10 OKTOBER
October 10, 2015
12 OKTOBER
October 12, 2015

Gebeure

1663 – Jonas de la Guerre verlaat die Kaap in ’n ekspedisie na die noorde

Op hierdie dag het sersant Jonas de la Guerre die Kaap verlaat om noordwaarts te gaan op soek na die “groot rivier wat van oos na wes gevloei het” en om “handelsgeleenthede te ondersoek”. Hy het opgetree volgens die instruksies van Zacharias Wagenaer, bevelvoerder aan die Kaap. De la Guerre het hierdie ekspedisie onderneem saam met Pieter van Meerhof as tweede in bevel, 14 Europese vrywilligers en drie “Hottentotte”. Hulle trek saam met ’n ossewa na die Olifantsrivier, waar hulle die wa agterlaat en met pakosse voortgaan. Daar word aanvaar dat De la Guerre waarskynlik binne agt tot tien dae se reis na die “groot rivier”, naamlik die Oranjerivier, gevorder het, maar weens die harde terrein gedwing is om terug te keer. Toe hulle na hul verlate waens terugkeer, het hulle gevind dat hul wa vernietig is en dat hul kruit gesteel is, blykbaar deur die Namakwas. Die groep is toe gedwing om hul osse te eet en terug te loop of die dood teë te gaan. Hulle het uiteindelik op 22 Januarie 1664 na die Kaap teruggekeer, in ’n skynbaar “betreurenswaardige toestand”.

1886 – Standard Bank maak deure oop aan die Witwatersrand

Standard Bank is in 1862 in Port Elizabeth gestig, toe bekend as The Standard Bank of British South Africa. Die bank het in 1886 in ’n tent in Johannesburg, toe bekend as Ferreira’s Camp, begin sake doen toe dit die eerste bank geword het om ’n tak op die Witwatersrandse goudvelde te open. Die tweede tak in Johannesburg is op 1 November 1901 in Eloffstraat geopen. In 1959 is die hoofkantoor van Pretoria na Johannesburg verskuif en in 1970 word ’n gesogte nuwe hoofkantoorgebou in Foxstraat 78 betrek. Die bank het gegroei tot in 17 Afrika-lande en 16 lande regoor Suidoos-Asië, Latyns-Amerika en Oos-Europa. Die bank spog nou met ’n multimiljoen Standard Bank Centre-hoofkantoor in Simmondsstraat, Johannesburg.

1899 – Anglo-Boereoorlog: Uitbreek van die oorlog

Twee politieke strewe, Britse Imperialisme en Afrikanernasionalisme, het teen die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika gebots. Die Britse Imperialisme het die vereniging van die hele Suid-Afrika onder Britse gesag nagestreef. Die Afrikanernasionalisme het na die uitbouing van hul Republieke gestreef en wou nie deel van ’n verenigde Suid-Afrika onder Britse gesag wees nie. ’n Nuwe fase in die stryd breek in 1886 aan as duisende Britse onderdane na die goudvelde aan die Rand stroom. Die Transvalers ag hulle bedreig en vereis ’n verblyf van 14 jaar om burgerskap te verkry. Die Britse onderdane, nooit van plan om van hulle burgerskap afstand te doen nie, eis seggenskap in die Republiek op grond daarvan dat hulle die meeste tot sy inkomste bygedra het. In 1892 stig hulle die Transvaal National Union.

Die stryd loop uit op die sensasiewekkende Jameson-inval, wat in die laaste dae van 1895 plaasvind en misluk. Die ontevredenheid van die Uitlanders het in Brittanje weerklank gevind, en Chamberlain, Britse Minister van Kolonies, meen dat die Britse wêreldposisie alleen gehandhaaf kan word deur die kolonies nouer aan die moederland te bind. Alleen wanneer die hele Suid-Afrika onder Britse gesag staan sal die posisie daar volkome veilig wees. Sir Alfred Milner, wat net soos Chamberlain oor die toestand gedink het, word goewerneur van die Kaap en Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika. Milner, in Mei 1897 gestuur, beskuldig in Maart 1898 die ZAR daarvan dat dit geen politieke regte wil verleen aan Britse onderdane nie. Die toestand raak gespanne. In Desember 1898 is ’n Britse onderdaan, Edgar, deur ’n konstabel in Johannesburg uit noodweer doodgeskiet. Die South African League, ’n politieke organisasie van die Britse Uitlanders, lê ’n versoekskrif aan koningin Victoria voor. Milner reageer deur daarop aan te dring dat die Britse regering hom moet inmeng omdat Transvaal die Britse posisie in Suid-Afrika ondermyn.Pres. MT Steyn, wat oorlog gevrees het, nooi pres. SJP Kruger en Milner om die geskil in Bloemfontein te kom bespreek. Dit vind wel plaas. Op 31 Mei 1899 verklaar pres. Kruger hom bereid om stemreg ná ’n verblyf van sewe jaar aan Uitlanders te verleen. Milner dring aan op ’n tydperk van vyf jaar, en die onderhandelings word beëindig. Milner versoek die onmiddellike versterking van die Britse garnisoen in Suid-Afrika. Etlike duisende soldate is hierop na Suid-Afrika gestuur. Hulle is vlak by die grense van die twee Republieke saamgetrek, naamlik by Mafeking en Kimberley, in die Kaapkolonie, en by Ladysmith en Dundee, in Natal. Verdere onderhandelinge oor die stemregkwessie is gevoer, en Chamberlain se eise het die ZAR se onafhanklikheid duidelik in gevaar gestel, sodat Burgerkommando’s teen die einde van September 1899 na die grense gestuur is. Op 9 Oktober 1899 is ’n ultimatum aan die Britse regering gerig om hulle troepe binne 48 uur van die grense terug te trek. Die eis is van die hand gewys en op 11 Oktober het die oorlog in Suid-Afrika begin.

