10 DESEMBER
December 10, 2016
12 DESEMBER
December 12, 2016

Gebeure

1899 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Magersfontein

Die Anglo-Boereoorlog se rumoer naby Stormberg-stasie ten noorde van Molteno, het skaars bedaar toe een van die grootste veldslae in ons geskiedenis by Magersfontein plaasgevind het. Deur sommige historici word dit as een van die merkwaardigste slae in die wêreldgeskiedenis beskou. Die knou wat die Boere die Britte, hoofsaaklik Skotte, hier toegedien het, het die Britse Ryk en die hele Skotland in rou gedompel. Die eienaardigste aspek van die slag is dat die opperbrein agter die hele operasie, genl. Koos de la Rey, nie teenwoordig was nie. Hy was op Jacobsdal by sy seun wat dodelik gewond was. Die bevelvoerder was dus genl. Piet Cronjé. Hy het hom goed van sy taak gekwyt omdat hy aan De la Rey gehoor gegee het.

Die strategie wat gevolg is was iets heel nuuts, revolusionêr eintlik, want plaas van op die koppies te wees soos die gewoonte was, het die Boere onder vóór die koppies verskans, en het die Britte na ’n hewige bombardering van die koppies, reg in die bekke van die Boere se Mausers ingemarsjeer en is honderde afgemaai voordat hulle besef het wat aan die gang is. Die Boere se loopgrawe was onlangs nog daar duidelik sigbaar. Magersfontein het die Boerevolk se harte laat swel van trots; indien die Britte oorlog gesoek het, het hulle dit gekry, en baie meer as wat hulle ooit kon verwag het. Magersfontein as simbool van die uitoorlê van ’n vyand op die vernuftigste wyse, is een van die grootste oorwinnings in ons geskiedenis.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Lancasterheuwel, Vryheid, wat vir 2 dae sou duur

1900 – Die Orde van St. Karel aan pres. Kruger toegeken

Op hierdie dag is die Orde van St. Karel deur Albert I, toenmalige Prins van Monaco, aan pres. SJP Kruger op sy besoek aan Europa toegeken. Die Ster en Ridderkruis van St. Karel van Monaco is op 15 Maart 1858 deur prins Karel III ingestel. Dit kan aan eie burgers en aan buitelanders toegeken word vir dienste aan die prins en die staat Monaco gelewer. Die leuse daarvan is: Met die hulp van God.

1945 – Verskyning van Standpunte

Die eerste nommer van Standpunte, orgaan van die digters van Dertig en Veertig en steeds een van die belangrikste Afrikaanse tydskrifte “vir literatuur en kuns”, verskyn op hierdie dag met die leuse: “Kwaliteit en intellektuele peil”.

1953 – Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB) is deur poskantooramptenare gestig

’n Groepie Afrikaanssprekende posamptenare het op hierdie dag in Pretoria byeengekom om ‘n organisasie te stig wat hom sou beywer vir die uitbou van die Afrikanerkultuur onder posamptenare. Weldrae is die gedagte verder uitgedra en is die een na die ander tak gestig sodat feitlik alle poskantore mettertyd by ’n plaaslike tak betrek was. Die bond het berus op ’n Afrikaans-Christelike grondslag en hom beywer veral vir die gebruik van suiwer Afrikaans binne sowel as buite die poswese, die bevordering van die Afrikaanse kuns en kultuur, en om ’n goeie gees van samehorigheid onder sy lede aan te wakker. Die ATKB het nie alleen getrou aan sy doelstellings gebly nie, maar ook deur sy wye verskeidenheid van aktiwiteite diep spore op die Afrikaanse kultuurterrein getrap. ’n Besondere hoogtepunt was ongetwyfeld sy noue verbintenis met die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument, waarvan die ATKB die geldinsameling geadministreer, die sekretariaat van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee behartig en op landwye basis plaaslike taalfeeste gereël het. Vanaf 1978 het die ATKB ’n koorkompetisie vir hoërskoolkore met ’n eindkonsert genaamd APPLOUS, gereël.

 

Geboortes

Geen

 

Sterftes

1920 – Olive Emilie Albertina Schreiner, skrywer, pasifis, feminis en intellektuele (* 24 Maart 1855)

Olive Schreiner is by die sendingstasie Wittebergen, Herschel, gebore. Hierdie mooi en briljante vrou en beroemde skryfster het in haar beste politieke pamflet, An English South African’s view of the situation, aan die vooraand van die Anglo-Boereoorlog elke Britse soldaat gewaarsku: “Hier wag geen louere vir jou nie,” en aan Brittanje profeties dat “die uur van uiterlike welslae die uur van onherroeplike mislukking kan wees.” Oorlede op 11 Desember 1920, in Wynberg, Kaap.

1981 – Izak David (ID) du Plessis, skrywer en digter (* 25 Junie 1900)

Izak David du Plessis is op Philipstown in die Karoo gebore. Die natuur van hierdie streek het ’n diep indruk op sy gemoed gemaak. Telkens kan ’n mens die heimwee daarna hoor opklink in sy poësie. Sy vader was eers onderwyser, toe prokureur op Steynsburg en daarna regsadviseur van die Spoorweë in Kaapstad. ID du Plessis het sy eerste onderrig vanaf 1905 op Steynsburg ontvang. Van 1910 tot 1917 is hy na die Boys’ High School in Wynberg. Hy het nie Afrikaans op skool geleer nie. Hy het aanvanklik Engelse prosa geskryf en sy eerste letterkundige besieling veral van prof. John Clarke ontvang. Hy het van die begin af sterk onder die invloed van die Engelse letterkunde en kultuur gestaan. Du Plessis het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Daarna is hy onderwyser en joernalis en lektor aan die Tegniese Kollege in Kaapstad. Later is hy lektor in Nederlands en Afrikaans aan sy alma mater. Sedert 1951 was hy ’n tyd lank kommissaris vir Kleurlingsake. Hy het heelwat gereis: in Europa, in Indonesië en na Suid-Amerika. Hy het, behalwe poësie, ook sketse en verhale geskryf, ligte ontspanningslektuur (sportverhale) en studies oor die kultuur van die Kaapse Maleier. Hy het ’n groot aantal digbundels geskrywe, onder meer: Lied van Ali en ander gedigte (1931); In die Sabie (1932); Land van ons Vadere (1945); Die Sanger, die Bose en die Lied; ’n Volksvers (1955). In 1937 verower hy die Hertzogprys vir poësie. ID du Plessis was ’n oorgangsfiguur na die geslag van Dertig. Hy was dit veral deur die eerlike biegpoësie van sy bundel Stryd (1935). Na Stryd het hy onder die invloed van die jongeres gekom en het hy daarin geslaag om sy vers te verfyn.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/