Hertzog op 7 Februarie 1910 as professor in moderne tale met lesings in Frans en Duits, aan die Grey-Universiteitskollege begin het. Bloemfontein sou sy tuiste wees tot by sy rustige heengaan op 12 April 1969. D.F. Malherbe was ’n dinamiese mens, ’n vurige vaderlander, ’n meevoerende spreker en ’n besielende dosent.

Na sy terugkeer in Suid-Afrika het hy hom met hooglopende geesdrif in die stryd om die erkenning van Afrikaans gewerp. Sy historiese lesing oor die onderwerp “Is Afrikaans ’n Dialek?” op 12 Oktober 1906 in die Goodnowsaal in Wellington het groot indruk gemaak en orals beroering gebring. Hy het ‘n leidende aandeel gehad in die stigting van die Afrikaanse taalvereniging in Kaapstad, en in Bloemfontein het hy onverskrokke geveg vir die regte van sy moedertaal. 

Sy eerste letterkundige werk was ’n digbundel Karoo Blommetjies (1909), wat hy geskryf het terwyl hy skoolhoof op Carnarvon was. Dit is opvallend dat sy laaste werk, Agterland, ook ’n digbundel was, geskryf toe hy al diep in die tagtig was. Hoewel by uitstek ’n prosaskrywer, word sy verse gereeld in bloemlesings opgeneem, is sy toneelstukke en een bedrywe nie sonder betekenis nie en het hy ook enkele verdienstelike kortverhale geskryf. Voorts het hy werke van Shakespeare en Schiller vertaal en af en toe resensies geskryf. As professor het Malherbe wye bekendheid verwerf. 
Sy prosa het ’n sterk ritmiese inslag, is oorwegend liries en beeldend, met ruisende en sonore volsinne. Hy is by uitstek simbolies en romanties by wie die klemtoon altyd op die kernidee val. Sy pragtige prosa wat bladsye en bladsye bevat wat niks anders is as ’n uitbundige loflied oor die adel van die arbeid nie, word gekenmerk deur meeslepende sfeer uitdrukking en gevoelige natuur uitbeelding.

Sy eerste roman, Vergeet Nie, was in baie opsigte ‘n verrassing. Meteens het daar vernuwing gekom wat taal, styl en struktuur betref. Met sy Bybelromans en sy Trekker trilogie het hy aandag getrek en sy gewildste romans is waarskynlik Hans-die Skipper, Die bergstroom ruis en Die hart van Moab. Die kritiek dat sy styl te oorlaai en to ornamenteel is, is egter nie sonder regverdiging nie. 

In 1918 is hy aangestel as professor in Afrikaans aan die Grey-Universiteitskollege, waar hy ook van 1929 tot 1934 rektor was. Hy het ’n belangrike aandeel in die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie gehad en hy het dekades lank opgetree as redakteur van hierdie liggaam se Tydskrif vir Wetenskap en Kuns. 

Van die Akademie het hy drie keer die Hertzogprys vir sy romans ontvang, die Stals-prys vir sy taalwetenskaplike werk en ’n erepenning vir sy waardevolle bydrae as taaladviseur vir die Bybelvertaling in Afrikaans. Van die FAK het hy die Erepenning vir Volksdiens vir sy kultuur werk ontvang en vyf Suid-Afrikaanse universiteite het hom met ’n eredoktorsgraad vereer.

1988 – Alan Stewart Patton, skrywer en politikus (* 11 Januarie 1903)

Alan Stewart Paton, die skrywer van Cry, the beloved country (1948), is gebore in Pietermaritzburg. Hy is ook stigter en later President van die Liberale Party in Suid-Afrika.

1998 – Laura Rautenbach, beeldhouer (* 29 Februarie 1932)

 

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/