1962 – Die organisatoriese kerkvereniging van die NG Kerk

Tot 1862 het afgevaardigdes van gemeentes buite die Kaapkolonie gereeld sitting geneem in die Kaapse Sinode. In daardie jaar het die Hooggeregshof in die bekende Loedolff-saak beslis dat die kerkverband van die Kaapse Kerk nie verder strek as die koloniale grense nie. Die gevolg was dat die een sinodale verband daarmee verbreek is. In die noordelike state het die NG Kerk spoedig drie ander sinodes georganiseer: Vrystaat (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866). Die NG Kerk sou nie in hierdie gedwonge kerkregtelike skeiding berus nie. ’n Liggaam soos die Federale Raad van NG Kerke gestig (1905) sou veel doen om die begeerte na ’n herstelde kerkverband lewend te hou en het ook daadwerklik in die rigting gewerk. Met behulp van ’n private wetsontwerp (Wet nr. 22 van 1961), is die gronde waarop die hofbeslissing berus deur die toenmalige Unie-Parlement ongedaan gemaak. In Oktober 1962 konstitueer die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk en vind ons die herstel van die algemene sinodale kerkverband. Vir die Afrikaner was hierdie groter kerklike eenheid ’n dag van vreugde en dankbaarheid.

1999 – Vryhandel tussen SA en Europese Unie

’n Ooreenkoms is in Pretoria onderteken waardeur vryhandel tussen Suid-Afrika en die  Europese Unie toegelaat word.

 

Geboortes

1910 – Danie Craven, Suid-Afrikaanse rugby-administrateur en 19de Springbokkaptein († 4 Januarie 1993)

Dr. Danie Craven was van 1931 tot 1938 ’n Springbok-rugbyspeler en -kaptein, en het in 1949 tot 1952 die span afgerig. In 1956 is hy tot president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad verkies; en hy het verskeie kere as voorsitter opgetree. Sy noue bande met internasionale rugbyadministrateurs het verseker dat Suid-Afrika, te midde van sanksies en boikotte, steeds aan internasionale rugby kon deelneem, maar van 1984 af het geen amptelike internasionale toere plaasgevind nie. In 1988 het sy samesprekings met die ANC gelei tot die totstandkoming van die verenigde Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie, waarvan hy in 1992 die eerste president geword het. Dr. Danie Craven is op 4 Januarie 1993 in Stellenbosch oorlede.

1928 – Zacharias Johannes (Zach) de Beer, politikus († 27 Mei 1999)

Zach de Beer was leier van die Progressiewe Federale Party en Demokratiese Party. Hy ontvang sy skoolopleiding aan die Diocesan College School (Biskoppe) in Rondebosch, Kaapstad waarna hy hom as dokter aan die Universiteit van Kaapstad bekwaam. Hy begin sy loopbaan as huisarts in die Groote Schuur-hospitaal in 1952 en is in privaat praktyk van 1953 tot 1959. Hy is op 29 Maart 1953 met Maureen, dogter van die VP-leier, Koos Strauss, getroud. ’n Seun en ’n dogter is uit dié huwelik gebore.

 

Sterftes

1959 – Oswald Pirow, regsgeleerde en politikus (* 14 Augustus 1890)

Oswald Pirow was ’n Suid-Afrikaanse prokureur en regse politikus, wat die amp beklee het as minister van Justisie, en later ook minister van verdediging.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/