9 SEPTEMBER
September 9, 2015
11 SEPTEMBER
September 11, 2015

Gebeure

1901 – Anglo-Boereoorlog: Jongste Boer-kommandant en burgers sneuwel

Die jongste Boer-kommandant, die 19-jarige Piet van der Merwe en drie-en-twintig burgers word in aksie in Driefontein, Kaapkolonie, doodgemaak toe hulle deur sowat 700 troepe onder kol. Crabbe aangeval word. Slegs drie burgers ontsnap.

1914 – SA besluit om deel te neem aan Eerste Wêreldoorlog

Die SA parlement besluit met 91 stemme teen twaalf om deel te neem aan die Eerste Wêreldoorlog.

1948 – Aankoms van Duitse oorlogswesies in Pretoria

Drie en tagtig na-oorlogse Duitse wesies het op 8 September 1948 in Tafelbaai aangekom en op hierdie dag, in Pretoria. Die gedagte om na 1945 kinders uit Duitsland vir aanneming na Suid-Afrika te bring, het by mev. Nellie Liebenberg ontstaan. Dr. TEW Schumann het die voorstel verder gevoer. Ander betrokkenes deur die jare was die sekretaris. Schalk Botha, dr. Chris Neethling, mnr. JC Combrink, dr. JC Kriek en dr. Vera Bührmann. In Duitsland was dit Wilhelm Käber. Die bedoeling was om geld in te samel en dan soveel en so gou as moontlik Duitse wesies na Suid-Afrika te bring, ten einde die ellende in Duitsland te verlig en om die Afrikanervolk se getalle te vermeerder. Die eerste vergadering het op 4 September 1945 plaasgevind, en hieruit is die Dietse Kinderfonds gebore. Die skema het pragtig gevorder, maar premier Jan Smuts het die plan al vertragende uiteindelik afgekeur. In September 1947 het die Kabinet dit egter toegelaat dat 100 wesies gebring word, en die Regering sou self die vervoerkoste dra. Maar daar was ongeveer 800 pleegouers en gevolglik moes streng gekeur word. Uit Duitsland self het weerstand ontstaan omdat die vernietigde land ook nog van sy kinders moes prysgee! Uit Schleswig-Holstein het 34, uit Hamburg 30, uit Niedersachsen 9 en uit Nordrhein-Westfalen 14 kinders gekom. Dit is 87 – vier het later per vliegtuig gekom en nie met die Winchester Castle gereis nie. Op 6 April 1963, dus na 15 jaar, is ’n reünie in Pretoria gehou – die kinders was in 1948 hoofsaaklik tussen drie en agt jaar oud en is slegs by Afrikanerouers geplaas. Eers op 11 November 1967 het die jongste kind mondig geword, en toe het die amptelike aanspreeklikheid van die Dietse Fonds teenoor die wesies geëindig. Van 83 aankomelinge is 62 in Pretoria en omgewing geplaas. Premier DF Malan het self ook ’n dogtertjie aangeneem. Die Duitse weeskinders het in elke opsig die Afrikanerdom pragtig verryk. Die skema was volledig die moeite werd. 

 

Geboortes

1870 – Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié, opvoedkundige en kultuurleier († 1 April 1958)

Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié was ‘n astrofisikus, orrelis, koordirigent, komponis van Afrikaanse gewyde musiek, eertydse voorsitter van die FAK en voorsitter van die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het waarskynlik die grootste enkele bydrae gelewer ter bevordering van die kerkmusiek in Suid-Afrika. Sy bydrae as vertaler, verwerker, komponis en koordirigent het gelei tot ‘n hersiening en uitbreiding van Afrikaanse liturgiese musiekbronne.

 

Sterftes

1983 – Balthasar Johannes (John) Vorster, politikus, sewende Eerste Minister van Suid-Afrika (1966–1978) en vierde Staatspresident van Suid-Afrika (1978–1979) (* 13 Desember 1915)

John Vorster het dr. HF Verwoerd met laasgenoemde se sluipmoord op 6 September 1966 opgevolg as Eerste Minister van Suid-Afrika en so die sewende Eerste Minister sedert Uniewording geword. Hy was ook ’n kort tydperk van 1978 tot 1979 die Staatspresident van Suid-Afrika.

2018 – Jannie Geldenhuys, voormalige Suid-Afrikaanse Weermaghoof (* 5 Februarie 1935)

Generaal Johannes Geldenhuys was die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag van 1985 tot 1990. Geldenhuys is op 5 Februarie 1935 op Kroonstad, Oranje-Vrystaat in die Unie van Suid-Afrika gebore. Hy sluit in 1954 by die weermag aan. Hy was as hoof van die weermag betrokke by die onderhandelinge wat in 1989 tot die einde van die Grensoorlog gelei het. In sy laaste jare het Geldenhuys aan alzheimersiekte gely. Hy is in die dae voor sy dood in die Jura Care Village-versorgingsoord in George, Wes-Kaap, Suid-Afrika, versorg, waar hy op 10 September 2018 oorlede is.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/