10 MAART
November 1, 2016
12 MAART
November 1, 2016

Gebeure

1825 – Somerset-Oos gestig

1910 – Ontwikkeling van die Taalbond

Die pogings wat gedurende die eerste dekade van hierdie eeu aangewend is om Afrikaans te handhaaf en verder uit te bou, word duidelik weerspieël in die jaarverslag van die Taalbond se sekretaris wat gepubliseer is in De Zuid-Afrikaan van 11 Maart 1910. In die jaarverslag is besondere hulde gebring aan die nagedagtenis van JH Hofmeyr wat gedurende sy lewe van groot betekenis van die Taalbond was. Om dit in permanente herinnering te roep, is besluit om ’n bydrae tot die “Hofmeyr Gedenkteken Fonds” te maak, terwyl die vier eerste pryse van die vier Taalbondeksamens mettertyd ook as die Onze Jan Taalbondpryse bekend sou staan. Dit is opvallend hoe die groeiende taalgevoel onder Afrikaners ook uitgekristalliseer het in groter deelname in die aktiwiteit van die Taalbond. In 1908 het 3300 kandidate ingeskryf vir die Taalbondeksamens – in 1909 het dit tot 4000 gestyg. Gedurende die voorafgaande sewe jaar het die getal kandidate byna verviervoudig – ’n teken van die lewenskragtigheid van die Tweede Taalbeweging. Hierdie groei en lewenskragtigheid het verder ook tot uiting gekom in die stigting van die ZA Akademie. Die Taalbond was verheug oor die totstandkoming van die Akademie en was bereid om met die Akademie saam te werk – selfs daarin op te gaan as dit nodig was. Ten einde handhawing van die taalregte van die Afrikaner te bestendig en uit te brei, is die aandag ook toegespits op die onderwys. Die Opvoedings-Gazette is aan Afrikaners gestuur, terwyl geskikte persone benoem is “om voor die belangen van onze taal op onderwijsgebied op te treden” in die regeringsopvoedingskommissie wat kort tevore aangestel is. 

 

Geboortes

1843 – Casparus Petrus (CP) Hoogenhout, taalstryder en een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners († 13 Januarie 1922)

Casper Peter Hoogenhout is in Amsterdam, Holland, gebore en op 13 Januarie 1922 naby Wellington oorlede. In 1860 het hy in Kaapstad aan wal gestap. Onder leiding van dr. Arnold Pannevis bekwaam hy hom as onderwyser, en meer as 40 jaar lank hou hy skool op Groenberg naby Wellington. Hy was van die begin van die Afrikaanse Beweging ’n sterk voorstander en voorvegter vir Afrikaans; op 14 Augustus 1875 was hy een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy was een van die belangrikste Afrikaanse prosaskrywer voor 1900. Die tweede Afrikaanse prosaboek is deur hom geskrywe: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huisouwens (1873), en die eerste Afrikaanse novelle: Catharina, die Dogter van die Advokaat (1879). Van al die digters vóór 1900 het hy die meeste gedigte in Afrikaans geskrywe, en sommige van hulle is juweeltjies van volkskuns.

1919 – Elise Muller, skrywer en uitgewer († 5 November 1985)

 

Sterftes

1827 – Jan Christoffel Berrangé, Kaapse predikant en eerste moderator van die Nederduits Gereformeerde Sinode (* 13 Augustus 1769)

1926 – Nicolaas Pieter Johannes (Siener) van Rensburg, toekomsvoorspeller (* 30 Augustus 1862)

1979 – Abraham Petrus Smit, predikant in die NG Kerk, geskiedskrywer en derde argivaris van die Kaapse Kerk (* 12 Oktober 1909)

2004 – Gabriel Cornelis de Jongh, bekende landskapskilder (* 6 April 1913)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/